Carlo & Louise se strand verlowing fotosessie

Carlo en Louise se strand verlowing fotosessie was ʼn verlowing met die mooiste betekenis en simboliek.  Die paartjie het besluit op ʼn tema van reinheid, vrede en kalmte vir hulle verlowing fotosessie, waaragter soveel meer gedagte en simboliek vir hulle steek.  Die kleur pallet van die paartjie se uitrustings het ook besonders mooi ingeskakel by die verskeie natuurtonele en die tema van die strand verlowing fotosessie.

Hierdie paartjie se foto’s is vasgevang deur die talentvolle Rieg & AD photography.  Rieg & Eidie (AD) Photography, is ʼn wêreld-klas studio wat ’n boetiek-ervaring verseker vir jou troudag.  Hulle is ’n gelukkige getroude paartjie wat die meeste van hulle tyd spandeer agter die kameras, besig om liefde vas te vang.  Jou fotograaf is by jou die meeste van jou troudag, daarom is dit noodsaaklik om iemand te kies met wie jy nie net gemaklik voel nie, maar wat ook sal help om die stresvlakke te verminder.  Dit is presies wat Rieg & AD doen.  Wat ʼn beter manier om ook gemaklik te raak met jou fotograaf as ʼn verlowing fotosessie?

Buitelug fotosessies soos dié van Carlo en Louise, is ʼn perfekte voorbeeld dat die besonderse natuurskoon jou toelaat om die mooiste foto’s te neem met verskeie agtergronde en natuurlike beligting.  Hierdie paartjie het ʼn stap verder geneem en besluit om ʼn foto van hulle strand verlowing fotosessie te gebruik, ʼn mooi betekenis daarmee te koppel en dit dan te gebruik as deel van hul trou uitnodiging.

Rol gerus af en geniet meer oor hierdie paartjie se pragtige strand verlowing fotosessie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons glo Facebook en sosiale media is gif, maar dit was darem goed vir een ding, toe ons ontmoet het.  Dit was min woorde wat alles beteken het, en dit was nie ʼn week nie, toe kliek ons net.  Na ʼn paar weke se gesels, het ons uiteindelik die geleentheid gekry om mekaar in persoon te ontmoet (hy het in Eersterivier gebly en ek in Upington).  Toe ons mekaar in persoon ontmoet, het ons dadelik vir mekaar se sjarme geval en van daar af was dit net vuurwerke.  So het ons dit probeer maak werk en die eerste keer se kuier in Upington was perfek.  En met die woorde: “Ek wil my beste vriendin my meisie en eendag my vrou maak”, het ons reis as ʼn paartjie begin.

Na ʼn jaar van langafstand (ʼn baie ver langafstand), het ons ʼn nuwe hoofstuk van naby wees aangedurf. Ook na baie huil, baie ry, baie bid en tog hier en daar grappies en glimlag van oor-tot-oor en hals-oor-kop verlief raak. Carlo vra toe die groot vraag na ʼn jaar en 3 maande se saamwees.

Die groot vraag:


Saterdag, 2 Januarie 2021, word ek wakker met ʼn snaakse gevoel binne my.  Carlo is al vroegoggend wakker en sit buite met ʼn koppie koffie in die hand.  Met almal wat heeldag draaie om my loop, en ʼn skielike nael-afspraak wat opkom, vermoed ek dat daar vuilspel aan die gang is.  Maar ʼn mens wil niks sê as ʼn mens nie 100% seker is nie; wat ek natuurlik nie was nie.  Met ʼn aandklokreël van 21:00 kan mens in elk geval nêrens gaan nie.

Laatmiddag trek ons almal vir ons mooi aan om foto’s by die ligtoring in St. Francis te gaan neem.  Ons het laat by die huis weggekom vir hierdie fotosessie en was vreeslik gejaagd.  Die idee was dat wanneer ons terugkom, ons sommer gou gaan uiteet. Omdat ons so lief is vir eet, wou ek sommer die fotonemery los om te gaan eet. Ons het ongeag toe maar voort gegaan met die fotosessie.  Toe ek daar kom en besef dat Carlo se “hout gaan koop” eintlik ʼn leuen was, het ek weer so effens snuf in die neus gekry.  Ons durf toe die baie trappe aan om bo by die ligtoring uit te kom om dan die foto’s te gaan neem; met my tweelingsussie en ander vriendinne wat my vorentoe druk toe ons bo kom.

Daar, met die bietjie vermoede in my, bo op ʼn ligtoring met ʼn wind wat Suid-Afrika se krag sal opwek, ʼn skare binne die ligtoring, vreemdelinge onder op die rotse en ʼn fotograaf in die agtergrond vir ons ‘fotosessie’.  Carlo het op sy een knie met die ring in die een hand en trane in sy oë, my nader geroep om vir my te vra of ek sy vrou wou raak.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Carlo oor Louise:

Die feit dat sy ʼn glimlag op my en enige iemand rondom haar se gesig kan sit.

Louise oor Carlo:

Sy saggeaardheid en omgee-hart. Die feit dat hy hardwerkend is is net ʼn bonus.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons is al 8 maande verloof en trou die 6de November.  Ons sal teen November al 11 maande verloof wees, wat net genoeg was om ons tyd as verloofde paartjies te geniet en ons perfekte dag te reël.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Oor die algemeen is ons mal oor foto’s.  Ons wou graag hierdie spesiale en mooi foto’s op ons trou uitnodiging sit.  Dit het ons ook bevestiging gegee dat ons wel die regte keuse met ons fotograwe gemaak het.

Die verloofring:


Die verloofring was darem die een ding wat heeltemal ʼn verrassing was.  Ek het baie foto’s gestuur met die doel om te skimp. Plein, met ʼn diamant in die middel (solitaire), presies wat ek wil hê.  Met die idee dat my pantjie ook diamantjies in gaan hê.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons wou gaan vir ʼn tema van reinheid, vrede en kalmte.  Die natuur en groen rondom ons, beeld uit die groei van liefde en ʼn lewe saam. En die strand en oopte van die foto’s is ʼn simboliek van ons nuwe hoofstuk wat op ʼn skoon en nuwe bladsy geskryf gaan word.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Die grootste verwagting is dat die beplanning vlot verloop sonder enige onnodige dramas en hindernisse.  Die grootste vrees wat ons van die begin af gehad het, is dat die tyd van verloof wees te vinnig verby gaan.  Dit is so ʼn ongelooflike tyd in ʼn mens se lewe.

Visie vir droomtroue:


Die belangrikste is om hierdie dag saam met ons naastes te geniet en vir altyd te onthou.

KOVID 19 se uitwerking op jul trou reëlings:


Ons is verskriklik dankbaar dat dit nie ʼn direkte effek of altans ʼn enorme effek op ons troue gehad het nie.  Ons was baie senuweeagtig oor die getal mense omdat ons heelwat gaste genooi het. Met die inperking-vlakke wat effens gelig is, het ons baie verligting ervaar.  Al wat dalk ʼn effek sal hê is die aandklokreël.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

    • Fotosessie Venue: Kabeljous Reserve, Jeffreys Bay
    • Verloofring: Grand Diamonds