Adriaan & Claudette se snoesige verlowing fotosessie

Vandag hier by Mooi Troues deel ons Adriaan en Claudette se snoesige verlowing fotosessie met ons lesers.  Hierdie paartjie se vonke het oor ʼn Steers-koffie begin vlamvat!

Die paartjie het so ʼn snoesige verlowing fotosessie gehad nadat Adriaan vir Claudette op ʼn helikopter die groot vraag gevra het.  Hierdie fotosessie is gereël sodat die paartjie gemaklik kan raak voor die kamera en vir hulle trou uitnodigings.  Dit is so ʼn slim idee omdat mens altyd ʼn sekere visie het van die foto’s wat jy wil hê, maar die oomblik as die lens na jou kyk is dit net heeltemal anders.

Die verlowing fotosessie is so kosbaar en snoesig.  Dis op ʼn plek waar hulle albei gemaklik is en waar hulle hulself kon wees.  Die enigste element wat belangrik was is om hul persoonlikhede op die regte manier uit te beeld en nie in ʼn vreemde area te gaan staan en ongemaklik te voel nie.

Is jy verloof?  Mooi Troues se Trougids is ʼn bron van professionele diensverskaffers wat jou troudag perfek sal maak.  Dit is baie belangrik om diensverskaffers te gebruik wat jy kan vertrou en om hulle te kry vanaf ʼn bron wat vertrou word deur ander bruidspare.  Rol af om meer te lees oor Adriaan en Claudette se snoesige verlowing fotosessie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Nadat ons al twee regs geveeg het, het dit ons 2 maande gevat om uiteindelik by mekaar uit te kom, 12uur die nag vir ʼn koffie-afspraak by Steers.  “Die res is geskiedenis” soos meeste sal sê, want as jy weet dan weet jy!  Hy’t my ʼn week na dit gevra om sy ‘aster’ te wees en ek het uit gevind dat ek oor ʼn maand Durban toe trek vir werk.  Na ʼn lang jaar van lang afstand-liefde kon ek terug kom en ons het dadelik saam in getrek.  Ons het ons nessie begin skrop vir ʼn jaar voor hy my gevra het.  My ma het altyd gesê ek moet my studies eers klaar maak voor ons verloof word, maar Adriaan het gedink om nog ʼn paar maande te wag was te veel en het my dieselfde jaar net voor ek klaar maak gevra.

Die groot vraag:


Na ʼn “wel verdiende en baie nodige” tyd het ons ʼn vakansie gereël na Mosselbaai na Adriaan se ouers in Januarie 2019.  Ek het niks verwag nie juis omdat ek geweet het finansies was nie altyd aan ons kant nie en omdat ons oor een gekom het dat groot stappe na studies sal gebeur.   Ons swaar is ʼn vlieg ingenieur en het vir ons gesê dat hy vir die hele familie ʼn helikopter uitstappie gereël het.  Ons het daar op gedaag en almal het deur al die prosedure gegaan vir die vlieg.  Toe dit tyd was om op te klim dring almal aan dat ek en Adriaan eerste gaan omdat dit my eerste keer op ‘n helikopter-rit sou wees.

Die vraag:

Ons het op gestyg in die bloed rooi helikopter oor die mooiste Outeniqua Berge en toe vra Adriaan nog vir die vlieënier of ons dalk daar kan land.  Ek het net in my kop gedink “Oh my wêreld nou probeer hy moeilik wees”.  Die vlieënier het gesê hy kan probeer, maar belowe niks.  Ons het op ʼn plekkie geland en het uit geklim.  Al wat ons kon dink was wow.  Toe ek besef hoe hoog ons was skop die hoogtevrees in.

Hy het my gevra om agter ʼn klippie te gaan kyk vir iets wat beweeg het en toe ek om draai staan my droom man op sy een knieg met my droom ring met ʼn beeld wat net nie woorde het nie en al wat hy kon vra op daai oomblik was “Sal jy?”  Ek het nie eers behoorlik ja gesê nie, maar die ring was op die vinger.  ʼn Glasie sjampanje geskink na die groot vraag het ons weer af gevlieg van die berge wat altyd ʼn stukkie van ons harte sal hou.  Elke keer as ons daar is vat dit my net terug aan die oomblik.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Om jou beste maat lief te hê is daar eintlik nie ʼn verduideliking nodig nie.  Beide van ons het dadelik geweet dat ons mekaar se “verlore stukkies” is en dat dinge soms moeilik is.  Albei van ons het rustigheid by mekaar vind en was van die begin af ʼn span wat mekaar opbou!  Ons kan saam lag, huil en saam God aanbid!  Ons sien die lewe meestal deur die selfde oogpunt en ons leer iets by mekaar elke dag!

Die verloofring:


Die ring is een van die grootste seëninge wat ons kon kry.  Dit is van generasie to generasie af gegee, vyf om presies te wees.  Ek het verduidelik waar van ek hou en foto’s gewys.  Hy het een foto gekies waarvan hy die meeste hou en die smelt proses het begin.  Die klein diamante om die ring is wat sy pa vir sy ma elke huweliksherdenking gegee het.  Dis baie spesiaal en ek kan nie wag om dit eendag vir die volgende generasie te gee nie.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons wou eers ons klippe teen mekaar skraap om een klip te word voor ons, ons groot dag het.  Nie een van ons wou nie vinnig trou nie, omdat goeie dinge tyd vat en ons nog jonk genoeg is om ons self en mekaar eers op te bou.  Ons het amper 3 jaar gewag.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Die rede vir die verlowing fotosessie was sodat ons net bietjie gemaklik kan word voor die lens omdat ons nie regtig foto mense is nie en vir trou uitnodigings.  Dit was ʼn lekker ervaring en iets wat ons nog nooit gedoen het nie.  Ons fotograaf het ons so gemaklik laat voel en ons so mooi gehelp.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons is rustieke bos mense, gemaklike mense wat die lewe nie so ernstig op vat nie.  Albei van ons wou ons foto’s hê in die rouste manier moontlik.  Ons wou ons persoonlikhede en liefde vir die natuur ook in sluit.  Dus het ons op ʼn veld fotosessie besluit.  Ek wou ook “snoesige” foto’s hê en dit het perfek agter die bakkie gewerk.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Vir ons was daar geen.  Dit was een van die moeilikste en maklikste.  Ons het mekaar op ander vlakke leerken omdat ons geweet het dit is nou en vir altyd.  Die enigste ding wat ek sou sê, is die finansiele stres van die troue.

Visie vir droomtroue:


ʼn Regte boere troue wat buite in die natuur is.  Om daai spesiale oomblike te hê wat net op daai dag gebeur.  Wat trane en baie lag het.  Wat gemaklik is saam ons naastes.  Vir ons gaan dit meer oor ons belofte voor God as hoe dit vir ons lyk.  Drome verander … oomblike bly vir altyd.

KOVID 19 se uitwerking op jul trou reëlings:


Dis ʼn groot ja!  As KOVID-19 nie gebeur het nie sou finansiele stres nie so baie gewees het nie.  Ons sou’ n naweek troue gehad het om tyd saam elkeen te kon spandeer.  Daar sou ook meer mense bygewoon het.  Die prentjie sou verseker anders gelyk het, maar soos ons sê: drome verander en oomblike bly veraltyd.

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Diensverskaffers: