Matthys & Marietjie se rustieke selfdoen troue

In die inskrywing op Mooi Troues is ons opgewonde om met ons lesers meer te deel oor Matthys en Marietjie se rustieke selfdoen troue.  Die paartjie het van die begin af al geweet wat die toekoms vir hulle inhou, maar al wat dit was, was tydsberekening.  So gebeur alles soos dit moet as iets vir jou bestem is.

Die hele atmosfeer van Matthys en Marietjie se rustieke selfdoen troue in Potchefstroom was so mooi.  Alles was die paartjie wou hê, was daar.  Hulle het ook wonderlike wenke vir paartjies wat tans besig is met troubeplanning oor op watter aspekte om geld te spaar, waaraan mense nie altyd dink nie.

Is julle besig om jul eie troue te beplan?  Wil jul graag ook die selfdoen-roete gaan?  Op Mooi Troues se aanlyn trougids het ons fantastiese trou diensverskaffers wat die troubeplanning proses baie makliker sal maak.  Klik asseblief hier op na Mooi Troues se aanlyn trougids te gaan kyk.

Rol gerus af en geniet meer oor Matthys en Marietjie se rustieke selfdoen troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek en Matthys het mekaar in ons groot word dorpie Louis Trichardt ontmoet.  Ek was van dag een af hals-oor-kop verlief op hom.  Ons verskil 6 jaar.  Dit het dinge gekompliseer.  Ons het skelm op Mxit en BBM gesels vir twee jaar.  Daarna het ons moed bymekaar geskraap en begin “kys”(2011).  Ek was Gr.8 en hy ʼn eerstejaar op Tuks.  Ons het 5,5 jaar uit gegaan.  Ek het in my eerstejaar (2016) gevoel my siel en gees kort vernuwing.  Ons paaie het vir 3 jaar geskei.  Ons het in April 2019 vir die eerste keer mekaar weer gesien ʼn paar weke later versoen en vier maande later het Matthys my gevra om te trou (Augustus 2019) en ons is daai Desember (2019) getroud.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was in totaal 113 dae verloof.  23 Augustus – 13 Desember 2019.  Dit was die grootste vreugde vir my om self ons droom troue te beplan.

Spesiale Tradisies:


My doel was om ʼn troue te reël wat niemand sal vergeet nie.  Ons wou anders wees omdat ons storie so uniek is.  Daar was geen preek nie.  Beide van ons het elkeen 3 paartjies gekies waarna ons op kyk om seëninge oor ons en ons huwelik te spreek.  Ek het ʼn kousband gehad maar ons aand was so besig en bedrywig dat ons nooit by daardie formaliteite uit gekom het nie.  Ons het wel ʼn pa en dogter dans gehad.  My pa het my verras met die liedjie. “vreugde in jou oe” van die Eggos.  Ons het dit altyd geluister op pad skool toe toe ek in die laerskool was.

Finansiële Aspekte:


Ons het nie ʼn vaste begroting gehad nie.  My ma-hulle het genoem dat hulle nie weet wat troues kos nie, en dat ons moet kry wat ons nodig het.  Ons het wel altwee besluit om nie spandabelrig te spandeer nie.  Dit was my doelwit om ʼn sprokiestroue te hê wat nie ons en my ouers in skuld te laat beland nie.  Ons het op slim maniere geld gespaar.

Soos my ma wat self my rok gemaak het, en ons het Carte Blanche gegee aan die strooimeisies se rok keuses sodat hulle self vir hulle rokke betaal en later weer kan gebruik.  Ek en die strooimeisies het ook self ons hare gedoen vir die troue.  My sussie het die strooimeisies se grimering gedoen.  Ek het ook self die “skryfbehoeftes” op Canva ontwerp.  Ons het van die begin af besluit dat dit “oukei” is as ons fotograaf en videograaf meeste van ons begroting gaan opneem.  Dis al wat gaan oorbly na die dag.  Ook, jou kos en platejoggie is baie belangrik – die gaste onthou die kos en of hulle hulself kon geniet.  Ons het 100 gaste genooi.  Maar was 117 saam met ons en die diensverskaffers.

Merkwaardigste Oomblikke:


Vir my, as bruid was dit verseker toe ek en my pa in stap – dis ʼn onbeskryflike gevoel om Matthys te kon sien, en om omring te wees deur almal wat bygedra het tot wie ons is vandag.

Vir Matthys was dit dat ons troue intiem was – sy sussie het die wetlike aspek van die troue hanteer.  Sy het ons as man en vrou verklaar.  En ons het nie ʼn dominee gehad wat ons getrou het nie.  Ons het elkeen mense gekies wat groot inslae in ons lewens gehad het om ons huwelik te seën.

Vermaak:


My een strooimeisie, Uméh, het Cello gespeel voor die seremonie.  Sy het ook die liedjie gespeel waarmee ek en die strooimeisies in gestap het.  Ons het die silwer pakket by August Photography gekies wat ʼn “digitale fotohoekie” in die pakket in sluit.  Die gaste het dit vreeslik geniet.  En ons het ook ʼn baie goeie platejoggie gehad (MSM Productions).  Ons glo die tafel met vingerhappies was ook ʼn aanwins omdat gaste kon peusel terwyl hulle kuier en wag totdat ons ons foto’s klaar geneem het.  Ons nagereg was ʼn “roomyskoek”.  Die gaste kon self hulle roomys versier met lekkernye.  Ideaal vir ʼn warm Desember somersdag.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


As ek terug kyk sou ek nie strooimeisies gehad het nie.  Ek het baie meer oor hulle gedink as oor myself.  Ek sou eerder alleen wou reg maak saam my ma en net my sussie (dalk).  En mens raam die foto’s van jou en jou man. Nie noodwendig die van jou gevolg nie … as mens wil geld spaar – is dit hier waar jy eerste sny.  Die trou geskenke is ook eintlik onnodig – baie gaste het die persentjies op die tafel gelos.  As die onthaal klaar reg gedek en reg is, neem ʼn oomblik en waardeer dit.  Dit is jou prentjies en drome, tasbaar voor jou!  En die dag van julle troue –  kyk om jou.  Almal wat lief is vir jou is in een vertrek.  Dit gaan nie gou weer gebeur nie.

Die enigste raad wat Matthys het is dat julle moet onthou dat dit is julle spesiale dag is.  Moenie goed doen omdat daar verwagtinge is nie, en moenie almal anders se gevoelens en gedagtes te ernstig op neem nie.

Paartjie se styl:


Ons hou albei van neutrale klere.  Ek sal nie presies my styl kan neerlê op pen en papier nie.  As ek dit sou moes verduidelik so ek sê dit was ʼn mengsel tussen “vintage”, “elegansie”, “Franse styl” en bietjie “boho”.  Ek droom al van Graad 6 af oor my troue.  Boonop dit het ek my gunsteling foto’s gevat en gekyk hoe ons alles saam kan laat werk.  Dit was vir my ʼn lekker uitdaging om ʼn “indrukwekkende” troue te hê.  Ek wou hê alles moes uniek en anders wees.  Ons het nie tafeldoeke/tafellopers gehad nie.  Maar growwe sout – as simboliek vir die sout van die aarde en ook dat ek en Matthys sewe sakke sout saam kan dra.

Ek wou nog altyd ʼn “sout and peper” diamant gehad het, en Matthys het baie tyd en moeite in gesit om die perfekte steen te kry.  Ons het nie geweet watter styl of tipe ring om vir Matthys te kry nie, ons het net eendag klomp ringe gaan aanpas om te sien wat pas by hom en om te kyk waarvan hy hou.  Hy het op die ou einde ʼn platinum ring gekies.

Venue & Dekor:


Ek was besig met my honneurs in Potchefstroom.  Om die reëlings en logistiek maklik te maak, het ons besluit om in Potchefstroom te trou.  Dit is ook die middelpunt vir ons familie en vriende.  Ons het dus begin met die venues in Potchefstroom en Parys.  Snowflake was die enigste venue wat homself geleen het tot alles wat ons vir die dag beplan het.  Dit was lekker om ruimte te hê om te dans, die stegie het ons gaste toegelaat om buite te kuier en daar was ook ʼn plan B as dit sou reën.  ʼn Addisionele plus punt was dat die venue self so uniek is, dat ons baie onkostes gespaar het met dekor.

Gunsteling Diensverskaffers:


Al ons diensverskaffers was puik!  Regtig!  Maar as ek moet kies.  Die bloemiste, PW van Siatum.  Hy het net ʼn halwe woord nodig.  Hy het my vasgevang in elke ruiker en rangskikking en dit teen ʼn baie bekostigbare prys.

Dan sal ek Twisty Lemon tweede lys.  Hulle diens was merkwaardig.  Hulle kos is smaaklik.  Mense praat nou nog oor hoe lekker hulle geëet het, en hoe mooi die kos voor bedien was.  Hulle het ook in meer as een manier die ekstra myl gegaan om dinge vir my en my ma die dag van die troue makliker te maak.

Martie van Snowflake was net so hulpvaardig en sy gee goeie planne en raad – sy ken immers haar terrein die beste.  A&E dekor het ook baie goed op hul eie aan gegaan en was flink en vinnig.

Ons het wel gesukkel met ons fotograaf en die span – op baie foto’s is ons gevolg af gesny.  Dit was moeilik om ʼn reaksie van hulle te kry oor WhatsApp en hulle het nie goeie leiding geneem tydens die fotosessies nie.

Die Besluitnemingsproses:


Ek (Marietjie) het met die idees of opsies na vore gekom.  Matthys het hier en daar inslae gelewer.  Hy het raad gegee as ek gevra het, maar hy het dit vir my gegun om myself uit te leef.  Matthys het geweet ek hou van kreatief wees en dat ek daarvan hou om my alles in projekte en idees in te sit.  Hy het my gelos om “te speel”.  My ma was my ander raadgewer.  Sy het altyd planne en sy is altyd ʼn voorstander om uniek en anders te wees.  My skoonma se hande was oop, maar daar was bitter min waarmee sy kon help.  Ons diensverskaffers het meeste van die werk gedoen. (dekor, blomme en kos gewys).

Eerste Dans:


Ek en Matthys het dadelik die dansbaan geopen met die doel seker te maak die atmosfeer is gesellig en dat gaste hulself dadelik kan geniet.  Ons nie dansklasse gehad nie en het op Youtube heelwat tutoriale gekyk en hier en daar dans passies “gesteel”.  Ons het nie baie tyd gehad om iets groots hiervan te maak nie.  Liedjie: Seeing Blind – Neil Horan

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


Niks groot het fout gegaan nie.  Ons het wel met die heildronke begin sonder enige sjampanje.  En dit was net ʼn baie warm dag, en die venue het net waaiers gehad nie.

Wittebrood:


Matthys het die wittebrood beplan en dit was ʼn verrassing.  Hy het homself oortref.  Ons het twee weke lank rond getoer in Seycelles.  Ons het in die H Hotel gebly vir twee aande en het daarna in self-sorg eenhede gebly.  Dit was onvergeetlik.  La Dique was ons gunsteling eiland.  Die inwoners maak gebruik van fietse of stap oral.  Die eiland is ook klein genoeg om in ʼn paar uur om die hele eiland te ry met jou fiets.

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Diensverskaffers: