Jaco & Mikayla se verlowing fotosessie op die plaas

Ons is só opgewonde om Jaco en Mikayla se verlowing fotosessie op die plaas met Mooi Troues se lesers te deel.  Die paartjie het foto’s op hul plaas laat neem waar hul liefde vlamvat.  Dit is ook die plek waar die paartjie verloof geraak het en waar hulle trou aan mekaar sal beloof.

Helene Viljoen het die mees natuurlike foto’s van die paartjie geneem.  Sy maak slegs gebruik van natuurlike lig en is beslis die fotograaf wat jou op jou gemak maak voor die kamera.  Haar foto idees vir elke paartjie is so uniek en prettig.

Mikayla se ligte pienk blompatroon-rok vloei so sag met die plaas agtergrond en die wild wat wei.  Dié verlowing fotosessie op die plaas gee so ʼn sagte en elegante, maar steeds warm liefde gevoel.

Is jy verloof?  Vind tonne trou inspirasie en gratis advies op Mooi Troues.  Indien jy opsoek is na professionele diensverskaffers, besoek Mooi Troues se Trougids.  Lees meer oor die paartjie se verlowing fotosessie hieronder.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het deur vriende ontmoet.  Jaco het ʼn foto van my op my vriendin se Facebook gesien en vir sy vriend (wat op daardie stadium met my vriendin uitgegaan het) gesê dat hy my wil ontmoet.  Daardie Vrydagaand het ek ingestem om saam met my vriendin Swellendam toe te gaan om bietjie weg te kom vir die naweek … min het ek geweet dat die man van my drome in spanning daar wag om my te ontmoet.  Ons het so bietjie langer as vier jaar uitgegaan voor Jaco my gevra het om met hom te trou.

Die groot vraag:


Op 25 Julie 2020, het ons verloof geraak.  Dit was vir my ʼn GROOT verrassing aangesien ons nog nie van te vore oor dit gepraat het nie, ek het nie in my wildste drome gedink dit gaan op daardie dag gebeur nie.  My suster, Bianca en haar verloofde, Dyllan het deur gekom vanaf Paarl om vir ons die naweek te kom kuier.  Bianca, Dyllan en Jaco het gekonkel en alles skelm beplan sonder dat ek enige iets vermoed het.  Hulle het die hele verlowing afgeneem op video en kamera, alles was tot op die laaste ‘detail’ fyn beplan.  Ons het ʼn sprokies verlowing gehad en hy het my beslis omkant gevang!

Die groot verrassing

Ek het van die werk afgekom, in ʼn gejaag, want ons was van plan om Hermanus toe te gaan vir die dag.  Hy het gevra dat ek in die plaas stoor moes stop voor ons huis, aangesien hy die motor se wiele wou nagaan.  Toe ek intrek in die stoor het ek so gekonsentreer dat ek NIKS langs en om my gesien het nie.  Ek het uit die motor geklim en ewe skielik het Lady Gaga se ‘Always Remember us this way’ liedjie begin speel.

Toe ek langs my kyk in die musiek se rigting, is daar ʼn lang pad uitgegooi met roosblare, wit en rooi, en ʼn tydlyn met fotos van ons langsaan met ʼn klomp helium ballonne.  Voor my (by die begin van die roos paadjie) het ʼn mes gelê.  Ek moes die paadjie volg met die roosblare en die ballonne stukkend steek. In elke ballon was daar ʼn briefie in en elkeen ʼn rede hoekom hy lief is vir my.

Toe ek die laaste ballon stukkend steek was daar klomp konfetti wat uitgeval het met die laaste briefie en toe ek voor my kyk staan hy op sy knieë met my droom ring in sy hand en vra my op die briefie of ek met hom sal trou.  Dit was die beste dag ooit gewees en so spesiaal!

Hoekom ons mekaar liefhet:


Mikayla:

My gunsteling eienskappe van Jaco is beslis sy klein, mooi hart en sagte geaardheid.  Sy omgee en liefde vir diere, en sy onbeskryflike liefde vir my.  Jaco het ook altyd iets positiefs om te se en sy deursettings vermoë is vir my inspirerend.  Hy inspireer my om ʼn beter mens te wees elke dag.

Jaco:

Jy het ʼn baie goeie hart teenoor diere.  Jou glimlag is net beeldskoon, ek is sommer bly as jy lag en glimlag.  Die feit dat jy so kwaad raak vir die kleinste goed is vir my oulik en ek hou daarvan om jou te tart.  Jy is altyd aan my sy deur alles wat ek gedoen het, veral met die “strongman” goed dit beteken vir my bitter baie dat jy my altyd help en ondersteun, dit maak my bly.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons trou op 4 September 2021 in dieselfde stoor waarin ons verloof geraak het.  Ons is baie opgewonde!

Die verloofring:


My verloofring het ek seker omtrent meer as 2/3 jaar terug ontwerp by Howie Viljoen van Viljoen Juweliers in Worcester.  Ek was saam ʼn vriend daar en my vriend stel toe voor. Ek ontwerp my droom ring (met die idee dat as Jaco eendag vir hom vra).  Ek’t intussen vergeet hoe die ring lyk wat ek ontwerp het.  Toe ek my ring sien en Jaco vir my se dit is my ontwerp kon ek nie glo dat hy my droom ring vir my gekry het nie.  Dit was so spesiaal en presies wat ek wou hê, sonder dat ek enige idee gehad het dat ons gaan verloof raak.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons fotograaf is Helene Viljoen en sy het ʼn pakket vir ons gekies wat verlowings foto’s en trou foto’s insluit, ons het toe ons verlowings foto’s gebruik vir ons ‘onthou die datum’ kaartjies.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Daar was nie enige tema of styl nie, ons wou dit graag op die plaas doen met die mooi natuur om ons, en dit was spesiaal want dit is waar ons bly en in ons omgewing.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Daar is nie enige vrese nie, behalwe om ʼn troue te beplan gedurende die pandemie, dit is maar baie onseker.  Behalwe dit is ons baie opgewonde en geniet al die reëlings en beplanning.

Visie vir droomtroue:


Ons gaan in die NG Moeder gemeente kerk in Swellendam trou en die onthaal is in die stoor by ons op plaas, wat baie spesiaal is.  Die trou tema moet romantiese, vintage en woud atmosfeer skep. Daar moet baie kerse, blomme en kandelare wees wat oor die tafels hang en ons kleurskema is swart en roosgoud.  Al die gaste is ook gevra om swart kleredrag na troue aan te trek.  Antoinette Events op Bredasdorp help met die trou reëlings.

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: