Jean & Nadja se Verlowing in Walvisbaai

Jean en Nadja se verlowing fotosessie in Walvisbaai, Namibië is prentjie mooi wat ons met Mooi Troues se lesers deel.  Julle sal vir julself sien hoe stylvol die paartjie se fotosessie was.   Dit sal vir jul inspirasie bied as jul besig is om julle eie verlowing fotosessie te beplan.  Definitief ʼn baie goeie keuse, omring deur pragtige natuur tonele.

Die inspirasie vir die fotosessie het gekom uit die paartjie se liefde vir die see asook die buitelug en die eenvoudige dinge in die lewe.  Baie paartjies vind dit moeilik om op ʼn tema vir hul verlowing fotosessie te besluit.  Dit is altyd ʼn goeie opsie om te gaan vir iets waarvan albei hou.  So sal jy onmiddellik bietjie meer gemaklik voel voor die kamera en mooi resultate kry.

Lees meer op Mooi Troues en kry tonne inspirasie en gratis advies vir jou verlowing fotosessie.  Vir nou kan jy meer lees oor Nadja en Jean se Walvisbaai verlowing fotosessie en hulle liefdes paadjie.

Rol af en kry tonne inspirasie vir jou eie verlowing fotosessie.

 

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons eerste ontmoeting was by ʼn Cross-Fit gimnasium in 2013, maar albei van ons was in ʼn verhouding.  In 2016 tydens ʼn val skerm spring sessie het ek (Jean), toe enkellopend, gedink dit is tyd om weer kontak te maak met Nadja.

ʼn Mens is maar braaf as die adrenalien hoog loop.  Min wetend was sy gedurende daardie tyd aan die anderkant van die wêreld en ook enkellopend.  Ons het begin gesels en omtrent ʼn maand later toe albei van ons weer in dieselfde stad was, vir ons eerste amptelike afspraak gegaan.

Dit was wel nog twee jaar se aan en af kuier voordat ons in die selfde stad beland het en besluit het om ʼn pad saam te stap.  Ongeveer twee jaar daarna was dit uiteindelik tyd vir ons verlowing!

Die groot vraag:


Ons het wel gepraat oor die verlowing, maar ek het opsetlik vir Nadja laat glo dit sal eers ʼn hele paar maande later gebeur as wat die werklike datum sou wees.  Intussen het ek haar ouers se toestemming gevra en begin reëlings tref vir ʼn French Bulldog baba hond.

Dit was haar droom vandat sy ʼn klein dogtertjie was om so ʼn hond te hê.  Na ʼn paar maande se wag vir die hondjie.  En die reëlings rondom die ontwerp en maak van die ring het alles skielik in een week gebeur.

Ek het ʼn piekniek vir ʼn Saterdagoggend gereël by Droom Bos wat ʼn trou en onthaal venue in Windhoek is. Dit het gebeur in September 2020 tydens vlak 3 inperkings en mag daar nie meer as tien mense saam gewees het by enige geleentheid nie.  As enkel kind was Nadja se ouers en haar peetma en my ouers en enigste broer met sy vrou en drieling ons gaste.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Nadja admireer Jean vir sy geduld met haar, sy vermoë om ʼn doelwit te bereik en sy liefde.

Jean vind Nadja baie vroulik, aantreklik en sag.  Haar emosionele intelligensie en die wyse waarop sy hom help om anders en objektief na die wêreld en dinge rondom hom te kyk maak hom haar toevou en beskerm.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons beplan om op 17 September 2021 te trou, ʼn jaar nadat ons verloof geraak het.

Die verloofring:


Nadja se ring was ʼn absolute verrassing vir haar.  Hoewel ons in algemene gesprekke die vorm, grootte en plasing daarvan menigmaal aangeraak het.

Die diamant is 1,02Ct en in ʼn kussing vorm gesny.  Die plasing van die diamant is in ʼn protea vorm van wit goud en word weerskante gestut deur ses kleiner diamantjies.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Aangesien ons tydens die inperking verloof geraak het en nie familie of vriende deel daarvan kon maak nie, was dit vir ons ʼn baie spesiale geleentheid om almal deel daarvan te maak.

Die fotograaf is ʼn vriendin en was ons bewus van haar vermoë om dit wat ander met ons wou deel op hierdie uitsonderlike manier te laat gebeur.  Haar gemaklike manier van omgaan en die omgewing in ag te neem het die fotosessie besonders gemaak.

Sekere van die foto’s sal in ons huis gebruik word en oor ander gebruike daarvan het ons nog nie ʼn finale besluit geneem nie.

As die huidige Mej. Namibië, sal van die foto’s gebruik kan word in Nadja se portfolio.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons verwagtinge is bloot geskoei op die voorbereiding vir ons troudag wat baie spesifiek op ons leefstyl en verhouding is.

As gelowiges het ons nie vrese vir dit waarmee ons besig is, of die tydperk waarin ons ons tans bevind nie.

Visie vir droomtroue:


Elegante eenvoud met net die mense wat elke dag deel van ons lewe is.  Dit sal  hierdie droomdag nog meer spesiaal te maak.


Klik hier vir diensverskaffers