Braam & Anzche se verlowing fotosessie

Na twee en ʼn half jaar van saam wees, ken Braam en Anzche mekaar al amper beter as wat hulle hulself ken!  Maar, maak nie saak hoe goed ʼn paartjie mekaar ken of hoe gemaklik hulle voor mekaar is nie, om voor die kamera te poseer is ʼn ander storie!  ʼn Paartjie se verlowing tydperk en troue is een van dié spesiaalste tye van hul lewens.  Omdat herinneringe en foto’s al is wat jy oorhet van hierdie tydperk, wil jy eendag terugkyk na die foto’s en dié spesiale tyd ten volle herleef.  Maar, dit is egter uitdagend om hierdie emosies en gevoelens voor ʼn intimiderende kamera-lens uit te beeld.  Dit sal dus tragies wees as die foto’s nie die werklike aard van die paartjie se verhouding kan uitbeeld nie.

Braam en Anzche erken dat alhoewel hulle sonder twyfel 100% gemaklik voor mekaar is, hulle mekaar voor die kamera óók moes vind.   Hulle het dus ʼn verlowing fotosessie gedoen om op te warm vir hul groot dag en daarmee saam ongelooflike foto’s as ʼn bonus gekry!

Hieronder is bewyse dat twee amateurs voor die kamera met ʼn bietjie aanmoediging en professionele hulp, getransformeer kan word tot ʼn uiters gemaklike paartjie voor die kamera.

Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing


Oorspronklik was ons slegs kennisse wat skraps van mekaar geweet het.  Later het gemeenskaplik vriende ons per toeval aanmekaar voorgestel en op 17 Oktober 2017 het ons sprokiesverhaal met ‘n dood onskuldige dans ontstaan. ‘n Aand waarna ek én hy opgesien het, het in die beste aand van ons lewens verander!   Tot op hede, het daar nog nie een dag verby gegaan wat ons nie in kontak met mekaar was nie.  Braam het vinnig die rots geword waarop ek altyd kon steun.  Hy het op 30 November 2017 my gevra om met hom in ʼn verhouding te wees.  Ons was vir ‘n jaar en 3 maande verloof, toe hy my op die mees kreatiewe manier gevra het om sy vrou te wees.  17 Februarie 2019 het ons wêrelde saamgesmelt en nou is ons kinderlik opgewonde oor ons liefdes-dag op 7 Maart 2020.

Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography

Rede vir die verlowing fotosessie


Ons het gekies om ‘n verlowing sessie te doen, omrede ons die foto’s vir ons “Onthou die datum” wou gebruik het.  Die foto’s het so mooi uitgekom dat ons moeilik kon kies watter gebruik moet word en watter gelos moet word!  Ons het ook die fotosessie gedoen omdat ons nog nooit saam vir ‘n fotosessie was nie en mekaar graag voor die kamera ook wou vind. Ons fotograaf was van dag een af net die beste!  Van die foto’s gaan beslis ook by die troue self gebruik word.

Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa PhotographyUnaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography

Die Beplanning van die Verlowing


Om mee te begin, ons is nie juis die paartjie wat groot op Valentynsdag is nie;  Ons glo dat elke dag spesiaal moet wees.  Hierdie jaar was dit ‘n uitsondering, of altans dit was die verskoning!  Braam het aangedring dat ons op Sondag 17 Februarie iets moet doen.  Wat, waar en wanneer dit was, was heeltemal onbekend vir my.  Hy het Vrydag die ring by Poggenpoel in Pretoria opgetel en dit direk vir my pa afgelewer.  Hy was glo bang ek vind dit by sy huis!  Die ring het sonder my kennis vir twee aande  slegs ‘n paar meter van my af geslaap.

Daardie Sondag was ek heeltemal in die donker gelaat oor wat ons gaan doen en wat ek moet aantrek.  Vroeg Sondag is ons op pad na die ‘onbekende afspraak by ‘n onbekende plek.  Ek het probeer om elke teken of bekende voorwerp te gebruik om ons eindbestemming te bepaal.  Toe ek dink ons gaan Harties toe om kabel karretjies te ry, was ek glad nie in my noppies nie.  Ek was egter nie ver verkeerd nie!

Die Olifant Sanctuary in Harties was toe ons eindbestemming.   Met ons aankoms, het Braam die rekening betaal en met die knip van ‘n oog glo my ring aan die dame gegee, vol vertroue dat sy bewus is wat in die volgende paar ure gaan gebeur.  Dit was ‘n ongelooflike ervaring om saam die olifante te stap, hulle te borsel en taai soene te kry!  Die personeel was ekstra vriendelik.  Ek was onder die indruk dat dit dalk is omdat ons die enigste Suid Afrikaners was.

Die Groot Vraag

Die gids het gevra dat ons asseblief moet agter bly want Ollie het vir ons ‘n spesiale verrassing.  Ons moes voor Ollie staan vir ‘n foto en daarna verduidelik die gids dat ons moet omdraai sodat Ollie vir my iets kan gee.  Daar was dit op die vloer – my ring-boksie.  Ollie het dit met sy slurp opgetel en die boksie in my hand gesit.  Trane het gevloei!  Toe ek omdraai was Braam reeds op sy knie: “Sal jy my die gelukkigste maak en met my trou.”

Dit was by verre die beste dag van ons albei se lewens!

Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa PhotographyUnaresa Photography

Hoekom ons mekaar liefhet


Daar is soveel redes wat Braam my daagliks gee om hom lief te hê.  Braam is my is my steunpilaar.  Hy het my geleer wat liefde werklik is.  Hy is altyd my ekstra oë, ore en hande.  Elke dag as ek hom sien, klop my hart steeds vinniger.  Ek kan ure saam hom spandeer sonder om vir een sekonde verveeld te wees.  Hy is my beste vriend, my hart se mens.  Hy is saggeaard, maar tog ferm en streng en dra my altyd op sy hande.  Ek is lief vir hom en kan nie my lewe sonder hom indink nie.

Ek kan nie my liefde vir Anzche beskryf nie; Dit is moeilik om dit in woorde te stel.  Sy is die mooiste mensie van binne en buite met ‘n hart van goud.  Sy het ‘n liefde en omgee vir my wat ongelooflik is.  Anzche is my beste vriendin, my liefde, my verloofde en amper my vrou.  Sy is altyd daar vir my en ondersteun my in alles wat ek aanpak.  Ons maak ‘n goeie span.  Ek kan nie my lewe sonder haar indink nie.

Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography

Tydperk voor die knoop deurgehak word


Die dag wat ons verloof geraak het, het ons reeds ‘n spesifieke maand en jaar wanneer ons wil trou, ingedagte gehad.  ‘n Dag ook, maar die datum was gelukkig nie by ons venue beskikbaar nie.  Ons glo alles gebeur het soos dit moet.  Ons sal dus ‘n jaar en ‘n paar daggies verloof wees voor ons Mnr. en Mev. Pretorius is!

Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography

Die Verloofring


Die bruidegom was alleenlik verantwoordelik hiervoor en hy het voorwaar die perfekte ring vir sy bruid gekies.  Van die metaal tot die diamant.  Hy het definitief fyn geluister toe daar van ringe gepraat word, of dalk ken hy net sy bruid ongelooflik goed!

Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography

Visie vir droomtroue


Ons droom troue sal wees wanneer ons die belangrikste dag van ons lewens saam met al ons vriende en familie kan deel.  Solank as wat ons as Man en Vrou by die kapel kan uitstap, sal ons droom waar word.  Vir ons is dit ‘n feesviering van ons liefde wat ons met ons mense wil deel.

Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography Unaresa Photography

Klik hier vir meer diensverskaffers