Dane & Ashleigh se spesiale troudag

Dane en Ashleigh kon nie meer vreugde en geluk uitstraal op hul spesiale troudag nie.  Ashleigh het haar diensverskaffers noukeurig uitgekies en al die verskillende elemente het tot op die fynere detail perfek bymekaar ingepas.  Ontspan en die dag geniet.  Hulle deel insiggewende wenke oor wat hulle gehelp  het met om ‘n sukses van hul groot dag te maak.

Rol af en geniet die trou inspirasie.

Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?


Ons het op die 8 September 2018 getrou.  Ek (Ashleigh) was 27 en Dane was 28 jaar oud.

Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?


Ek het in 2014 op een van Enzoani se rokke afgekom en ek was onmiddellik verlief op sy ontwerpe.  Ek het elke jaar sy nuwe ontwerpe gevolg en geweet ek gaan eendag my trourok by hom kry.  Toe ek vir my eerste pas by hom gegaan het, het ek alreeds my droomrok gekry.  Ek wou graag ‘n klassieke en elegante rok gehad het – en dis presies wat gekry het!  Elke nou en dan trek ek weer skelmpies my rok aan en herleef ons troudag.

Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?


Ons het mekaar op laerskool in 1997 ontmoet en was goeie vriende tot graad 7.  Daarna was ons in verskillende hoërskole en het mekaar minder gesien.  Ons het in 2010 mekaar weer op universiteit ‘gevind.’  Uiteindelik het ons gaan koffie drink en vanaf daardie dag kyk ons nooit weer terug nie!

Dane het my 7 jaar later gevra om te trou.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Geniet elke oomblik van die beplanning en die wonderlike dag.  Dit gaan regtig baie vinnig verby!  Julle moet onthou dat alles nie altyd perfek gaan uitwerk nie, maar moenie dat dit julle onderkry nie.  Onthou waaroor die dag regtig gaan – julle as paartjie se liefde vir mekaar en julle belofte aan mekaar.  Koester elke oomblik saam en probeer om net pret te hê!

Vertel ons meer van jul ringe


Ashleigh se broer, Kevin van Schnetler Creations,  het albei ons ringe gemaak.  Dane het my verloofring self uitgekies en dit laat maak.  Albei ons ringe is Platinum en pas bymekaar.

Het julle enige diensverskaffers vanaf Mooi Troues gekry?


Ja, ons het Wildflower Creations en Gelique van Mooi Troues se webblad gekry.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Ons fotograaf was Wynand van der Merwe – hy was fenomenaal!  Hy het konstant seker gemaak dat ons gemaklik is en dat ons dit darem ook geniet het.  Al ons gaste het na die troue vir ons gesê hulle is vreeslik beïndruk met sy professionalisme en wonderlike persoonlikheid.  Ons kan nie genoeg dankbaar wees dat hy besluit het om met ons te werk nie.  Ons spesiale troudag sou nie dieselfde sonder hom gewees het nie.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?


Die merkwaardigste oomblik van ons troudag was die opgewondenheid toe ons mekaar vir die eerste keer sien.  Ons albei was baie emosioneel en het trane in ons oë gehad.  Dit is ’n pragtige herinnering wat ons vir ewig sal koester.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?


Ons was baie bevoorreg dat ons albei se ouers kon bydra tot die kostes van ons troue.  Ons het ons eie begroting vasgestel en ons het streng daarby gehou.  Sonder ons ouers sou ons beslis nie ons droomtroue kon gehad het nie.  Daar was 100 gaste by ons troue.

Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?


Op ons eerste besoek na die venue het ons alreeds tuis gevoel.  Hulle het so baie moeite gedoen om ons rond te wys en al ons vrae te beantwoord.  Ons het dadelik van die professionele manier gehou waarop hulle ons hanteer het.  Toe ons in die kar geklim het, het ons albei dadelik geweet hiér is waar ons wil trou!  Ons het toe ‘n finale besluit gemaak en na geen ander venues gaan kyk nie.

Ons dekor was baie minimalisties omdat ons gevoel het die venue is alreeds mooi genoeg.  Die dekor was eenvoudig, maar tog elegant – presies wat ons wou gehad het.

Vertel ons meer oor jul eerste dans.


Ons het op Ed Sheeran se Perfect gedans.  Ons wou nie vir danslesse gegaan het nie, so ons het een aand besluit om die bank weg te skuif en sommer in ons sitkamer te oefen.  Dit was ook die eerste en die laaste keer!  Dit het wel op die dag uitgewerk.  Dane het my letterlik van my voete opgetel en weggesleep.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Die dag na ons troue het ons vir 12 dae na Griekeland vertrek.  Ons was op 2 verskillende eilande – Santorini en Mykonos.  Santorini het ons harte gesteel!  Ons het ook ’n paar dae in Athens spandeer.


    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

    [endsection]