George & Michelle se sprokie troue

Vandag deel Mooi Troues George en Michelle se sprokie-dag.  Hierdie paartjie se fotografie is ongelooflik en het nie net elke spesiale oomblik vasgevang nie, maar ook die ongelooflike emosie wat teenwoordig was gedurende die dag.  Die fotografie is geneem in ‘n dokumentêr-styl wat tydloos en veelsydig is, omdat dit meer is as net portrette van jul as paartjie is.  Die bruid het natuurlik ook uitsonderlik gelyk in ‘n rok van Bridal Room terwyl die bruidegom geklee was in ‘n pak deur Eurosuit.

Die paartjie vertel ook onder wat die spesiale betekenis is agter hul troudatum, iets klein wat altyd vir die paartjie ‘n spesiale betekenis sal dra.  Hul dekor was eenvoudig en het bestaan uit ‘n oorwegende wit kleurskema, goue pilaar kerse wat hoogte gee op die tafels en verskeie vrolike wit blomme daar rondom.  Lees onder meer oor hul oulike ontmoetings verhaal asook die raad wat hulle gee vir toekomstige paartjies.

Wat was jul trou datum en hoe oud was jul albei op dié dag?


Ons bruilofsfees was gehou op 16 Desember 2017.  Dit val op geloftedag.  Dis hoekom ons gesê het ons vier die dag saam Jesus.  Hy is immers die wortel van ons verhouding. Michelle (Bruid) was 26, en George (Bruidegom) was 28.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons het deur ‘n draf-groepie ontmoet. My vriendin het my genader om haar draf-groepie by te woon.  Soos my sussie in haar toespraak gesê het ‘Ek het gesien hoe hardloop Michelle huis toe na die skoolklok lui, en trek so gou moontlik haar tekkies aan, en ek het gedink…Sjoe, my sussie raak nou aktief.  Die dag toe ek George ontmoet het ek geweet hoekom sy so ‘fiks’ wou word.

Hoe het julle verloof geraak?


Na agt wonderlike jare het George die groot vraag gevra. Ons was kaap toe vir besigheid. Ek en my sussie was besig in PNA toe ek SMS kry om kar toe te gaan. Daar was ‘n “raaisel” in die kar. So het ons die heeldag op ‘n skattejag gegaan en sewe leidrade bymekaar gesit. Na ‘n avontuurlustige dag het die volledige raaisel my gelei na die strand, waar pragtige George op sy knieë gegaan het…en so het ons sprokiesverhaal begin. Die aand het ons The Notebook gekyk onder die sterre by ‘n oop lug teater. Dit was pure betowering.

Vertel ons hoe het julle die venue gekies?


Ons droom was om in die Kaap op ‘n wynplaas te trou. Wat nog meer belangrik was vir ons, was om ons geliefdes teenwoordig te het. Ons het ‘n venue gesoek wat beide kan bied. My ma het toe op ‘n venue afgekom wat ‘n entjie uit die Kaap geleë is, Bell Amour, in Cullinan. My ma het die venue gevind en die enigste datum wat oor was, was natuurlik die 16de Desember en ons het nie eers twee keer gedink om te bespreek nie. Ons het getrou in ‘n Wingerd met druiwe, geliefdes en liefde orals om ons.

Wat was die inspirasie agter die styl van die troue?


Ons is mal oor die natuur. Dis hoekom ons besluit het op ‘n Botaniese gevoel met groen blare en wit rose, wat gekomplementeer word met elegante goue kerse. Elke gas het ook ‘n klein wynbottel ontvang met ‘n nota wat sê: “Drink ‘n glasie op ons eerste huweliksherdenking”. Ons het goue Ferrero Rochers gebruik vir tafel plasings. Elke gas se naam plasings was gemaak deur ‘n wyn-proppie. Ons dekor het dus die natuur gevoel gehad, asook dekor wat gehelp het om ons wynplaas-tema te definieer.

Is daar ‘n storie agter jul trouringe?


George het uit sy pad gegaan om vir my die mooiste ring op aarde te gee. Ek is mal oor hartjies. Hy het toe besluit om my ring te ontwerp. Hy het die ontwerp New York toe gestuur en so het ek my hartjie ring ontvang. George wou sy ring ook uniek hê. Ons het toe vir hom ‘n ring gekry wat lyk of dit uit die era tydperk kom. Daar is drie kruise op die ring wat Die Vader, Seun, en Heilige gees simboliseer.

Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?


Daar is so baie!  Ons woefie wat ons ringe ingedra het, my man wat sy bedankings in ‘n gebed gevorm het, het al die mans gevang, ons eerste dans met die sonsondergang.  My ma wat my weg gegee het.  Ons lewendige orkes musiek in die agtergrond terwyl ons fotos neem.  Ons boompie wat ons geplant het, net soos my ouma en oupa gedoen het toe hulle jonk was. Hulle Appelkoos boom het hulle huwelik se jare gesimboliseer. Al hierdie dinge was merkwaardig en spesiaal vir ons gewees.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Absoluut niks nie! Ons was geseënd van bo met ‘n sprokie mooi troue.  Alles was perfek.  Elke oomblik moet gekoester word.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Ek het al goeie advies ontvang dat jy nie jou man moet vergeet op jul groot dag nie.  Dit klink so eenvoudig, maar glo my op jul groot dag verg soveel goed jou aandag. Ek het die raad gevolg en nou as ek terug dink aan ons troudag onthou ek net hoeveel pret ek en my man saam gehad het. Hoe baie ons saam gelag en en gesels het.

Net so is my advies ook dan, moenie vergeet van jou man as julle troue beplan nie. Dis sy troue ook, inkorporeer sy idees ook in jul troue (al moet jy maar op jou tande byt).

Was julle met wittebrood gewees?


Ek was onder die indruk ons sou Durban toe gaan. By die lughawe stap ons verby mense wat vir my bekend lyk…my ma en sussie en boeta. Ek was so verras dat hulle wou kom groet. Ons het koffie gaan drink en George het vir my ‘n boek gegee en gesê of ek net kan seker maak hoe laat ons vlug-tye is. Toe ek dit oopmaak sien ek ons gaan Mauritius toe! Ek het in trane uitgebars. Dit was ons albei se eerste keer oorsee. Ons het oujaarsaand terug gekom en die jaar begin waar ons voete nog die oggend in die tropiese waters was.

Diensverskaffers