Tiaan & Chereen se plaastroue in Mpumalanga

Hierdie paartjie se plaastroue in Mpumalanga was alles waarvan die twee kon droom vir hulle troudag en meer.  Die perde en beeste het die natuur elemente nog meer beklemtoon en bygedra tot die plaas effek.  Dit was presies waarna hierdie twee opsoek was vir hulle spesiale dag.  Daar was wel reën voorspel vir Tiaan en Chereen se troudag, alhoewel die motreën saggies deur die middag geval het, was die lug oopgetrek, helder en die son het vir hulle gegroet met sy strale toe dit tyd was vir hulle om trou aan mekaar te beloof.   Hulle kon dus hulle seremonie in die tuin gehou het en die lig was perfek sodat hulle die mooiste foto’s kon neem.  Hoop julle geniet die artikel.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié datum?


Om die troudatum te kies was effens van ‘n uitdaging omrede ons my vakansies en die plaas skedule in ag moes neem.  Ons wou ook graag my man se stiefbroer daar hê wat oorsee werk.  Ons het toe besluit op Desember en die datum wat beskikbaar was.  Dus was die troue beplan vir 2 Desember 2017.  Op die dag van ons troue was ek 27 en my man 26.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons pad het begin as ‘n ‘blind date’, gereël deur ‘n gemeenskaplike vriendin.  Na weke se praat het ons mekaar uiteindelik ontmoet.  Ons het nie in dieselfde dorpe gebly nie.  Hoe langer ons tyd saam spandeer het hoe meer het ons besef hoe baie ons paaie gekruis het en nie een van ons mekaar gesien het nie. Ons albei was verlief.

Hoe het julle verloof geraak?


Ons sprokies verlowing het begin op ‘n dood gewone Saterdag.  Ek het saam met Tiaan sy eerste eie lande gaan omwerk.  Op die laaste draai stop hy want ‘vriende wil ook graag ‘n draai ry.  Met die afklim slag het hy my na hom gedraai en op sy knieë gegaan.  Vriende van ons het die hele sprokie vasgevang op video, saam met ons vonkelwyn gedrink en ons in die velde in gestuur met ‘n piekniek mandjie.  Ons het onder ‘n pragtige boom gaan sit en net vir ‘n sekonde of 3 alles ingeneem.  Die verlowings video het toe later deel geword van ons trou uitnodiging.

Wie was jul fotograaf en videograaf gewees?


Ons fotograaf Amanda van Amanda Boonzaaier Photography het elke kosbare oomblik van ons troue vasgevang.  Sy was reg met haar kamera en te danke aan haar het ons die mooiste foto’s.

Vertel ons meer van jul ringe


Ek het die groot voorreg gehad om ‘n familie erfstuk te kry en my my eie te maak.  My man se ouma het aan elke seun ‘n ring gegee wat as verloof of trouring dien.  My spesifieke ring was sy oumagrootjie se trouring.  Ek het die diamant geset in nuwe goud van dieselfde karaat en ekstra fyn diamantjies bygesit.  Die oorspronklike ring was ‘n diamant blom met sy goue blare en my ring is toevallig ook ‘n blom.  Ons het ‘n roosgoud troupant bygesit.  Ek en my man het saam sy ring gaan soek enkele weke voor die troue.

 

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Dinge gaan nie altyd soos beplan of hoe jy dit op daardie oomblik wil hê nie.  Ontspan en vat dit soos dit kom, dis onnodig om ontsteld te raak en die pret van beplanning te verloor.  Spandeer ook eerder meer geld en tyd aan jou fotograaf, dis al wat jy oor het om te wys na die gewoel.

Hoe het jul die venue gekies?


Ons altwee wou baie graag ‘n plaas troue gehad het.  Ons het begin soek na venues en saam met my ouers besluit op Perdekraal.  Die pragtige dekor en warmte het my hart gesteel, nie gepraat van die lieflike pad na die venue en tuin.  Ek kon sien hoe ek die tuin paadjie afstap tussen die groen van die natuur.  Die warmte en hulp van die eienaars en hul personeel het dit alles soveel makliker gemaak om my droom ‘n werklikheid te maak.  Met die aankoms van ons gaste was die perde in die kamp langs die parkeerterrein. Later die aand kon die gebulk van die beeste wat teen die venue wei gehoor word.  Dit was net asemrowend.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Ek sou graag betyds wou wees, soos elke bruid is dit tog ons reg om laat te wees.  My man was maar baie op sy senuwees.

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


Ek was nog altyd gaande oor wit blomme en die kleur groen.  Dit was my inspirasie tot die ‘Greenery’ tema.  Ons wou ook graag ‘n gevoel van romanse en geselligheid voortbring.  Ek wou steeds alles minimalisties hou om seker te maak die skoonheid van die venue gaan nie verlore omdat dit juis my hart gesteel het.  Die tafel dekor sou nie so perfek gewees het sonder die leiding, beplanning en hulp van Arinda van der Merwe wat my blomme en dekor gedoen het nie.  Die tuin en canapé area was te danke aan die Perdekraal span en hulle ongelooflike insig en hulp, nie eers gepraat van die smaaklike kos nie.

Wat is die merkwaardigste oomblik van die dag?


As ek nou terug dink is daar soveel vreugdevolle oomblikke.  Daar is wel een asemrowende oomblik wat uitstaan naamlik die natuur wat goed was vir ons.  Daar was reën voorspel vir die dag dus ook ‘n plan B, indien ons nie in die tuin kon trou nie.  Maar moeder natuur was so goed vir ons. Dit het saggies gereën deur die dag en die oomblik van die troue het alles oopgetrek en het die son ons gegroet met sy strale om die seremonie in die tuin te kon hou.  Met foto tyd het die son so perfek gaan lê dat die fotograaf haar ten volle kon geniet.  Toe almal in die saal was het daar ‘n bui reën uitgesak.  Hierdie was die wonderlikste oomblik om weereens te besef hoe perfek die dag was en hoe Groot God is.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Daar was nie ‘n vaste skriftelike begroting nie.  Ons het dinge so bekostigbaar moontlik gehou en die mens wat ek is hou nie van fieterjasies nie.  Elke uitgawe was twee keer oorweeg en as dit nodig was gekry.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: