Morné & Rochelle se selfdoen plaastroue

Morné en Rochelle het ‘n ongelooflike mooi selfdoen troue gehad op die plaas waar Rochelle groot geword het.   Hulle het met behulp van familie en vriende baie gespaar op hul begroting om rede hul alles self gedoen het.

Vir ‘n selfdoen troue is die troue vol inspirasie en alles wat mooi is en ons weet Mooi Troues se lesers sal die troue baie geniet.

Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ons het in ons eerste jaar by Stellenbosch Universiteit in ‘n bekende kuierplek mekaar raak gedans.  Ons het daarna deur gemeenskaplike vriende weer ontmoet.  ‘n Paar koffie afsprake later was dit amptelik.

Morne se gemaklike, warm persoonlikheid, wat maak dat mense graag om hom wil wees het my eerste aangetrek en Rochelle se liefde en omgee vir almal om haar het my eerste aangetrek.

Wat was die tema van die troue en waar het jul julle inspirasie gevind?


Ons idee was ‘n gemaklike, maar stylvolle plaastroue.  Ons troue was op ons familieplaas in ‘n ou wynkelder.  Omdat die kelder nie ‘n trou venue is nie, was daar baie selfdoen en harde werk betrokke maar dit was 100% die moeite werd omdat dit vir my bitter spesiaal was om op my hartsplek, waar ek grootgeword het, te trou.  Ek het baie inspirasie op Pinterest gevind.  Ons grootste wens was‘n fees waar al die mense vir wie ons die liefste is om lang tafels kon sit en lekker saamkuier oor heerlike kos en wyn.

Was julle met wittebrood?


Ons was vir 10 dae Thailand toe op wittebrood.  Ons was in die Suide van die land en het ons tyd verdeel tussen 3 eilande: Koh Samui, Kho Pa Ngan en Kho Tao.  Dit was die lekkerste vakansie en was presies wat ons nodig gehad het: lang, luilekker dae op die strand, snorkel en kajak in die mooiste blou waters, heerlike kos en vriendelike mense.  Ons sal dit vir enige iemand aanbeveel.

Advies wat julle aan ander paartjies kan gee wat besig is om hul troue te beplan?


Moet nooit vergeet waaroor die dag gaan nie.  Dis regtig nie die moeite werd om jouself te bekommer oor die klein goedjies nie – dit steel net jou geluk!  Onthou dat die dag oor jul twee gaan en ‘n weerspieëling van jul moet wees – moet dus nie jouself te veel steur aan ander mense se idees nie.  Sê ja wanneer mense aanbied om te help – dit neem druk van jou  af en beteken ook vir hulle so baie om betrokke te kan wees.  Ons troue was die produk van hulp en inspanning deur ‘n super span van vriende en familie en dit was so spesiaal.

Wat was julle trou begroting?


Ons troue het binne begroting uitgewerk – dit het tussen R 120 000 en R 135 000 uitgewerk.  Ons het taamlik geld gespaar deur baie self te doen en dus min diensverskaffers te huur.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: