Dawie & Trienie se buitelug verlowing

Dawie en Trienie is die toonbeeld van verliefdheid in hierdie fotosessie en Mooi Troues kan nie wag om te sien hoe hulle trou foto’s gaan lyk nie, met idees soos ‘n klein bietjie reën op die dag, goeie kos en familie en vriende se teenwoordigheid kan die dag net ‘n pragtige samekoms wees. Lees onder ook die twee se mooi rede waarom hulle die area gekies het vir hul fotosessie asook hoe hulle die betekenis daarvan inkorporeer by hul toekomstige huwelik.  Die hele dag is vasgevang deur Nicolene Meyer Photography, beslis iemand wie jy ook kan oorweeg om te gebruik vir jou fotosessie.

Hoe het julle ontmoet?


Ons ontmoeting was eg “oudmodies”.  Die ou mense sê mos altyd; “Jy ontmoet jou eggenoot by die kerk”.  Wel aan die begin van 2016 op ‘n hervormde kerkkamp, het ons mekaar ontmoet. Dawie as finale-jaar op universiteit en ek ‘n eerstejaar.

Vertel ons van die eienskappe wat jul na mekaar aangetrek het


Wat Dawie aangetrek het is Trienie beeldskone blou oë. Toe ek haar naam vra en stip in haar oë kyk, daar het ek geweet dis die einde van my soek na ‘n vrou. Asook haar wil om ‘n taak te bemeester. Dit dryf haar tot sukses.

Wat Trienie aangetrek het tot Dawie is heel eerstens sy Christenskap. Daarna sy leiers eienskappe en sy wil vir die lewe.

Vertel ons meer oor jul verlowing


Dit is gewoonlik die vrou wat vertel van die verlowing… maar hier is dit uit die hart van n man – my toekomstige man!

Die aanstaande skoonpa was betrap met die vraag, stip en reguit: “Mag ek met Oom se dogter trou”, die dag voor ek haar gevra het. Ek het die ring gewys aan my aanstaande skoonouers en hulle het sonder vraag ingestem tot my aanvoeging in die familie. Ek het sonder enige aanwysing tot my aksies haar die volgende dag na ‘n klipkoppie toe geneem op haar oupa se plaas. Die natuur was al wat ons geselskap gehou het. Ek het op my knieg neergesak en haar gevra om my toekomstige vrou te wees. Die antwoord “Ja” kon nie vinnig genoeg haar lippe verlaat nie. Net daar het ek besef hoe gelukkige man ek is.

Vertel ons meer oor die verlowing fotosessie


Water word dikwels gesien as ‘n vorm van lewe. Ons het nie ‘n plek gekies met baie water nie, maar die blou kleure is as simboliek van water gebruik. Dit is dan ‘n aanduiding vir die lewe wat ons saam gaan begin. Ons het die natuur gebruik saam met mens gemaakte murasies, om die ou, sowel as nuwe aspekte van beide ons lewens te beskryf.  Soos ons lewens, het ons self murasies, maar wedersydse aanvaarding daarvan laat die lewe vorentoe groei. So wil ons saam in hierdie verhouding van ons vêrder groei.

Hoe lyk julle droom troue?


Ons droom troue is heel eerstens waar ons vir mekaar die “ja” woord kan sê met die wete dat dit die persoon is waarmee ons die res van ons lewe wil wees. En wat is n troue dan natuurlik sonder goeie verversings, kos en familie saam met hartsvriende. Asook goeie sokkie musiek saam n lekker atmosfeer. Om die kersie op die koek te sit sal dit wonderlik wees indien dit slegs n rukkie kan reën.

Diensverskaffers