Koos & Chandré se plaas verlowing

eOns deel vandag Koos en Chandré se verlowing fotosessie.  Die prag paartjie het verloof geraak op 25 April 2017.  Vir hulle verlowing fotosessie wou hulle iets eenvoudig, maar tog mooi hê.  Veral omdat dit die paartjie se heel eerste fotosessie saam was, wou hulle nie dit onnodige kompliseer nie.  As hierdie hulle eerste fotosessie was, kan ons nie wag om die trou foto’s te sien nie!  Koos en Chandré wou hê dat die verlowingfoto’s hulle twee  se persoonlikhede weerspieël.  Hulle het nie regtig geweet wat om te verwag nie, maar op die ou end van die dag was dit ‘n aangename ervaring.  Hul fotograaf het hulle die hele tyd op hul gemak laat voel met al sy grappies en stories.

Baie paartjies is bang om ‘n verlowing fotosessie te doen, maar ons by Mooi Troues moedig paartjies aan om dit wel te doen.  Dit maak jou meer gemaklik voor die kamera en dan voel jy nie so tens op jou troudag nie.  Lees meer oor Koos en Chandré se verlowing onder.

Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ek en Koos het in 2013 deur gemeenskaplike vriende ontmoet en begin te kuier.  Ons het ‘n paar keer saam na goed toe gegaan maar ons verhouding met mekaar het nooit na meer as vriende gegaan nie.  Ons het altyd kontak gehou met mekaar: Deur slegte tye was Koos altyd daar en het hy altyd ‘n skouer gebied.  In 2015 begin ons weer bietjie te gesels en opvang, en begin toe die een na die ander funksie saam by te woon.  Ons het maar net besef ons altwee hou baie van mekaar en is altwee aangetrokke tot mekaar.  Eintlik het dit net gebeu – ons was net dol verlief!  En soos hulle sê “Die res is geskiedenis.”

Vertel ons meer van julle verlowing?


Ons verlowing was iets vir die boeke!  Ek het een middag na werk plaas toe gery na ‘n besige dag.  Toe ek by die huis aankom het ek en sy ma tee gedrink en bietjie gesels.  Koos het ‘n oproep van sy voorman gekry wat toe vra dat Koos moet gaan help by die spilpunt wat nie wil loop nie.  Na ‘n gekerm en kla, want “Hoe kan die voorman nou nie die ding reg kry nie?”  Ek saam met hom lande toe gery waar die spilpunt glo nie reguit loop nie.  Ek het gekyk en gekyk maar vir my was daar niks verkeerd met die spilpunt nie; Wat weet ek nou van spilpunte af!  Ek het gevra of ek gou saam hom moet loop dan help ek kyk, vir wat dit werd is!

Ek loop toe voor tussen deur die mielies, met my kop af want al die mielie blare gaan deur my gesig.  Toe ek voor kom is daar ‘n hele tafel gedek met liggies, kerse en blomme!  Toe ek omdraai, sak Koos af op een knie en vra of ek met hom sal trou.  Ek was so uit die veld geslaan, ek het nie geweet wat om te sê nie. Daar was ‘n hele tafel gedek vir my en hom, eet goedjies, sjampanje, wyn en ‘n video kamera wat die hele aksie op kamera vasgevang het.  Koos het in planttyd besluit hoe hy my gaan vra.  Hy het toe al ‘n stuk in die land nie geplant nie, sodat die stuk sal oop en skoon wees as hy my wil vra.  Die spilpunt was reg oor daardie stuk gestop sodat al die liggies aan die spilpunt kan hang.

Ons verlowing was ongelooflik spesiaal!  Koos het  my juis daar gevra, omdat dit is waar sy hart lê.  Daarna is ons terug huis toe waar my male en sy male ons verras het met ‘n ete en sjampanje om die verlowing te vier.

Vertel ons wat is jul droom troue?


‘n Groot “boere” troue met al ons vriende en familie en mense wat ons ken wat ons graag op ons groot dag wil hê.  Ek en Koos trou in die dorp in ‘n ou klip kerk.  Die onthaal sal dan op die plaas in ‘n groot stoor plaasvind.  Ons soek lekker kos en musiek sodat die mense lekker kan eet en saam kuier tot die son opkom!  Ons wil nie by ‘n venue trou waar jy beperk is tot die hoeveelheid mense wat jy mag nooi en beperk is tot hoe laat jy kan troue hou nie.  Op ons groot dag wil ons hê almal wat van wyd en suid kom moet saamkuier en ons troudag geniet.

Artikel Krediet: