August & Rozaan se verlowing fotosessie

Hierdie paartjie wou iets spesiaal en anders doen as die gewone, informele verlowings fotosessies en het dus besluit op ‘n meer formele aanslag tot die geleentheid.  Die foto’s is pragtig en alhoewel hulle formele klere aan het, lyk hulle steeds ontspanne tydens die fotosessie.  Rozaan se ment-groen rok pas ook perfek in by die omgewing rondom hulle sonder om teveel in te skakeer dat die fokus verloor word.  Lees onder oor die spesiale manier hoe August vir Rozaan gevra het om sy vrou te word asook hoe hulle mekaar ontmoet het.

Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ons het albei in Potchefstroom studeer, hy by CTI en ek by NWU.  Ons het een aand ontmoet by ‘n braai deur ‘n gemeenskaplike vriend wat saam met August studeer het.  Ons het begin gesels en die hele aand saam om gekuier.  Ons het dadelik gekliek.

Watter eienskappe het jul na mekaar aangetrek?


Wat my aantrek van August is sy sin vir humor, hy laat my altyd lag.  Sy sagte geaardheid en die manier hoe hy my hanteer.  Hy dra my op sy hande.  En natuurlik die feit dat hy baie aantreklik is!

Wat my aantrek van Rozaan is haar glimlag en onvergeetlike bruin oë. Sy is altyd vriendelik en ‘n goedhartige mens wat altyd die mense om haar help waar sy kan. Al die eienskappe wat ek in ‘n vrou wou hê.

Vertel ons meer van julle verlowing?


Ons het verloof geraak op ons vyf jaar herdenking.  August het vir ons ‘n naweek weg geboek by The Blades Hotel.  Die Saterdag was ons herdenking en hy het vir die aand ‘n piekniek in die bos gereël.

Dit was net ons twee in die bos onder die sterre.  Nadat hulle ons kosmandjie vir ons gebring het, het hy op sy knieë gegaan en my gevra om sy vrou te wees.  Dit was ‘n baie romantiese aand en definitief die beste aand van my lewe.

Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?


Ons wou iets anders doen as die gewone “Denim en wit hemde” foto’s.  Dit gebeur nie baie dat ons die geleentheid kry om baie formeel aan te trek nie en hierdie was die perfekte geleentheid.  Ons wou moeite doen, die foto’s is veraltyd en dit is tog iets wat mens net een keer doen.

Vertel ons wat is jul droom troue?


‘n Klein winter troue, in ‘n woud, saam met ons naaste familie en vriende met lekker kos en lekker kuier.


Diensverskaffers: