Jonáthan & Anouska se Gesellige Herfs Troue in die Koue Bokkeveld

Jonáthan en Anouska se groot dag het by die eksklusiewe Kaleo Manor afgespeel, geleë in die skilderagtige Koue Bokkeveld, hoog bo die Ceres-vallei. Van die begin af het hierdie asemrowende plek al hul vereistes vervul en die perfekte toon vir hul viering gestel.

Kaleo Manor bied omvattende troubeplanning en dekor, asook gerieflike verblyf vir gaste, wat die hele ervaring naatloos en sorgvry maak.

Boonop het die uitmuntende instandhouding van die plaas en die treffende natuurskoon as die ideale agtergrond vir prentjiemooi troufoto’s gedien wat die paartjie vir altyd sal koester. Alet van Heerden, die dryfkrag agter Kaleo Manor, het met haar deeglike koördineringsdiens die paartjie se verwagtinge oortref.

Die onthaalarea is omskep in ’n gesellige kuierplek versier met ’n pragtige mengelmoes van ryk herfskleure. Daarbenewens het strategiese beligting ’n groot rol gespeel in die skep van die regte stemming terwyl talle feetjieliggies gekombineer met blootgestelde gloeilampe ’n warm en intieme gloed oor die tafels gewerp het.

Anouska het beeldskoon gelyk in haar trourok. Die fokus van die ontwerp het geval op die fyn versierde rug gedeelte met delikate steentjies wat ’n sagte glans geskep het en haar voorkoms elegant en tydloos laat vertoon het.

Op sy beurt het Jonáthan haar voorkoms aangevul in ’n diep groen troupak. Sy voorkoms is afgerond met ’n spierwit hemp en ’n beige roomkleurige das wat ’n skoon en deftige geheel geskep het.

As jy ook droom van ’n unieke feesviering in die berge, besoek gerus die Mooi Troues aanlyn trougids om top diensverskaffers en venues in Suid-Afrika te ontdek.

Trourok:


My trourok het ek onverwags gevind by ʼn kliënt van my ma se dogter wat haar rok wou verkoop. Ja, ek kon dit self nie glo nie..

Die spierwit ‘fitted’ rok het perfek om elke kurwe gesit, met die mooiste kant. By die rug gedeelte is daar klomp fyn steentjies op wat net daardie ekstra glans gegee het. Sonder om twee keer te dink het ek besluit op hierdie spesiale rok vir ons perfekte dag.

Meer oor Kaleo Manor


Kaleo in die Koue Bokkeveld is die ideale bestemming vir ’n onvergeetlike troue of funksie. Hierdie venue bied ’n kapel op die perseel en ’n ruim buitelug area vir enige styl van viering. Geleë op ’n rustige plaas naby Prince Alfred Hamlet, ver van die stadsgewoel, bied dit ware stilte en skoonheid. Kaleo akkommodeer 20 tot 200 gaste en bied selfsorgverblyf vir tot 63 gaste, plus kampeerplek vir 60.

Verloof- en Trouringe:


Jonáthan het ʼn breë, goue en simplistiese troupant. Om Jonáthan se troupant uniek en eie aan ons te maak het ek aan die binnekant van die ring ons name se voorletters en troudatum laat ingraveer.

My verloofring is ook eenvoudig en elegant, met ʼn goue pant en ʼn ovaal vormige diamant.

My troupant het ook twee “teardrop” vormige diamante wat, soos ʼn legkaart, aan weerskante van my verloofring se ovaal diamant inskuif.

Paartjie se Verlowing:


16 Desember 2023 was ʼn baie stresvolle dag vir Jonáthan! Ons was op pad na “Clifton 4th Beach” vir ons paartjie fotosessie. Jonáthan was die hele ent bitter stil en ek het aangeneem dat die man glad nie uitsien om agter die lens te staan vir ʼn paar foto’s nie (wat ʼn mens nie doen vir liefde nie).

Ons het boonop ʼn afdraai gemis en dit het veroorsaak dat ons 10 min laat vir die fotosessie gearriveer het. Moedeloos en raadop vir Jonáthan se skielike stilstuipe wou ek die fotosessie so gou as moontlik agter die rug kry.

Met haas en windverwaaide hare het ons op die strand aangekom en was skaars 10 minute in die fotosessie in toe Jonáthan die knieg buig met die oop ring boksie in sy hand. Die oomblik was vir hom te groot, met tranerige oë kyk hy verwagtend op na my, sonder om te besef dat hy skoon vergeet het om vir my die ‘groot vraag’ te vra. Ek het afgesak om hom te omhels en in sy oor gefluister. Jonáthan het sy “JA- antwoord” gekry.

Trou Dekor en Styl:


Die begin punt was natuurlik die venue.

Ons het die Kaap byna plat gery opsoek na ʼn stylvolle plek wat beide ons persoonlikhede weerspieël en Kaleo Guest Farm was net die perfekte venue daarvoor. Die plek het regtig al die boksies getiek van die beplanning, dekor tot ons gaste se verblyf behoeftes.

Die onthaal het gelyk soos ʼn sprokiesverhaal met die mooiste mengelmoes van herfs kleure asook ʼn klompie feetjie ligte en ‘naked bulbs’ wat ʼn warm, gesellige atmosfeer geskep het. Alet van Heerden, Kaleo se ‘boss lady’, het al ons verwagtinge oortref.

Die plaas word só mooi instand gehou, omring met ʼn magiese natuurskoon wat ook natuurlik gesorg het vir prentjiemooi troufoto’s.

Trou Begroting en Beplanning:


Met 120 gaste en ’n trou begroting van R350 000 is Jonáthan en Anouska se droomtroue oor ’n tydperk van ’n jaar en drie maande beplan deur Alet van Heerden.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: