Francois en Dominique se liefdesverhaal bewys dat dit altyd die moeite werd is om vir die regte oomblik te wag. Al was hulle in dieselfde skool, het hulle mekaar eers jare later in Naboomspruit werklik raakgesien. By Mooi Troues deel ons nou hul “Old Hollywood” verlowing fotosessie in Hazelwood met julle.
Vir hul verlowing fotosessie in Hazelwood het die paartjie besluit om weg te beweeg van die tradisionele veldfoto’s en eerder ’n “Old Hollywood”-styl te kies. Hierdie is ’n tema wat tans groot opslae in die troubedryf maak. Geïnspireer deur Pinterest en die argitektuur van stedelike geboue, het hulle ’n tydlose en gesofistikeerde atmosfeer geskep wat herinner aan die glansryke filmsterre van vroeër jare.
Dominique het ’n stylvolle kort rokkie, versier met pêrels, gedra. Haar voorkoms is afgerond met ’n groot wit strik in haar hare, ’n hartvormige sonbril en skoene wat ook met pêrels versier is om by haar rok te pas. Francois het haar styl perfek gekomplimenteer in ’n netjiese swart pak, ’n vars wit hemp en ’n swart das.
Wil julle ook ’n pragtige verlowing fotosessie hê met ’n spesifieke styl of tema? Besoek dan Mooi Troues se aanlyn trougids om fotograwe te vind wat julle sal help om jul droom prentjie te verwesenlik.
Die sessie dien as die perfekte inspirasie vir paartjies wat op soek is na iets uniek, maar steeds stylvol. Die kontras tussen die moderne stedelike agtergrond en hul formele uitrustings vang die opgewondenheid van hul nuwe seisoen as verloofdes pragtig vas. Rol af en geniet Francois en Dominique se “Old Hollywood” verlowing fotosessie in Hazelwood.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons was saam op skool gewees, maar was nooit bewus van mekaar nie. Na skool het ek gaan studeer en Francois het in Naboomspruit gaan werk. In my tweede jaar van universiteit het ek by my ouers kom kuier vir die naweek. Ek was die aand saam vriende uit toe ek in Francois raakgeloop het. Dit was beslis liefde met eerste oog op slag en ʼn week later het hy my op ons eerste ‘date’ gevat. Ons was net oor drie jaar saam voordat hy my gevra het om te trou.

Die groot vraag:
Ons het verloof geraak op die 19de Julie 2025. Hy het my verras met ʼn piekniek en blomme by die Euphoria Golf baan, buite Naboomspruit. Sy ma, Martie, het hom gehelp om die verlowing bymekaar te sit. Ek het eers na die tyd uitgevind dat hy in daardie week my ring ontvang het en my ouers, Brent en Susan, gaan vra het vir my hand.

Hoekom ons mekaar liefhet:
Francois: Haar goedhartigheid en haar opregte omgee vir ander mense maak haar besonders. Sy het ’n sagte hart en staan altyd gereed om te help
Dominique: Sy sin vir humor bring lig en vreugde in my lewe. As ’n gelowige man leef hy sy waardes elke dag uit.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons troudag is 9 Oktober 2026.

Die verloofring:
My verloofring was ʼn verrassing. Hy het my ring laat maak en het saam met die juwelier gewerk aan die ontwerp van my ring.

Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons wou eerstens die oomblik, liefde en opgewondenheid as nuwe verloofdes vasvang. Asook mooi verlowing foto’s hê vir persoonlike en troue gebruik.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Ons het met behulp van Pinterest afgekom op hierdie baie klassieke, old Hollywood styl van foto’s. Die foto’s word geneem in stedelike gebiede met hoë geboue. Ons wou ons en ons fotograaf se eie unieke interpretasie van hierdie foto’s aan die lewe bring.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Ons verwagtinge is om nader aan mekaar te groei as ʼn nuut verloofde paartjie, asook aan ons Pappa God tydens die trou beplanning.
Ons vrese is om uit tyd uit te hardloop met die trou reëlings.

Visie vir droomtroue:
Ons trou by Bell and Blossom in Montana, waar ons ’n intieme viering met ongeveer 80 gaste beplan. Die dag sal gekenmerk word deur ’n elegante en klassieke kleurskema met subtiele sjampanje-aksente. Ons grootste wens is dat die seremonie liefde, warmte en God se teenwoordigheid sal uitstraal. Tydens die onthaal sien ons daarna uit om saam met ons naaste familie en vriende die begin van ons nuwe lewe as man en vrou te vier.

- Fotograaf: Fern Green Photography | Kontak
- Fotosessie Ligging: The Club Retail, Hazelwood
- Verloofring: The Urban Jeweler Co | Kontak
