Rumario & Chriszelda se Troue in die Robertson Vallei

In dié artikel deel ons Rumario en Chriszelda se troue in die Robertson Vallei met julle.  Die Robertson gebied is ʼn populêre trou bestemming vir paartjies, as gevolg van die pragtige landskappe en fasiliteite wat die area bied, ook bekend as die vallei van wyn en rose.

Chriszelda en Rumario het getrou by Wederom Guest Farm & Wedding Venue, ʼn beeldskone trou venue, geleë diep in die Langeberge.  Enige paartjie se droom trou bestemming omring deur die pragtige landskappe van die gebied.

Hulle het die mooiste buitelug seremonie gehad in die versorgde tuine van Wederom Guest Farm & Wedding Venue.  Trou gaste kon die prentjiemooi uitsigte en natuurskoon om hul geniet gedurende die seremonie.

In die onthaal lokaal was gaste tafels versier met ʼn neutrale kleur palet van groen en wit, wat só mooi gepas het by die tydlose gevoel van die paartjie se troue.  Ons hou baie van die skoon lyne en amper simplistiese voorkoms van die paartjie se tafel dekor.

Wit eetgerei met tikseltjies goud gee die tafel ʼn baie deftige voorkoms.  Die ligter dekor elemente en teksture staan só mooi uit op die hout tafels en stoele.  Dit gee ʼn kombinasie van ʼn meer rustieke, maar nogsteeds baie moderne voorkoms. Met die groen en wit blom ontwerpe op die tafel bring dit weer daardie natuur element tot binne.

Die paartjie se troue was ʼn lekker gesellige kuier saam met familie en vriende in die pragtige Robertson Vallei.

Rol af om meer te lees oor Rumario en Chriszelda se liefdesreis en om hul troue se storie te geniet.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het ontmoet terwyl ek in 2017 vakansiewerk by Tekkie Town gedoen het. Ek het pas matrikuleer. Rumario het in die winkel gekom en met my bestuurder gesels. Ons het daar mekaar vir die eerste keer gesien. Na dit was dit asof ons mekaar oral elke dag raakgeloop het of in verbygang gesien het. Hy het toe sy neef wie ek ook ken (maar nie geweet het dis sy neef nie) gevra of hy my dalk ken. Lang storie kort.  Hy stuur my toe ʼn inboks boodskap en die res is geskiedenis.

Rumario is in landbou so hy eet, slaap en lewe vrugte. Ons het op 1 Mei 2022 verloof geraak tussen die appelboorde van Donkerbos Landgoed in die Koue Bokkeveld. Nou ons het gereeld gepraat van afhaak, maar glo my as ek sê dat ek GEEN idee gehad het dat hy daardie dag die gróót vraag gaan vra nie. Nietemin, dit was een van die mooiste oomblikke in ons lewens.

Trourok:


Ek het my trourok gehuur. Omdat ek ʼn baie praktiese mens is, het ek net besluit dat ek nie ʼn trourok wou laat maak nie. Ek weet dat ek dit nooit weer gaan aantrek nie, so om te huur was die beste opsie.

Aanvanklik het ek 100% geweet dat ek nie ʼn bandelose trourok wou hê nie. Dit is ʼn silhoeët wat ek vermy wanneer ek klere koop. Elmarie by Le Petit Wedding Boutique het my toe aangemoedig om ʼn “oopkop” te hê. Ek is só bly ek het na haar geluister! Toe ek my trourok die eerste keer aanpas het ek onmiddellik geweet dat dit my trourok is.

Verloof- en Trouringe:


My verloofring is ʼn ovaal snit solitaire geset op ʼn dikker-na-dunner geelgoud band. My troupant is ʼn geelgoud wensbeentjie met ronde snit diamante. Alles baie deftig. Al wat ek vir Rumario gevra het is om iets tydloos en elegant te kry. Hy het homself letterlik oortref!

Rumario se ring is ʼn geelgoud half ronde band met ʼn klein inskripsie aan die binnekant. Dit is een van ons gunsteling Bybelverse. Markus 10 vers 9.

Ons het ons ringe gekies met die gedagte dat hierdie die ringe is wat ons vir die res van ons lewens (Godswil) gaan dra. Dit was belangrik dat ons nie gaan met ontwerpe waaroor ons oor 5 tot 10 jaar sou spyt wees oor as gevolg van tendense nie.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Ons fotograaf, BESLIS! Chanté is letterlik die beste ooit! Vanaf ons verlowing fotosessie tot en met die oomblik toe ons gegroet het die aand van ons troue. Voordat sy gegaan het, het sy my en Rumario eenkant geroep, weg van die gedruis binne die onthaalarea.

Ek het gedink sy wou dalk net groet of die ergste, sê dat iets fout was of iemand haar te nagekom het. Niks het my voorberei vir wat gevolg het nie.

Sy het beide my en my man se hande geneem en vir ons gebid! Die mooiste, kragtigste gebed! As dit nie bo en behalwe is nie, dan weet ek nie. Natuurlik maak dit nie seer dat sy absoluut wonderlik is in haar werk nie. Ek meen. Kyk hoe pragtig is ons foto’s!

 

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Die rustigheid van dit alles, eerlik! Min mense glo ons wanneer ons sê dat ons 0% stres gehad het oor- en op ons troue. Ons het 100% saamgewerk voor die troue en dit het dinge net soveel makliker gemaak. Albei van ons was so ʼn gelukkige trou paar! Ons het beide dieselfde herinneringe van die dag omdat ons heeldag saam was en saam met almal gesels het.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Kanselleer die lawaai uit! Soveel mense gaan soveel opinies hê. Onthou om nie sig te verloor van waaroor die dag eintlik gaan nie.  Dit is die beginpunt van die res van jul lewens saam.  Begin vroeg genoeg te beplan, as julle kan, natuurlik. Dit neem soveel stres van ʼn mens af.  Kontroversiële opinie: Moet nie in die haasgat afgaan van #weddingtok is nie. Ja, kry inspirasie vanaf ander troues, maar weet wanneer om op te hou. ʼn Oorvloed van idees kan lei tot verwarring en oorweldiging.

Meer oor Wederom Guest Farm & Wedding Venue:


Wederom het ʼn fassinerende geskiedenis wat terug dateer na 1933 waar ʼn unieke tapisserie van Italiaanse, Nederlandse en Suid-Afrikaanse invloede aanleiding gegee het tot die plaas se eiesoortige karakter en sjarme. Geleë diep in die Langeberge in Robertson, bekend as die vallei van wyn en rose, is Wederom ideaal geskik vir een van die mees spesiale dae in enige bruid en bruidegom se lewens.

By Wederom, kom die Boland se natuurskoon, ʼn treffende, kontemporêre trou venue en ʼn diep persoonlike beplannings ervaring saam om die trou-ervaring onvergeetlik te maak vir elke paartjie.

Die venue kan 120-150 gaste akkommodeer. Met 12 volledig gemeubileerde gastehuis-eenhede wat slaapplek vir 24 – 30 mense bied vir diegene wat wil oornag. ‘n Pragtige wittebroodsuite, wat ook ideaal ingerig is vir die bruid en bruidsmeisies om in reg te maak is onlangs bygevoeg om die Wederom aanbieding nog meer geskik te maak vir die perfekte Wynland-ervaring!

Trou Venue:


Om ʼn trou venue te kry wat beide ʼn pragtige venue is en goeie verblyf opsies het was vir ons ʼn top prioriteit! Ons wou nie met ʼn venue gaan wat sou vereis dat ons te veel dekor moet doen voordat dit mooi lyk nie.

Ek het op Instagram op Wederom se profiel afgekom en onmiddellik ʼn gereël om die venue te kyk. Prettige feit! Wederom is die eerste en enigste trou venue waarna ons gaan kyk het! Ons het onmiddellik na die besoek aan Wederom ons datum bespreek.

Trou Dekor en Styl:


Weereens, die hele tema vir ons troue was tydloos. Ons het met neutrale kleure en groen gegaan. Met elke besluit wat ons geneem het rakende die dekor het ons onsself die volgende vraag gevra.  “Sal ek hierdie dekor item in my huis sit?”  Dit het dinge SOVEEL makliker gemaak in terme van besluitneming.

Eerste Dans:


Can You Feel The Love Tonight (Viool Instrumentaal weergawe)

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het in totaal 58 gaste onthaal en het ʼn begroting van omtrent R 1,700 per persoon gehad.  Hulle het die troue self beplan oor ʼn jaar tydperk.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: