Schalk & Mari-Louise se Kleurvolle Winter Troue

Dit is met groot opgewondenheid wat ons Schalk en Mari-Louise se kleurvolle winter troue met Mooi Troues se lesers deel.  Geleë op die Hemel en Aarde pad (R320) tussen Hermanus en Caledon het die paartjie die knoop deurgehak.  ʼn Gesellige en kleurvolle troue het altyd verfrissende atmosfeer!

Die asemrowende One and Only Heaven & Earth trou venue akkommodeer gemaklik ʼn minimum van 60 en ʼn maksimum van 250 gaste in die pragtige glas gebou wat spesifiek ontwerp is vir funksies, soos troues.  Die lieflike troue venue  is  ʼn vermenging van die moderne en klassieke style met ʼn titseltjie industrieel.

Ons is mal oor die kleurskema van hierdie troue.  Met kleurvolle blomme en goue titseltjies van dekor, het die troue beslis al te fraai en prettig voor gekom.  Die liggies het die dekor en blomme pragtig beklemtoon.  Alle elemente van dekor het moeiteloos saamgewerk en het die troue as geheel só verwelkomend laat lyk.

Dit was ʼn onvergeetlike buitelug seremonie wat plaas gevind het.  Daar is net iets só spesiaal om tussen die rustigheid van die natuur te trou.

Die bruid se trourok was die toonbeeld van stylvol en klassiek.  Haar skoonheid was perfek gekomplimenteer deur die ontwerp van die trourok.  Die bruidegom het verder bygedra tot die stylvolle en klassieke voorkoms met sy swart pak en strik das.

Ruberns Photography het prentjie mooie fotos geneem by die troue.  Met die veld agtergrond en goue skynsel van ligging kon die fotos nie beter uitdraai nie.  Dit is só absolute mooi fotos vir die paartjie om vir altyd die spesiale dag te koester en onthou.

Rol af om meer te lees oor Schalk en Mari-Louise se kleurvolle winter troue en om meer te lees oor die paartjie se liefdesreis!

 

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar op Stellenbosch ontmoet, waar ons altwee studeer het.  Die staptoer saam met ʼn groep studente in die Outeniqua-woud was die begin van ʼn lewe van avontuur saam.

Op die oggend van ons verlowing het ek ironies genoeg ʼn rokpas-afspraak by Robyn Roberts gehad.  Ons het geweet ons dink aan trou en met die feit dat ons in 2023 Australië toe sou trek, wou ek darem ook net bietjie van die hele “verloof-wees” ervaring vir myself gun in Suid-Afrika.  Ek en my (uiteindelike) strooimeisies sou daarna gaan high tea in Franschhoek.  Min wetend dat Schalk vir my by ʼn uitkykpunt op die Boschendal-wynlandgoed wag met ʼn bottel Proposal Hill MCC en ʼn ringboksie in sy sak.  Eers toe my suster vir die hekwag sê ons is hier vir die uitkykpunt, het ek geweet wat volgende kom!

Verloof- en Trouringe:


Ek is absoluut mal oor proteas en dit was op die ou einde ook deel van ons troublomme.  Op ʼn manier wou ek dit inwerk in my verloofring terwyl dit steeds eenvoudig bly. Ek het vir Schalk baie prentjies gewys, maar hy het toe self alles gereël met die juwelier sonder my wete.  My ring het fyn proteablare wat die diamant vashou.

Ons het besluit om ons trouringe in Australië, ons nuwe tuiste vir die volgende paar jaar, te laat maak om iets van die ou en nuwe te kombineer.  Ek het ʼn pragtige fyn ring op die internet gesien met ʼn paar mooi-gespasieerde steentjies.  Na ʼn lang gesoek het ons ʼn wonderlike juwelier in Sydney gekry wat regtig ons visie lewe kon gee.  My trouring is op ʼn knife edge band gedoen met 7 steentjies wat ʼn entjie uit mekaar geplaas is.

Schalk se ring is titanium aangesien hy iets eenvoudig, duursaam en lig gesoek het.  Die oppervlak is brushed metal met bevelled edges.  Beide my ringe is van pure platinum gemaak aangesien dit vergelykbaar in prys is met witgoud, en nie ʼn buitenste lagie het wat mettertyd sal afvryf soos met witgoud nie.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Dit was so lekker om al ons gunsteling mense weer te sien nadat ons reeds 5 maande in Australië gebly het en kort na die troue weer sou terugkeer.  Ek en Schalk het ook tydens ons fotosessie, ʼn oomblik geneem om mekaar se voete te was as simboliek dat ons mekaar sal dien soos die Here ons wys.

Ons het ook in Sydney gegaan vir danslesse op Riana Nel se liedjie, Vanaand. Nie net kan ons, ons vereenselwig met die woorde nie, maar dit was ʼn spesiale ervaring om ʼn dansroetine te hê wat net vir ons uitgewerk is vir ons eerste dans.

Ons altwee is lief vir lekker kos.  So ons het besluit om glühwein as verwelkomingsdrankies te bedien, lekker warm in die winter!  Asook mac-and-cheese balls as ʼn laatnag peuselhappie.

ʼn Hoogtepunt van die seremonie was dat een van my strooimeisies die troumars op tjello gespeel en opgeneem het, sodat ek daarop kon instap.

Meer oor Ruberns Photography:


Ruberns Photography is ʼn trou fotograaf wat troues afneem in beide die Wes-Kaap en Gauteng.  Romanties, pret en eg, Ruberns Photography se foto’s sal wil hê jy moet weer van voor af verlief raak.  Ruberns Fotografie is ʼn Kaapstad-gebaseerde trou fotografie span wat daarop gefokus is om ware liefdesverhale vas te lê.  Ruwan Lopes, fotograaf en eienaar van Ruberns Fotografie het begin om troues te dokumenteer in 2016.  Met meer as 7 jaar en 100 troues het hulle al die ervaring om jou baie spesiale dag sonder kommer af te neem.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Ons het net positiewe terugvoer om te gee oor ons diensverskaffers.  Almal was so professioneel en het ons soveel vertroue gegee dat ons dag mooi sou afloop.

Wie wel uitgestaan het was die bestuur van THE ONE, ons venue.  Veral ook omdat ons nie ʼn troubeplanner gebruik het nie en dus self met al ons diensverskaffers reëlings moes tref.  Angelo, met wie ons in die maande voor die tyd meestal gewerk het, was deeglik, agtermekaar en het regtig aan die “klein dingetjies” gedink sodat ons dag perfek geloop het.  Charné, ons op-die-dag-koördineerder, was absoluut fantasties en ons sou die tydbestuur en koördinering van die kombuis, dekor en uitleg in niemand anders se hande los nie.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


  1. Jou begroting is natuurlik belangrik.  Jy kan op sinvolle maniere kostes verminder – bv. daar bly amper altyd kilogramme kos oor by troues.  Ons het ʼn formele voorgereg oorgeslaan en slegs ʼn harvest table tydens die skemerkelkie-uur gehad.  Selfde met nagereg – daar was troukoek en dit was dit.  Ons gaste het gesmul en ons het nie kos (en geld!) gemors nie.
  2. Kies die noodsaaklike en hou daarby.  Mens kan nie ál die oulike idees op Pinterest probeer nie, aangesien dit tog net een dag is.
  3. Vermy modegiere as dit nie vir julle prakties gaan wees nie.  Ons moes bv. mooi dink of ʼn sjampanje-toring vir ons sou werk met ons hoeveelheid gaste en venue-uitleg, en het uiteindelik daarteen besluit.
  4. Doen alles in jou vermoë om die dag rustig te maak, dit gaan regtig só vinnig verby soos almal sê!  Dit het baie gehelp om te delegeer en ʼn deeglike tydlyn van wie-doen-wat vir ons gesinne, gevolg en diensverskaffers te stuur.
  5. Bruidegom: kies jou Best Man/MC goed.  Iemand met klas, maniere en selfvertroue gaan jou aand verryk en regtig bydra tot jou, jou nuwe bruid en jou gaste wat terugdink aan ʼn wonderlike troue.

Trourok:


Met dié dat ons geweet het dat ons na Australië sou verhuis, het ek aanvanklik my daarop berus om ʼn rok in Sydney te koop by ʼn maatskappy wat rokke regoor die wêreld verkoop op bestelling.  Ek wou aanvanklik ʼn noupassende rok met kant bo-oor kies, maar my uiteindelike rok kon toe nie méér verskillend wees nie.  Met die einste verlowingsdag rokpas-afspraak het een van my strooimeisies voorgestel dat ek sommer net een rok sonder kant aanpas terwyl ek daar is.

Alhoewel daardie rok aanvanklik strikke vir bandjies gehad het, kon ek nie glo hoe mooi dit lyk toe ek dit aantrek nie en het dadelik begin huil.  Nodeloos om te sê was dit die rok wat ek uiteindelik gedra het op die dag, met slegs die bandjies wat verander is.  Die rok is noupassend bo, met knopies op die rug, bandjies in ʼn V-vorm agter en ʼn lang sleep wat kon opbind vir dans.  Die materiaal was ʼn swaarder en meer gestruktureerde satyn en het so mooi die vorm gehou.  Ek het ʼn wit wol jassie daarby gedra aangesien ons in die winter getrou het.

Trou Dekor en Styl:


Persoonlik is ons mal oor blomme en alhoewel dit gewoonlik een van die duurder elemente is, was dit vir ons belangrik om helder blomme te hê by ons troue.  Ons het ʼn donker seegroen gekies (wat ook die kleur van die strooimeisies se rokke was) met warm rooi, pienk en oranje skakerings van blomme.  Op die tafels was daar ook elemente van goud/geelkoper ingebring.  Ons het baie fairy lights in die venue gehad en saam met die fire pits buite het dit ʼn lekker warm atmosfeer geskep te midde van die winter.

Ons wou graag ʼn gesellige troue hê en het besluit op drie lang tafels, wat ons in segmente ingedeel het.  Elk met die name stede wat vir ons sentimentele waarde het as tafelname – in plaas van tafelnommers.  Ons geskenkies aan gaste was tuisgemaakte soetkoekies wat soos ʼn bruid en bruidegom se rok en tuxedo versier is.  Vir elkeen van ons gaste het ons besluit om ʼn persoonlike briefie te skryf na ons self by ʼn ander paartjie se troue iets soortgelyk ontvang het en gedink het dat dit baie spesiaal is.

Trou Venue:


Dievenue was The ONE Heaven and Earth, in die Hemel-en-Aarde Vallei naby Hermanus.  Ons wou baie graag buite trou indien die weer dit sou toelaat.  Ons het baie van die groot glasvensters gehou wat by daardie, en talle soortgelyke, venues was.  Aangesien meeste van ons vriende in Kaapstad woon, wou ons ook nie gehad het dat hulle te ver moes reis nie.  In die winter is die Hemel- en-Aarde-vallei só mooi en die venue se eenvoud was perfek gewees van die eerste oomblik wat ons dit gesien het.

Die feit dat The ONE se dekor/argitektuur baie neutraal is, het gemaak dat ons kleurskema baie mooi ingebring kon word.  Die hele uitleg van die venue – van seremonie -area tussen die dennebome, grasperk vir drankies en lawn games, groot danssaal en fire pits in die binnehof het alles perfek gepas by ons droom vir ons troue.  Ons was ook aangenaam verras oor die hoeveelheid ekstras wat ingesluit was, wat koördinering en beplanning vanaf ʼn ander kontinent soveel makliker gemaak het.

Meer oor The One and Only Heaven & Earth:


THE ONE Heaven and Earth is ʼn venue wat meer as net ʼn spasie bied; dit is ʼn leë canvas wat kan voorsien na enige persoonlike droom.  Met die natuurryk atmosfeer as jou inspirasie, het jy die vryheid om ʼn geleentheid te skep wat werklik jou unieke styl weerspieël.  THE ONE Heaven and Earth akkommodeer gemaklik ʼn minimum van 60 en ʼn maksimum van 250 gaste in die pragtige glas gebou wat spesifiek ontwerp is vir funksies soos troues.  THE ONE Heaven and Earth is geleë op die Hemel en Aarde pad (R320) tussen Hermanus en Caledon.

Eerste Dans:


Vanaand – Riana Nel

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het 6 maande self aan hul troue beplan en die koste het ongeveer R3 300 per kop beloop.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

      Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

      Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

      Artikel Diensverskaffers: