Charl & Charlene se Buitelug Bosveld Troue

Met soveel opgewondenheid deel ons Charl en Charlene se buitelug bosveld troue op Mooi Troues met ons lesers.  Ons is absoluut gaande oor die neutrale kleurpalet van die paartjie se troue.  Dit pas so mooi in by die hele bosveld tema van hul troudag, omring deur die prentjie mooi landskappe van die bosveld en die wildsplaas waar hul getrou het.  In die foto’s hieronder sal jul ʼn paar wilde diere ook sien.

Wanneer dit kom by hul trou onthaal is ons totaal en al versot daarop.  Daar is net iets anders aan ʼn buitelug onthaal onder die sterre.  Die paartjie het 50 gaste onthaal by ʼn wildsplaas in Limpopo.  Omring deur die geluide van wilde diere en die natuurskoon wat mens  in so ʼn gebied vind.  Vind oulike trou venues in Limpopo in Mooi Troues se Trougids waar jy jou sprokies troue kan geniet.

Charlene en Charl het twee lang tafels gehad by hul trou onthaal en die paartjie het hul eie tafel reg in die middel gehad.  Bedek met liggies wat vanuit die bome hang en in die donker aandlig ʼn romantiese effek gee aan die onthaal.  Hulle trou dekor is simplisties gehou met tikseltjies, groenigheid wat deurkom.  Die paartjie wou nie hê die dekor moet die aandag aflei van die pragtige ligging nie.

Charlene se trourok het fyn detail van bo tot onder, stylvol, maar nogsteeds baie vloeiend en gemaklik.  Charl het ʼn ligte troupak aangehad wat ingepas het by hulle trou dekor se kleurskakering.  Dit is altyd mooi as alles so goed inmekaar vloei.

Die paartjie het ʼn heerlike wittebrood geniet in die Maldives! Enige pasgetroude paartjie se droom wittebrood bestemming.  Rol af om meer te lees oor Charl en Charlene se buitelug bosveld troue en liefdesreis.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het ontmoet by ʼn werksfunksie, maar dit was nie die regte tyd nie en na 4 jaar het die Here uiteindelik besluit dis die regte tyd vir ons en ons is so dankbaar!  Hy het na 8 maande met ʼn sonsondergang my gevra om sy vrou te wees op die strand in Dwarskersbos.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was vir 5 maande verloof toe trou ons en ons het self ons troue beplan.

Trou Begroting:


Ons wou nie te veel geld op ons troue spandeer nie want ons wou meer op die wittebrood spandeer.  Ons het wel bietjie meer spandeer as wat ons wou want dinge was duurder as wat ons verwag het. Ek het my trourok gehuur wat gehelp het.  Ons het baie gespaar om net die naaste vriende en familie te nooi en gehou by 50 gaste.  Ons het ook nie geld gemors op fieterjasies nie, want niemand onthou dit in elk geval nie.

Merkwaardigste Oomblikke:


Toe die deure oop gaan en ons mekaar vir die eerste keer sien!  Ons het geweet ons maak die beste en regte besluit en mens kan nie daai gevoel verduidelik nie.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ons het vergeet om die tafel gebed te doen!  En ek het my kousband by die huis vergeet so moes vinnig ʼn ander plan maak.  Maar verder is daar niks wat ons sal anders doen of wat skeef geloop het nie.

Die Besluitnemingsproses:


Ons familie was glad nie betrokke met die proses nie, want ons het self vir als betaal en ons het saam oor alles besluit.

Paartjie se styl:


Ons wou dinge eenvoudig hou en nie bekommer oor die klein goed nie.  Met my trourok wou ek net mooi voel en wou nie met ʼn groot rok heeldag in die bos sukkel nie.  Charl se troupak het mooi in gepas met die tema en kleure van die bos.  My trouring was deur ʼn vriendin gemaak en hy wou ʼn silikoon ring gehad het, want hy speel golf en wil nie iets hê wat pla nie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Charlene:

Probeer om nie te stres oor al die klein goedjies wat kan skeef loop nie, niemand gaan weet dis nie perfek nie.

Charl:

“Happy wife happy life” 🙂  Probeer haar rustig hou as sy stres oor die troue, al is sy kalm, daai stres gaan eventueel kom.

Spesiale Tradisies:


Ons het juis bietjie weg gestap van die tradisies – ons het nie ʼn trou koek gehad nie!  Het gevoel dis baie duur en mors baie keer.  Ons het ook vir die gaste gesê hulle hoef geen trou geskenke te koop nie.

Venue & Dekor:


Ons het verlief geraak op Monate Gam Lodge – ons wou onder ʼn boom trou in die bos en hulle enigste datum vir die jaar gevat!  Ons wou ook gehad het ons trou dekor moet nie weg vat van hoe mooi die bos was nie so iets gekies wat in pas met dit.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons fotograaf!  Hy het ons so rustig laat voel en die mooiste fotos geneem, en ek moet ook sê die vrou wat ons dekor gedoen het.

Wittebrood:


Ons was in Maldives!!  Was prentjiemooi en ek letterlik begin huil op ons laaste dag, want ons wou nie terug kom nie!  Dit was ʼn belewenis en moet op almal se “bucket list” wees.

Vermaak:


Ons het ʼn platejoggie,  asook Wikus Botma gehad wat optree – hy het die dag toe ons storie begin het ook by die funksie gespeel. 🙂

Eerste Dans:


Die eerste dans liedjie was Twee – Ek Sweer.  Ons was eendag oppad na ʼn wildsplaas toe en die liedjie het op gekom, ons altwee net daar besluit dit sal ons eerste dans liedjie wees.  Toe was ons nog nie eers toe verloof nie! 🙂

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: