Warren & Nicola se Tydlose Troue

Ons deel graag Warren en Nicola se tydlose troue in die Oos-Kaap op Mooi Troues.   As jy opsoek is na inspirasie vir ʼn tydlose tema vir jou troudag, dan is dié troue een wat jy nie moet mis nie.

Nicola se trourok was simplisties, maar so stylvol en perfek ingepas by die hele atmosfeer van die troue.  Haar trou skoene was handgemaak in Johannesburg, wat nogal uniek en besonders is.  Warren het net so deftig gelyk in sy swart troupak.  Die strooimeisie se rokke, asook die strooijonkers se pakke was ook swart, wat ʼn prentjie mooi voorkoms gegee het.

Wanneer dit kom by hul trou dekor, was daar oorvloed kreatiwiteit en liefde ingesit.  Ons hou só baie van die paartjie se trou dekor.  Die swart tafel doeke met die pragtige hout stoele trek onmiddellik jou aandag.  Ligte neutrale kleure van die blom ontwerpe pronk op die swart tafels en skep die perfekte kontras en balans.  Die swart borde bring die moderne element tot die tafel.  Waar die tikseltjies goud en brons weer ʼn elegante gevoel skep.

Sjampanje glase wat in ʼn toring gestapel was en waar die paartjie vonkelwyn van bo af gooi soos ʼn fontein, is nog ʼn element waarvan ons vreeslik baie gehou het.  Alles is moontlik as jy ʼn span fantastiese trou diensverskaffers het.  Mooi Troues se Trougids is vol oulike diensverskaffers wat betroubaar en professioneel is.  So as jy jou troue beplan, besoek gerus ons trougids.

Hulle trou fotograaf het die mooiste trou foto’s gekry tydens sonsak.  Omring deur die pragtige landskappe wat die Oos-Kaap bied en die oranje sonlig tydens die fotosessie.  Jy kon sien die paartjie se troudag was ʼn lekker groot makietie gewees.  Rol af om meer te lees oor Warren en Nicola se tydlose troue en hulle liefdesreis tot dusver.

Paartjie se Liefdesreis:


Sommige mense soos ons twee vind liefde wanneer ons dit die minste verwag.  Ons het in graad 9 ontmoet toe Warren na my hoërskool toe kom.  Daar was ʼn tydjie wat ons van mekaar gehou het, maar ʼn graad 9 skoolkind is mos ʼn vreemde kreatuur.  Ek was te ‘Miss Goody Two Shoes’ en Warren wou eintlik net ʼn soen inkry.  Dit het jare gevat voordat dit kon gebeur.

In 2020 het hy verby ons plaas gery waar ek grootgeword het en aan my gedink.  Hy het my whatsapp en gehoor waar is ek en wat doen ek ná al hierdie jare.  Hy het my genooi om te kom kuier vir ʼn naweek, 4 tot 6 September, min wetend dat dit sy verjaarsdag is daardie naweek.  Ek spring in my karretjie en sien hoe hy met sy Land Cruiser van voor af gery kom en uitklim op die grondpad. Ek het onmiddellik besef: Sjoe, hy is alles behalwe die vreemde kreatuur van graad 9.  Kom ons sê net die skoot was hoog deur!  Dit was nie ‘love at first sight’ al daai jare terug nie, maar eerder ‘love at last sight’, want dit was die laaste keer wat my hart gaan stil staan het oor iemand!

Verlowing:

Die verlowing van die spesiaalste oomblik van ons lewens. Warren het sy pa ʼn paar maande na ons verlowing verloor aan kanker, maar hy was die een wat in die bos weggekruip het met ʼn kamoeflering baadjie aan en sy kamera om sy nek.  Hy het elke oomblik eerstehands beleef en ons mees intiemste oomblik van trou voor sy oë sien afspeel.  Maande na dit kon hy nie by ons troue wees nie, maar hy was die eregas by ons verlowing.  Warren kon voor sy pa op sy knie afgaan en my vra om te trou by die rivier langs sy kinderhuis waar hy grootgeword het.

Die Verlowing Tydperk:


Die verlowing tydperk was aanvanklik kort – 8 maande, maar as gevolg van ons hartseer nuus het ons uitgestel met die hoop dat Warren se pa by die troue gaan kan wees.  Ons het ons gastelys halveer en die troue nader geskuif aan die huis, maar dit was in die swaarste tyd, die mooiste troue waarvoor ons kon droom.  Ons het alles self gedoen!

Trou Begroting:


Ons het aanvanklik ʼn begroting gehad, maar ons familie is net só ongelooflik en het agteroor gebuig om vir ons te gee wat dalk nie in die begroting was nie.

Die raad wat ons altyd gekry het was: Moenie so baie spandeer op jou troudag nie – hou die geld vir later.  Ek sê nee!  Kry daai mes en vurke, kry daai blomme, kry daai rok wat jy wil hê!  Dis die een dag wat jy regtig kan sê waarvoor jy droom en gee alles vir daai een dag.

Die eindresultaat van daardie benadering: Ons is oor absoluut niks spyt nie!  Elke sent wat in elke detail ingegaan het, is dit werd.  Warren is ook iemand wat vir my die wêreld wil bied – hy sal nie homself in finansiële nood plaas nie, maar hy het gegee wat hy kon om sy vrou en homself die gelukkigste te maak op die grootste dag van ons lewens!

Merkwaardigste Oomblikke:


Sjoe … Ek hoef nie eers twee keer te dink nie.  Dit was die teenwoordigheid van die Here en ons twee pappas wat saam met God in die hemel ons troudag gevier het.

Dit was ʼn warm somersdag 19 Februarie 2022 en ons was heel dag besig om reg te maak vir die troue – dit begin 16:00.  Soos wat die oggend aanbeweeg het, het God sy teenwoordigheid so onvermydelik gemaak deur ʼn uur lank se donderbuie en reën vir ons te stuur, waar daar vroeër nie ʼn wolk in sig was nie.   Ons het na buite gestaar en aanvanklik bietjie bekommer omdat ons ʼn buite troue het.  My skoonma het vir my kom sê: Moenie bang wees nie, God het sy seën kom uitstort oor hierdie troue en hierdie is sy gelofte aan ons dat Hy altyd by ons is.  Wat ʼn wonderlike voorreg om so iets te kon ervaar op ons troudag!

Die reën het opgeklaar en teen 15:00 het die wolke net verdwyn.  Kort daarna het skoenlappers ons omring toe ons voor die kansel mekaar se voete was – ek dink dis genoeg vir nou om ons sprokiestroue te beskryf.

Spesiale Tradisies:


Ons het besluit om mekaar se voete te was by die kansel nadat ons, ons geloftes aanmekaar gelees het.  Dit was só intiem, só spesiaal en ons het elke oomblik ingeneem om te besef wat ons vir mekaar beteken as ons beloof om mekaar te dien vir altyd.  Daar is nooit ʼn vervelige oomblik met Warren – toe ek sy voete klaar was en hy sy sokkies en skoene wou aantrek, toe laat val hy sy skoen in die bak water!  Lekker lag ons …

Die Besluitnemingsproses:


Ek is alles behalwe ʼn “bridezilla” … maar ek was beslis oor wat ek wou hê.  Warren was die beste ondersteuner en het vir al my idees “yay” of  “nay”!  Ek wou nooit iets kies sonder sy goedkeuring nie, want dis ons altwee se troudag!

Ons families was net ongelooflik – ek en Warren het ʼn ‘army of angels’ agter ons gehad wat al die los punte bymekaar gebring het.  Ons sussies, ons ma’s, ooms en tannies, niggies en nefies, familievriende … die lys gaan aan-en-aan!

Vermaak:


Wel, eerstens ons seremoniemeesters was die grootste vermaak!!  Warren se sussie en haar kêrel het ons so laat lag dat ek hulle sal uitverhuur as seremoniemeesters by troues!!

Ons het Herman Kleinhans van Twee gehad wat opgetree het tydens canapés en dan dink ek ons het ʼn paar gaste gehad wat tydens die dansery as vermaak opgetree het.  Glo my, Namibiërs kan gooi op die dansvloer!

Paartjie se styl:


Ah!  Ons het baie simplisties gegaan met my trourok en met Warren se troupak, maar tydloos.  Ons wou nooit terugkyk na ons troufoto’s en wonder: “What were we thinking?!”  Hy het ʼn klassieke swart pak aangehad met sy pa se dasspeld en sy pa se Breitling horlosie.  Ek het gehou by ʼn melkwit trourok met ʼn verstelbare romp – my skoene is in Johannesburg laat maak deur Eli-Nicole Bridal Shoes. Dit was een van my lekkerste bederf aan myself om my skoene met die hand te kon laat maak!

My trouring is ook ʼn klassieke trilogie met ʼn ronde diamant in die middel en twee peervormige diamante aan weerskante met geelgoud wat dit omring.  Warren se ring is donkergrys tungsten (ʼn boer se tipe trouring) met ʼn fyn goue randjie vir ʼn bietjie ‘wow.’

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Absoluut niks.  Ek weet nie of almal so sê of niemand ooit so sê nie, maar daar is nie een dingetjie wat ek sou wou verander nie – dalk sou ek wou hê dat die troue nooit moes ophou nie, maar ja. Mens kan nie tyd laat stilstaan nie! Wag … almal het ons troukoek opgeëet!!  Ek is spyt ek het nie ʼn groot stuk vir ons twee gehou voordat dit verdwyn het nie!

Venue & Dekor:


Ek wou gaan met ʼn donker, ‘moody’, intieme trou tema.  Die inspirasie agter dié trou dekor was alles behalwe wit tafeldoeke en bloekom blare.  Ek wou nooit net ʼn tipiese trou tema hê nie.  Ek wou trou blomme hê en tafeldekor wat nie orals te siene is nie en die Oos-Kaap se verskaffers is eintlik baie beperk.  Bygesê, die diensverskaffers wat ek wel op die ou end kon kry, was uitstekend en het elke boksie gemerk!

Die trou venue het ook toegelaat om hierdie tema te inkorporeer, want die venue was klaar so mooi dat dit net perfek gepas het by die donker gevoel.  Daar is soveel emosie en diepte tussen ons as bruidspaar en ook ons familielede dat ek dit deur die tema van ons dekor kon kommunikeer.  Alles was so deurdink – niks was ooit bygevoeg ‘sommer net’ nie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Dames:

Geniet elke oomblik van trou beplanning en doen alles stukkie vir stukkie.  Jy sal sien nader aan die troue kom alles mooi bymekaar.  Dis nooit nodig om jouself op diëte te sit en om jouself drasties te probeer verander nie.  Jou man moet jou kan herken as jy by die trougang afgestap kom.

Op jou troudag – neem alles in en kyk wat rondom jou gebeur.  Fotos en video’s is belangrik, maar jou oë en jou brein is waar die herinneringe gestoor word, so wees 100% teenwoordig en ” don’t sweat the small stuff”.

Mans:

Gee jou vrou die ruimte om haarself uit te leef vir hierdie groot dag.  Wees altyd daar en luister na idees!  Jou opinie en idees is net só belangrik.  Geniet die tyd met jou beste vriende.  Dis so lekker om ʼn Cognac te drink, ʼn sigaar te rook en manne-goed te doen, maar deel ook met hulle jou opgewondenheid en emosies.  Trou is die wonderlikste ding om te doen.

Eerste Dans:


Ja natuurlik! Dit was op Elandré se Dag en Nag – almal het vonkel stokkies gebrand en ons het op die wit en swart dansvloer ons eerste dans gehad.  Ons het regtig soos in die flieks in mekaar se oë verdwaal.  Ons het ʼn paar keer in die kombuis geoefen op die liedjie, maar niks ernstigs nie.  Dit was eintlik net om te sien hoe ons honde reageer en teen ons opspring as ons so styf teen mekaar staan!

Wittebrood:


Oooh!!  Ons het die Sondag na die troue lekker brunch gehad saam met die vriende en familie wat by die venue oorgebly het.  So paar mense het eers 06:00 in die bed gekom en kort daarna opgestaan vir brunch!

Ons het ons wittebrood begin met ʼn paar nagte by Pumba Lodge naby Grahamstad – amazing!!!  Ons het wit leeus gesien, so luuks geëet en gekuier en apies probeer weghou van ons tafel!

Daarna is ons weg na Santa Maria eiland in Mosambiek waar ons vir ʼn week by Machangulo Lodge gebly het.  Daar is so baie om te vertel, maar die beste was Warren wat elke oggend direk na ontbyt by Claudio, die kroegman ʼn draai gemaak het en sy ‘usual’ bestel het – ʼn Tippo Tinto en Rum of ʼn 2/M bier!  Ons het gesnorkel, 4×4 gery op die Inhaca eiland, onsself oor ʼn mik geëet aan middagete,  garnale en kreef net om die aand by die lodge te kom met ʼn seekosbord wat vir ons wag … eet sal ons hom eet!

Ons het daarna bietjie Kaapstad toe gegaan waar Warren my bederf het met ʼn bespreking by Fyn Restaurant.  Om vir hom dankie te sê, het ek hom bederf met ʼn bespreking by Le Petit Colombe in Franschhoek.   Ons het ook die wyn trems gedoen en van wynplaas-tot-wynplaas getoer en baie rustig in ons AirBNB die aand spandeer.  Daar was baie bederf, baie gelag, baie geëet en baie gelief op hierdie wittebrood!!

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: