Jessica & Tharan se prettige verlowing fotosessie

Jessica en Tharan se prettige verlowing fotosessie by ʼn ou motor museum in Joostenbergvlakte is een wat jy nie moet mis nie.  Hierdie paartjie se foto’s is soos iets uit ʼn mode tydskrif.  Tharan en Jessica het só ʼn oulike liefdes reis tot dusver.  In dié verlowing fotosessie kan jy sien dat hul mekaar oneindig liefhet en soveel pret gehad het gedurende die fotosessie.

Wanneer jy ʼn verlowing fotosessie beplan is daar ʼn paar punte waarop jy moet fokus.  Eerste is die ligging.  Julle moet as paartjie op ʼn plek besluit wat julle dink sal werk saam met julle idee vir jul verlowing fotosessie.  Dan is dit julle fotograaf.  Kies ʼn fotograaf wat jy wil hê moet jul troue afneem.  Voordat jy dan finaal besluit, probeer eers om ʼn verlowing fotosessie te bespreek by die fotograaf.  Indien julle gemaklik voel met die fotograaf, dan weet jul sommer hy of sy sal werk vir jul troue.

As jy besig is om jou troue te beplan, besoek Mooi Troues se Trougids vir al jou diensverskaffers.  Die paartjie vertel dat hul die foto’s vir hul geheue plakboek wil gebruik.  Ons kan net dink hoeveel spesiale herinneringe dit gaan terug bring as hul eendag weer deur hul plakboek blaai in die toekoms.  Vir meer oor Jessica en Tharan se prettige verlowing fotosessie en hul liefdesreis, rol af.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Terwyl baie sê dat sosiale media nie die beste plek is om liefde te vind nie, wil ek graag daarvan verskil.  Ek en Jessica het mekaar op Instagram ontmoet.  Ek(Tharan) het gereeld haar profiel besoek(sonder dat sy daarvan geweet het haha), en het op 10 Maart 2018 genoeg moed bymekaar gemaak om die eerste boodskappie te stuur.  Daardie dag was ook my verjaardag, eintlik my eerste verjaardag weg vanaf die huis (ek het Kaapstad toe getrek vir werk doeleindes).

Ek het nie juis veel gehad om te doen vandaar die besluit om haar te “DM”.  Terwyl die gesels so aan die gang was, vind ek toe uit dat sy (Jessica) eintlik my verjaardag tweeling is!  Dis reg, ons deel ʼn verjaardag.  Dit was vir my so vreemd want, hoe?  Haha.

Ons het ons gesels vanaf Instagram na Whatsapp geskuif en het ook besluit om te ontmoet.  Sy het my na haar gunsteling eetplek geneem vir ons eerste afspraak, en ek het haar geselskap en menswees so baie geniet!

Sy het my toe op 8 Julie 2018 gevra om te kys!  Ek was so opgewonde!

Ons was op baie uitstappies in en rondom die stad.  Dieretuine, wynplase, strande, bessie en aarbei plase, gaan kart-renbane, verskuilde plaas markte, stap roetes en baie meer besoek.  Ons was ook saam op vakansie in Hermanus, Noordhoek en Langebaan!

Die groot vraag:


Jessica skryf: Omdat Tharan mal is oor die strand, het ek altyd geweet dat ek haar op ʼn strand wil vra om te trou.  Op die oggend van 5 Maart 2021 het Tharan gelukkig ʼn nael afspraak gehad, so dit het my baie tyd gegee om al die nodige “props” te kry wat ek sou nodig kry vir die perfekte skemer verlowing, wat ek ingedagte gehad het.

Ek het haar by die salon gaan aflaai en daarna dadelik die winkels ingevaar en wou graag klaar kry voor sy my bel om te se dat ek haar moet kom haal!  Ek het een van haar susters wat ook op daardie oomblik in die area was gevra om haar te nooi vir ʼn “lunch date”, wat al die pad na Kelpbaai in Bloubergstrand gelei het!  Toe hulle daar kom het ek gevra dat hul haar blinddoek en toe sy dit verwyder was sy só oorweldig!

Ek het op een knie gegaan, in die middel van hartvormige feetjie ligte.  Verskeie rose, ʼn piekniek mandjie, sjampanje en die strand golwe wat in die agtergrond baklei!  Dit was só spesiaal!  Ons het dadelik die nuus met ons vriende en familie gedeel oor ʼn ontvang video oproep.  Beslis die beste dag van my lewe so ver!

Hoekom ons mekaar liefhet:


My gunsteling eienskap van Jessica is haar Godvresendheid.  Sy het ʼn baie groot omgee hart en behandel almal rondom haar altyd met respek en empatie.  Deur haar leer ek ook om nie die lewe só ernstig op te neem nie, want na alles is dit tog nie permanent nie.

My gunsteling eienskap van Tharan is dat sy my altyd geliefd laat voel.  As ek ʼn gejaagde dag by die werk gehad het, sal sy my sommer uit die bloute ʼn video stuur waar sy een of ander vreemde danspassie uitvoer!  Haha.  Sy is ook baie tegemoetkomend en respekvol.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons plan was om net vir 6 maande verloof te wees en dan te trou, maar ons albei het toe in Julie positief getoets vir Kovid-19 en wou eers ten volle herstel voor ons sou voortgaan met die reëlings.

Die verloofring:


Jessica: Die verloofring was ʼn verrassing vir Tharan.  Ek weet sy is versot op fyn juweliersware, daarom het ek gegaan vir iets soortgelyk.  Ek het vir haar ʼn goue oesjaar styl ring gekry by American Swiss en dit was omtrent ʼn storie om die grootte daarvan te verander omdat Tharan ʼn verskriklike klein ring grootte het!!

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons het op ʼn verlowing sessie besluit omdat ons die fotograaf se styl wou sien voor die amptelike groot dag.  Ons gaan ook die fotos gebruik vir ons geheue plakboek.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Definitief Pinterest! Ons sê altyd dat ons ʼn “old school type of love” vir mekaar het.  Dus het ons besluit op ʼn ou motor museum vir ons fotosessie.  Ons het die Wijnland Auto Museum by Joostenbergvlakte in Kaapstad gebruik vir ons fotos.  Albei van ons het dit vreeslik geniet tussen al die vintage motors wat al reeds vanaf die jaar 1910 bestaan.  Ons het ook sommer dadelik op ons gemak voel met die fotograwe.  Dit was beslis ʼn fees!

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons verwagtinge is dat ons soveel as moontlik wil spaar vir ons droomtroue gedurende hierdie tydperk.  En een van ons grootste vrese is beslis dat ons, of ons familie en vriende deur die virus getref sal word en nie ons groot dag by sal woon nie.

Visie vir droomtroue:


Ons altwee wil ʼn baie klein en intieme troue hê, met niks meer as 55 gaste nie.  Albei van ons wil net ons onmiddellike vriende en familie deel hê van ons spesiale dag.  Ons is mal oor bruin, koper en roes.  Droë blomme, feetjie ligte en bietjie groenigheid.  Dus gaan ons al hierdie aspekte in ons spesiale dag inkorporeer!  Ons het ook nooit regtig ʼn trouvenue jag gedoen nie, ons het een trouvenue besoek en dit was liefde met die eerste oogopslag.  Die plekkie het alles wat ons nog ooit wou hê!!

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: