Abré & Anri se Protea plaastroue

Abré en Anri se Protea plaastroue is prentjie mooi en ons is opgewonde om dit met ons lesers te kan deel.  Dit maak ons harte altyd baie bly as ons lees dat Abré en Anri inspirasie vir hul troue gevind het hier op Mooi Troues.  Mooi Troues bied paartjies gratis trou advies en inspirasie aanlyn om hul trou beplanning proses so stresvry moontlik te maak.  Anri en Abré se troue het ʼn baie gesellige plaas gevoel, maar met elegante elemente.

Ons is mal oor Anri se trourok wat ontwerp is deur ʼn bekende rok ontwerper in Suid-Afrika.  Die detail op haar arms en bolyf is so mooi en trek onmiddellik jou oog.  Dan is daar die vloei van die rok na onder wat ʼn pragtige net lang genoeg sluier skep.  Dit is so mooi hoe die kleurskakerings van hul troue so mooi insmelt met hul fotosessie se sonsak palette.  Die kleurskakerings vloei net so mooi in bymekaar.

Omring deur pragtige natuurtonele, familie en vriende het hierdie paartjie ʼn merkwaardige viering van hul spesiale dag gehad.  Rol af om meer te lees oor Abré en Anri se liefdesreis as paartjie en om meer te lees oor hul trou beplanning.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het op Hoërskool ontmoet – “hoër skool liefdes”.  Ons albei was in Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark, Gauteng.  ʼn Gemeenskaplike vriend het ons albei genooi vir ʼn braai die dag – iewers in September 2014, ons was in Gr.11 gewees – ons het vir die eerste keer ontmoet by die kuier.  Op die 2de Oktober het Abré my gevra om sy meisie te wees.  Na 4 jaar van saam wees, het Abré my die 13de Desember 2018 gevra om te trou op Buffelsdrift in Oudtshoorn – in die teenwoordigheid van drie reuse olifante – op pad Hartenbos toe.  Een van die olifante het die ringboksie vir my aangegee.  Dit was die mees spesiale oomblik.

Die Verlowing Tydperk:


Abré en ek was amper 2 jaar verloof.  Ons het verloof geraak op die 13de Desember 2018 en ons het getrou op die 9de Desember 2020.  Ek en Abré het ons troue self gereël met die hulp van familie.

Finansiële Aspekte:


Het nie met ʼn begroting gewerk nie. Ons het twee jaar voor ons troue gespaar en al die besprekings gemaak en reëlings getref.  Toe het ons al stukkie, vir stukkie betaal soos elke maand aangegaan het. Byvoorbeeld: Ons het lankal geweet hoeveel die rok, fotograaf en venue ons gaan kos.  Ons het rondom daardie bedrae gewerk en elke maand geld weggesit, sodat ons alles kon hê wat ons harte begeer het.

Albei ons ouers het BAIE finansieel bygedra en die meeste van ons onkostes gedek.  Albei van ons is baie dankbaar daarvoor.  Ons het in die KOVID-pandemie getrou, ons het min of meer 75 gaste gehad.  Ons raad is – spandeer meer geld op die fotograaf en BESLIS ʼn videograaf, dit is al wat jy van die dag oor het.

Merkwaardigste Oomblikke:


Om in die KOVID-pandemie, met baie stres en selfs ons datum wat geskuif moes word, ons DROOM troue met GESONDE familie en vriende te kon deel.

Paartjie se styl:


Ons styl was redelik formeel en klassiek.  Ek het my rok in Diaan Daniels se bekwame hande gelos, ons het op ʼn Protea plaas getrou, Diaan het ‘Protea pienk’ aan die onderkant van my rok ingewerk.  Abré se pak was pik swart met ʼn wit hemp.  Sy elegante pak en my rok het perfek gepas by ons ringe.

Abré se ring is vir hom gemaak.  ʼn Groot W vir ‘Wessels’ in die middel en langs elke kant het ons A’s opgesit vir ons name.  Binne die ring is daar vir hom iets spesiaals gegraveer.  Die bruid se ring is van Browns se spesiale meesterstukke.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het oor alles saam besluit en dan finale besluite geneem – ons was ʼn goeie span.  Ons het wonderlike familie en vriende wat baie betrokke was, maar veral die bruid se ma – Elsa Boshoff, sy was fantasties met al die hulp en ondersteuning.  Sy het gehelp met elke stukkie, selfs al was dit in die oggend-ure.

Vermaak:


Ons het ʼn violis gehad voor die seremonie en na die seremonie.  Tydens die onthaal het DJ Henk baie lekker musiek gespeel.  Ons MC het ook persoonlike video’s gespeel wat gemaak is vir die bruid en bruidegom van die bekende aktrise Mila Guy en die sanger Bobby van Jaarsveld.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Dames, hou jou gaste lysie kort, moenie almal wil nooi nie.  Stres is onnodig, die dag gaan baie vinnig verby- neem alles in.

Kêrels, sit ʼn uur of twee alleen, vat ʼn tydjie vir jouself voor die groot oomblik.

Gunsteling Diensverskaffers:


Vir seker ons venue – Harmonie Proteas!

Venue & Dekor:


Ons wou graag buite tussen die bome trou.  Anri se gunsteling blom is die Protea.  Ons het toe op Harmonie Proteas afgekom.  Die venue is PRAGTIG! Oral om jou is die mooiste Proteas EN ons kon buite tussen die bome trou! Twee vlieë met een klap 🙂  Ons het die dekor op die tafels vir die venue gelos – hulle weet van!

Wittebrood:


As gevolg van KOVID 19 kon ons nie internasionaal wittebrood gaan hou nie.  Ons wou graag Amsterdam toe gegaan het, daar is darem nog baie tyd daarvoor.

Ons het in Kaapstad wittebrood gaan hou by die Raddison Blu Waterfront hotel.  Dit was so lekker gewees en baie spesiaal!

Eerste Dans:


Ons het ʼn eerste dans gehad op Rohan Ash se “If I ever saw heaven.”  Geen dansklasse gehad nie, ons het net gedans.

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: