Rynhardt & Leandrie se Bohémien Chic troue

Hier by Mooi Troues deel ons met ons lesers die Bohémien Chic troue van Rynhardt en Leandrie met ons lesers.  Dié paartjie het ʼn baie oulike liefdes-storie wat julle hieronder sal lees.

Rynhardt kon nie sy emosies terug hou toe hy vir Leandrie sien afloop in die trougang nie.  Leandrie het beeldskoon en so gelukkig gelyk.

Mooi Troues adverteerder, MU Studio het die paartjie se trou skryfbehoeftes en gaste geskenke ontwerp.  Trou skryfbehoeftes speel ʼn groot rol by ʼn troue. Die pragtige plakkaat by die seremonie wys die paartjie se trou hutsteken #vanbiljonkeerja,  ʼn goeie idee vir sosiale media.  Hutstekens is ʼn goeie manier vir paartjies om hul gaste se foto’s van hul troue na die tyd op te spoor.  ʼn Sitplek aanwyser is ook belangrik om jou gaste in kennis te stel by watter tafel hulle moet sit.  MU Studio het ook ʼn baie oulike spyskaart in ʼn halfmaan vorm ontwerp met ʼn tosseltjie aan. Die spyskaart ontwerp is definitief uniek en julle moet definitief daarna kyk vir inspirasie vir jul eie troue.

Paartjies wat beplan om met die Bohémien Chic styl vir hul troue te gaan sal dié paartjie se troue baie geniet.  Rol rustig af en geniet die mooi troue van Rynhardt en Leandrie.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons ontmoetings storie is nogal ʼn lang ene maar om dit op te som het ons op skool ontmoet. Rynhardt het eers Graad 11 in die skool in gekom en was toe in my voog klas geplaas. Ek onthou nog ek het vir my vriendin vertel hoe kwaad hierdie blonde outjie gelyk het en dat hy glad nie daar wou wees nie.

Tyd het aangestap en ons het vriende geword. Hy wou my sy meisie gemaak het, maar ek het heeltyd die situasie probeer vermy. So gaan ons toe deur ons skool loopbaan as vriende. Na skool verloor ons bietjie kontak soos wat elkeen hul eie rigtings in gegaan het. Toe een aand in 2016 loop ons mekaar weer raak by een van ons goeie vriende se huise. Rynhardt wou heeltyd net met my gedans het. Hy het toe weer my probeer oorreed om hom ʼn kans te gee, maar ek wou van niks weet nie.

Dit het hom nie gestop nie, ek het elke liewe oggend ʼn “Goeie more” boodskap gekry. Hy het dit baie duidelik gemaak dat hy die keer nie gaan opgee nie, maar ek hou aan hardkoppig wees. Tot een oggend toe ek nie my boodskap kry nie, toe besef ek net daar en dan dat ek verlief is op hom.

Ons het toe heen en weer meer begin tyd saam spandeer tot die aand wat ek die cliché “skoenlappers” gekry het toe hy my gesoen het. Van ons eerste soen af het ek geweet ek gaan met hom trou. Ek het dadelik so rustig geword en geweet hy is my huis van nou af.

Hoe ons verloof geraak het:

Desember 2018 toe word ons verloof. Ons ouers het bymekaar gebraai en my ma het ʼn dis by die huis vergeet. Ek en my broer ry toe om dit te gaan haal. Toe ons terug kom sien ek net Rynhardt tussen kerse staan. Ek was nog nie eers by hom nie toe huil ek al, eerlikwaar kan ek nie eers onthou wat hy alles gesê het nie. Ek was net so oorweldig dat ek met hom gaan trou. Dit was ʼn spesiale oomblik om te deel met ons naastes.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was omtrent ʼn jaar en 9 maande verloof gewees voor ons getrou het. Ek het alles self beplan omrede ek in die bedryf is as ʼn Trou Fotograaf so ek het baie kontakte opgebou intussen. Ek het ook van kleins af geweet troues is my passie so ek wou nie gehad het enige iemand moes beheer vat van my en Rynhardt se groot dag behalwe ons self nie.

Finansiële Aspekte:


Al wat ek kan sê is dat mens dink jy weet hoeveel alles kos, maar tot en met jy nie self op trou staan nie het mens eintlik nie ʼn idee hoe duur trou werklik is nie.

Ons het oorspronklik oor ons begroting gegaan maar toe eindig ons by hom op toe ons ʼn heeltemal nuwe troue binne ʼn maand beplan het. Ons het gegaan vanaf ʼn groot troue na ʼn klein Intieme troue a.g.v. KOVID 19, maar ons is nie vir een oomblik spuit nie.

My advies vir ander paartjies om geld te spaar is om nie die getalle vol te maak deur mense net te nooi nie, elke liewe persoon kan jou maklik R1000 pp uitwerk in totaal, as dit nie meer is nie, dit is nie die moeite werd nie. Nooi die mense wat regtig saak maak en wat daar wil wees vir jou en jou man. Minder “onnodige gaste” beteken minder uitgawes. Fokus op dit wat regtig saak maak en moet nie laat familie dit vir julle beïnvloed nie.

Merkwaardigste Oomblikke:


Daar is ʼn paar oomblikke wat vir ons uit gestaan het:

1. Ons geskenke aan mekaar was ongelooflik spesiaal.

2. Die oomblik toe my pa my sien, my pa is nie sommer een vir huil nie maar daai dag was anders, die trane het geloop tussen ons.

3. My pa wat langs my geloop het aan die een kant en my ma aan die ander kant om seker te maak my rok lyk mooi soos ek by die padjie af stap.

4. My gunsteling, Rynhardt se reaksie toe hy my sien aankom, dit was iets wat ek nooit sal vergeet nie. Dit is enige vrou se droom dat haar man ʼn traantjie pik wanneer hy sy vrou sien.

5. Met ons paartjie fotosessie was ons net heeltemal in ons eie wêreld. Ek het my letterlik verstaar aan my aantreklike man, dit was die beste gevoel.

6. Ons MC het ons aangekondig as “Mnr en Mev du Toit”, my nooiens van.

7. Ons eerste dans was veronderstel om ʼn stadige dans te wees maar Rynhardt ken net van sokkie, so hy wou heeltyd begin sokkie op ʼn stadige liedjie, ons het lekker gelag vir mekaar.

Die Besluitnemingsproses:


Ek het meestal van die besluite geneem, maar alles wat ek geneem het was eer goedgekeur deur Rynhardt, hy moes ook voel dit is sy dag ook en nie net myne nie.

Ons het ook nie toegelaat dat Familie of vriende teveel betrokke raak nie, ons het dit gesien as ons dag en nie almal anders sin nie. Die naastes was ingesluit by die belangrike details maar niks te ernstig nie, ons wou die proses geniet soveel as moontlik.

Venue & Dekor:


Ons hou albei van skoon, nie te besige vertrekke en dit is presies wat Lakelands vir ons is. Die hele wit, Kaapse voorkoms doen dit net vir ons.

Ons tema agter die blomme en dekor was Bohémien Chic gewees.  Dit is ʼn tema wat ek weet tydloos is en altyd mooi sal bly. Ons wou regtig net bietjie ietsie anders doen as die gewone. Ons troue moes ons uitbeeld en dit het.

Gunsteling Diensverskaffers:


Almal was absoluut fantasties gewees en ek sal hulle altyd aanbeveel.

Die Venue was Lakelands Strawberry farm, My rok was Dené Odendaal Couture Blomme en Dekor was die ongelooflike BLOM Hare en Makeup was die talentvolle Jacquiline Breek Makeup Artistry Trouring was Kraai Fine Jewellery Stationery was MU Studio, haar werk is net volgende vlak en ons platejoggie was Frank DJ Services.

Eerste Dans:


Ons het glad nie ons eerste dans geoefen of niks nie, ons het gesê ons gaan dit net “wing”. Nou dat ek daaraan dink moes ons dalk want Rynhardt wou net sokkie op ʼn stadige liedjie.

Ek het vir maande lank gesoek na die perfekte liedjie wat ons albei van sal hou en toe kry ons hom, James TW – Incredible, dit is sooo ʼn mooi liedjie, as ek hom iewers hoor speel kry ek sommer weer van voor af hoendervleis.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


KOVID-19 het die grootste impak gehad op ons troue, vir die goed en sleg.  Sleg want ons het opeindig om op troue by ons oorspronklike venue te kanseleer maar goed, want ek voel die Here het toe vir ons gegee waarna ons gesoek het van die begin af.

As mens verloof is het jy ʼn idee van wat jy wil hê maar jou begroting laat dit nie altyd toe nie, so jy skik vir minder. Ons oorspronklike datum was 13 Junie 2020, vanselfsprekend kon ons nie trou nie want ons was nog in ʼn “Hard Lockdown”. Ons het toe datums geskuif na 16 Januarie 2021, maar toe besluit ons in Augustus 2020 om alles te los en van voor af te begin.

Lakeland Stawberry Farm was oor my pad gebring om ʼn gestileerde fotosessie daar gaan doen, toe ek daar in stap toe weet ek dit is ons venue. Ons het toe binne ʼn maand ʼn heeltemal nuwe troue gereël en 26 September ons perfekte troue gehad soos ons nog altyd van gedroom het.

Mens is kwaad en verstaan nie hoekom alles gebeur soos dit doen nie, maar die Here het ʼn plan en ons het dit so duidelik gesien. Nie 13 Junie of 16 Januarie sou ons kon trou nie want 26 September 2020 was ons dag. Daar is nog SOVEEL waaroor ek kan uitbrei maar dan gaan die artikel baie lank raak.

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: