Beukes & Zaré se 1920’s bruilofsfees

Die paartjie, Beukes en Zaré se elegante bruilofsfees het ʼn 1920’s invloed, net op ʼn moderne manier.  Die paartjie se elegante troudag sal jou tonne inspirasie bied, veral as jy self ʼn elegante troudag wil hê.  Zaré  is mal oor die 1920’s en Beukes is mal oor die plaaslewe.  So het die paartjie die twee elemente probeer saambring vir hul troue.

Swart en Wit elemente is waaruit die dekor bestaan het.  Dit is ʼn klassieke en tydlose styl vir enige troue.  Goue elemente wat jou weer terug neem na ʼn elegante troudag in die 1920’s is gebruik as fokus punte.  Ons is mal oor die kombinasie van kleure.  Die dun glasvase met spierwit orgideë in gee ʼn baie skoon gevoel tot die tafel dekor.

Die paartjie het hul wittebrood geniet in Thailand.  Hulle het verskeie eilande besoek gedurende hul wittebrood en baie aktiwiteite geniet.  Dit is belangrik as jy in ʼn nuwe plek is om die aktiwiteite soos snorkel en vele ander aktiwiteite te doen.  Beplan jou wittebrood deur gebruik te maak van Mooi Troue se Trougids.  Lees meer oor Beukes en Zaré se elegante troudag hieronder.

Paartjie se Liefdesreis:


Ontmoet tydens universiteit dae, by ʼn huis braai. Ons was 4 jaar saam gewees voor verlowing.  Ek en Beukes het ʼn langafstand verhouding gehad vir 2 en ʼn half jaar daarvan.  Ons het op die plaas gaan kuier, waar Beukes toe sê ons moet kranse toe gaan vir ʼn braai.  Ek en Beukes het altyd kranse toe gegaan met sy veldren motorfiets.  Beukes het tydens braai niks gevra nie en weer terug in Land Rover geklim, toe lê daar ʼn bril sakkie op die stoel, ek wou dit skuif, toe voel ek daar is ʼn boksie daarbinne.  Hy het boksie gevat en gevra op een knieg.

Die Verlowing Tydperk:


Ongeveer 1 jaar en 7 maande (29 April 2018 verloof geraak en op 23 November 2019 getrou). Het die troue self beplan.

Spesiale Tradisies:


Zaré het haar ma se Michel Herbelin horlosie gedra.  Haar Ma het dit ook gedra het tydens hulle troue (Zaré se ma en pa se troue – wat op 23 September 2019, 30 jaar terug was).  Pa en dogter dans en ma en seun dans.

Merkwaardigste Oomblikke:


Zaré:

Die seremonie, toe offisieel getroud verklaar is en toe kon begin dans het.

Beukes:

Die onthaal, toe kon begin kuier het.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Zaré het vir die strooimeisies, ouers, broers en susters en seremoniemeester elkeen ʼn “pdf” tydlyn gestuur, waar almal se persoonlike tydlyn daarop was.  Die seremoniemeester het egter nie syne gehad daar nie. Hy het toe iemand anders sʼn neergeskryf en paar detail gemis.  Ook baie meer breuke tussenin gegee, waar eintlik verrigtinge tydens onthaal vinnig wou afhandel.  So het heelwat later eers begin dans.  Ook, op ʼn tyd het die kelners die voorgereg begin uitgedra, terwyl die seremoniemeester die nuwe spreker aangekondig het vir ʼn toespraak.  Wyne was nie uitgepak op tafels soos bespreek vooraf nie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Zaré:

Die tyd gaan so gou verby, geniet elke oomblik van die reël.  Wanneer julle by die bruilof tafel kom, skep asem en neem net alles in.

Beukes:

Begin die troue so vroeg as moontlik, sodat langer dag kan hê, tyd gaan gou verby.

Vermaak:


Voor die seremonie en tydens die seremonie was daar ʼn groep musikante (tjello, viool en klawerbord), wat klassieke en romantiese musiek gespeel het, sowel as ʼn sangeres, wat vir ons ʼn liedjie gesing het wat die preek saamgevat het. “I choose you (die trou liedie)” – Ryan Darling. Die preek was gebaseer op Prediker 4 verse 9 – 12.

Ons ook ʼn sigaar en whiskey sitkamer en jenewer kroeg opgestel vir by verwelkomingsdrankies. Het ook speletjies daar gehad soos Jenga.  Daar was ook ʼn fotohokkie gehuur, tydens verwelkomingsdrankies.

Gunsteling Diensverskaffers:


Al ons verskaffers het regtig uit hul pad gegaan om die dag spesiaal te gemaak het.  Dit sal baie moeilik wees om een uit te sonder.  Hulle het raad gegee oor verskeie aspekte en baie keer vir my uitgevind wie my kan help as ek iets spesifiek wou hê.

Iets wat vir my baie spesiaal was, is dat my pa vir my die Heuningkoek houtrame gemaak het wat agter die bruilof tafel gestaan het en ook die diamant staalrame by die seremonie.

Venue & Dekor:


De Oude Kraal se saal is groot genoeg vir dans, hulle is bekend vir hulle lekker kos en groot verskeidenheid.  Ons kon vir hulle sê watter kos ons wou hê, hoef nie van ʼn lys af gekies het nie. Dit het ook gehelp met die ‘plaas’ aspek van tema inbring. Hulle onthaalsaal is baie modern gebou, wat dit makliker gemaak het om die twee uiterste temas saam te bring.

Die 1920’s tema het meer by dekor ingekom, met baie detail, soos die kandelare, goue eetgerei, swart kleur ingebring met champagne glase en kerse, tafel plasings en grammofoon.

Paartjie se styl:


Zaré was nog altyd mal oor die 1920’s, maar tog modern.  Baie detail, elegant, skitter en glans.  Beukes is mal oor jag en die plaaslewe. Dus het ons probeer die 1920’s en ʼn plaastroue saam te gooi.  Dus die rok (1920’s geïnspireerd – Baie kant, pêrel detail en veertjies), pak (jag geïnspireerd – Blink kamoefleer onderbaadjie en koeël manchet-knope.

Trouringe:

Zaré – 3 pante ring vir simboliek met 3 dubbele tou in Prediker 4 verse 9 – 12 en ʼn kussing-snit diamant.  Beukes het ring ontwerp. Beukes wou buffel kop (jag) & skaapkop (hulle is skaapboere) op gehad het.

Die Besluitnemingsproses:


Bruid (Zaré) het meer finale besluite geneem. Vriende en familie het hulp aangebied, maar Zaré hou van mense onthaal en funksies organiseer. Sy is ook baie detail georiënteerd en wou oorhoofs en in die detail weet dat alles gereël en reg is.

Finansiële Aspekte:


Zaré is ʼn ouditeur, so het in “Excel” ʼn begroting bygehou en die werklike uitgawes ook ingesit langs die begrote bedrae, om te kyk as oor begroting was, om iewers anders te sny.  Dit was wel toe meer as begroting, want meer mense het opgedaag.  Het gedink dat so 110 – 120 mense sou opdaag, maar daar was toe 151 mense.

Ons advies sal wees, spandeer eerder meer geld op kos en musiek, mense onthou altyd of hulle lekker geëet het en lekker saam gekuier het.  ‘n Troue en lekker dans loop hand in hand saam.

Eerste Dans:


Ja, het eerste dans gehad.  Het op ‘Vir my gemaak‘ gesing deur Joe Foster besluit. Vandat die liedjie uitgekom het, het ons geweet dit sou ons trou liedjie wees, omdat die woorde baie betekenis in ons verhouding het.  Zaré het dans as ʼn sport gedoen en al vir Suid-Afrika verteenwoordig vir dans, so wou graag ʼn goeie dans roetine gehad het.  Ons het toe na Zaré se dans afrigter gegaan daarvoor.  Beukes het egter 3 maande voor die troue in Zambië begin werk. Hy was te ongemaklik om die roetine te doen, so het net gedans soos wat ons altyd doen.

Wittebrood:


Ons was Thailand toe gewees (Phuket). Ons wou graag ʼn eiland wittebrood gehad het, waar ons ook verskillende plekke kon sien. Het na die verskeie eilande gegaan soos Phi-Phi eiland, “James Bond” eiland, “Banana beach”, “Monkey Island”, ens. Het gesnorkel, was op kano, het in die woude gaan zipline doen. Ons het nooit by dieselfde plek iets gaan eet of drink nie, het kroeg en restaurant rondspring gedoen, en elke keer iets nuuts gedrink/geëet.

Klik hier vir diensverskaffers