Jarryd & Kelly-Jane se droomtroue by DuVon

Robertson trou venue, DuVon Wedding and Wine Estate, het Jarryd en Kelly-Jane se visie vir hul droomtroue na lewe gebring.  Hierdie paartjie se troudag is propvol trou-inspirasie vir toekomstige bruide.  Dit is belangrik dat bruide nie skuldig voel om ‘n lang lys van vereistes vir hul troudag te hê nie; dit is immers die dag waarvan bruide al vir jare droom!

Kelly-Jane het egter nie geskik vir tweede beste nie.  Haar vasberadenheid en ure se beplanning om haar drome as klein dogtertjie in ‘n realiteit te omskep, was beslis die moeite werd.

Rol af en geniet die trou inspirasie.

Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?


Ons is op 16 Maart 2019 by DuVon Wedding and Wine Estate net buite Robertson getroud.  Toe ons die knoop deurgehak het, was Kelly-Jane was 24 en Jarryd 28. #TurnerIntoAMardon

Vertel ons meer van jul ringe


Ek het ‘n paar jaar gelede ‘n ring in my ma se kluis gesien wat aan haar ouma behoort het.  Die blomagtige styl was so uniek en ek was mal oor die goue band.  Ek het haar dan en daar gevra of ek dit vir my trouring eendag kan erf.  Toe ek en Jarryd oor trou begin praat het, het hy gesê dat hy ‘n diamantring van sy ouma het wat hy graag vir my wil gee.  Sy ouma se diamant is toe in die middel van my ma se ring geplaas.

Jarryd se ring is ‘n geborselde goue band.  Dit is so spesiaal omdat ons antieke juweliersware van albei kante van ons gesin gekombineer het om ‘n pragtige ring te maak.

Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?


Tenspyte van die feit dat dit hoogs onwaarskynlik is, kan ons getuig dat mens liefde in ‘n klub kan vind!  Ons het mekaar in Grahamstad in die Oos-Kaap in ‘n kroeg genaamd Friar Tucks ontmoet.  Vanaf die eerste ontmoeting het ons in kontak gebly en in 2015 begin uitgaan.

Ek (Kelly-Jane) het Jarryd mooi laat verstaan ek verwag ‘n verrassingspartytjie met familie en vriende en dat ek my naels móét laat doen voordat hy my vra om te trou.  Dit is veilig om te sê dat Jarryd aan al my verwagtinge voldoen het; En hy het dit boonop as ‘n verrassing gehou!  Jarryd het in Junie 2018 in ‘n wynkelder by Jordan Wine Estate my gevra om te trou.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?


Ons beloftes aan mekaar en die boodskap van die pastoor was die twee dinge wat vir ons, sowel as vir ons gaste die spesiaalste deel van die dag was.  Ons het besluit om ons eie beloftes te skryf.  Die egtheid van ons woorde het baie in trane gelaat.  Die Pastoor het ‘n onroerende boodskap van liefde en toewyding gepreek.  Van die mans het aan Jarryd gesê die preek het hulle geïnspireer en ‘n nuwe uitkyk op hul huwelike gegee.  Die hele seremonie het Jesus belig – dit was ons grootste hoop vir die dag.

As ons terugdink, sou ons vroeër met die seremonie begin het.  Ons was veronderstel om om 16:00 te begin, maar was toe effens laat.  Die res van die dag was ons gedruk vir tyd.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Amy en Silvino van Sovrin fotografie en videografie was ‘n absolute droom om mee te werk!  Amy het die perfekte oog om die paartjie se goue-sonsondergang en soen-oomblikke vas te vang, terwyl Silvino daardie spesiale oomblikke wanneer die twee pasgetroudes dans, flankeer en lag verfilm.  Hulle het vir ons professionele foto’s en video’s gegee waarmee ons baie tevrede was.  Ons sal altyd in staat wees om na ons trouvideo terug te kyk en ons spesiale dag te herleef.

Sovrin lewer dieselfde kwaliteit werk as dié wie se tarief dubbeld meer as syne is.  Ons kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is dat professionele mense jou troudag vasvang nie.  Dit gaan so vinnig verby en dis belangrik om ‘n blywende herinnering van jul troue hê.  Ons sal hulle sterk aanbeveel.

Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?


My rok was eenvoudig, elegant en vleiend.  Ek het my rok gekies omdat dit ‘n pragtige materiaal is en omdat dit so mooi gevloei het terwyl ek loop of dans.  Dit was regtig baie gemaklik en het net die regte kurwes beklemtoon.  Toe ek die rok vir die eerste keer by House of Silk sien, was dit een van daardie ‘ek dink dit is die een’ oomblikke; En toe ek dit die eerste keer aanpas, het ek en my ma albei trane in ons oë gekry.  Ek het goed daarin gevoel én gelyk –  dis toe ek met sekerheid weet dat dit die regte rok vir my is.

Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ek het ‘n lang lys vereistes vir ons venue gehad.  DuVon Wedding and Wine Estate het beslis aan die meeste van my vereistes voldoen.  Ek wou graag ‘n buitelug seremonie gehad het.  DuVon met sy pragtige wingerde as agtergrond, ‘n groot onthaalsaal met die dansvloer in die middel en die hoë dak was absoluut perfek!  DuVon het perfek ingepas vir die visise wat ek vir my droomtroue gehad het.  Robertson het ‘n pragtige natuurskoon en was meer bekostigbaar as die wynplase in Stellenbosch.  Ons gaste het van wyd en suid gekom – van Kaapstad, Grahamstad, Viljoenskroon en selfs Australië!  Roberston was perfek vir ‘n naweek troue.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?


Troues is baie duur, maak nie saak hoeveel mens kostes probeer sny nie.  Ons het ‘n sekere begroting met ons gesinne bespreek, maar alles dra by tot meer as wat mens verwag.  Ons het 135 gaste onthaal, wat die spyseniering die grootste uitgawe gemaak het.  Dit het byna die helfte van ons begroting geneem.

Kelly-Jane se ouers het die kos, venue, blomme, koek en alles wat met die bruid verband hou, betaal.  Hulle het ook ‘n deel van die fotograaf en videograaf betaal. Jarryd en sy ouers het die die drank, platejoggie, wittebrood en alles wat met die bruidegom verband hou, betaal.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Vir die dames: Dit is waar wat hulle jou vertel – jou dag gaan in ‘n oogwink verby!  My beste raad aan ‘n bruid is om take en verantwoordelikhede soveel as moontlik aan ouers, familie en bruidsmeisies te delegeer.  Op die dag moet jy elke oomblik inneem en nie bekommerd wees oor waar die konfetti is of saam watter tannie jy nog nie ‘n foto geneem het nie.  Delegeer mense om jou te help met hierdie soort dinge.

Vir die manne:  Raak betrokke by die beplanning van die troue.  Hoe meer jy betrokke raak, hoe minder spanning is daar vir jou vrou en hoe meer sal julle albei die beplanningstydperk geniet.  Jy sal ook beter kan deel in die vreugde van jou troudag as jy deel was van die beplanning.

Vertel ons meer oor jul eerste dans.


Ons albei het ooreengestem dat ons eerste dans goed gechoreografeer moet word.  Alhoewel ons vir baie danslesse moes gaan, was die beloning om ons gaste se asem weg te slaan die moeite werd.  Met die hulp van ‘n lieflike dame met die naam Sheila, het ons besluit om drie liedjies te kombineer.  Die liedjie ‘I get to love you‘ van Ruelle het stadig en intiem begin.  Ons is massiewe Matthew Mole-aanhangers, dus was ons tweede liedjie ‘You are loved.‘  Ons wou die eerste dans afsluit met ‘n lewendige liedjie om die dansvloer te open.  Tina Turner se ‘Simply the Best‘ was die perfekte keuse en dit was ook Kelly se ouers se eerste dans liedjie!  Die kombinasie van drie liedjies het ons in staat gestel om die stemming van romanties na pret te verander en ons gaste te kry om saam ons te kom dans.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Jarryd het werklik rooimiere as dit by reis kom!  Daarom het hy besluit om ‘n oorsese vakansie na Argentinië en Brasilië te beplan.  Die wittebrood was niks minder as ‘n eens-in-‘n-leeftyd ervaring nie.  Alles van die kultuur, die kos, tango-danslesse en verskillende eilande besoek was merkwaardig.

Indien pasgetroudes gelukkig is om ‘n bietjie geld oor te hê na die troue, beveel ons aan om julself te bederf met ‘n onvergeetlike reis, hetsy nasionaal of internasionaal.  Ons wittebrood was presies wat ons nodig gehad het na ‘n stresvolle tyd van beplanning.  Dit was net die twee van ons, in die buiteland.  Ons was mal daaroor om nuwe plekke te sien en verskillende kulture te beleef.

Diensverskaffers