Wimmie & Theani se klassieke troue in die Noord-Kaap

‘n Spesiale dankie aan Nerette Botha van Zoomink vir die asemrowende mooi kiekies van die paartjie se troue waar hul 220 gaste onthaal het in ‘n Venue in die mooie Noord-Kaap en dus deel ons by Mooi Troues graag met ons lesers die klassieke troue van Wimmie en Theani met julle.  Dan vertel Theani ons ook dat sy landwyd 65 rokke aangepas het voordat sy die perfekte rok vir haar aangepas het en die Lobola prys vanaf Wimmie aan Theani se pa is kosbaar en daar is geen prys wat op dié geskenk kan gesit word nie, ons beveel aan Mooi Troues se lesers lees dié oulike storie vir hul self.

Rol af en geniet die paartjie se pragtige trou foto’s.

Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?


Ons het op 10 November 2018 getrou.  Die bruidegom was 28 en die bruid 26 jaar oud.

Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?


Ons het mekaar op skool ontmoet.  Ons was beide in Hoërskool Diamantveld in Kimberley.  By die jaarlikse atletiek-dag by ons skool in 2008 vra Wimmie vir Theani om saam met hom na die Valentynsbal te gaan.  Hy was matriek en sy in Graad 10 daardie jaar.  Min het ons geweet dat daardie aand die begin sou wees van ‘n ongelooflike pad saam …

Wimmie moes my natuurlik vra om te trou….hoe dan nou anders?

Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?


Hulle sê altyd: “Jy sal weet as dit die regte rok is”.  Dit was absoluut die geval met my.  Miley van Enzoani, soos hulle my rok noem, was die tweede rok van 65 rokke wat ek reg oor die land aangepas het.  Ek wou haar letterlik nie uittrek nie en soos my ma en sussie gesê het, “Sy blom as sy daai rok aan het”.  Geen ander rok kon ek eers naby met haar vergelyk nie!  Ek sou sê my rok word deur vier woorde beskryf: Gesofistikeerd, Stunning, Sexy en Glansryk!

Vertel ons meer van jul ringe.


Wimmie het natuurlik die hele haas uit die hoed geruk met my verloofring.  ‘n 1.5 Karaat Solitêre diamant met uitstekende kleur en helderheid geset in Platinum met klein diamantjies op sy pandjie.  Ek kan nou nog nie my oë glo as ek na my ring kyk nie!  Bederf is ‘n onderskatting!!  Ek het 2 troupante vol klein diamantjies gekry op ons troudag.  Wimmie het ‘n geborselde Witgoud ring wat natuurlik gemaklik pas (Let wel, hy is ‘n boer) met ons troudatum binne gegraveer.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Ek het nie regtig enige ander fotograaf oorweeg as Nerette Botha van Zoomink om my troufoto’s te neem nie!  Sy is so ongelooflik kreatief en talentvol!  Dit is ‘n absoluut fees om saam met haar te werk en haar vriendelike, sagte geaardheid laat mens so op jou gemak voel.

Ons videograaf kom van Bloemfontein af,  Carl Vilorie van The Spiffy Chap.  Die werk wat hy doen is werklik fantasties!  Ek het baie van sy rustige en humoristiese aanslag gehou!  En natuur sy oog vir fliek mooi video”s.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?


Sjoe, daar was so baie!!

  • Kevin Leo was ‘n gas op ons troue en het in die kerk gesing.  Ons het in die St Cyprian’s katedraal in Kimberley getrou wat die langste paadjie in Suid-Afrika het.  Ek dog ek kom nooit voor nie!!.
  • My ringkussing is gemaak van gehekelde doilies wat op die bekers sap geplaas was tydens my ouers se troue in 1988.  Die doilies is deur my oumagrootjie gehekel.
  • My 5 laag troukoek het uit die dak gehang.
  • Wimmie het ‘n hoender (sy naam is Brille) vir my pa op die troue gegee as Lobola om met my te mag trou.  Tot groot vermaak toe die hoender my pa jaag!
  • Ek is deel van ‘n identiese tweeling, en die band wat ek en my sussie het kan ek nie beskryf nie.  Wimmie het, sonder dat ek weet ‘n sleutel van ons huis vir my sussie laat maak en op die troue voor almal vir haar gegee.  Hy weet hoe moeilik die skeiding na 26 jaar vir ons is en dit het oneindig baie vir my beteken!
  • Ek het vir nagereg die roomys “liedjie” gespeel en toe kom daar ‘n regte roomys bussie ingery wat roomys uitdeel.
  • Die troukar is ‘n 1960 Mercedes Benz en was die burgemeester van Pretoria se vrou se ampsmotor.
  • Ek, my sussie en Kevin Leo het ‘n spesiale liedjie vir die 3 ouma’s op die troue gesing!

Daar is absoluut niks wat ek sou wou verander nie!

Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?


Omdat ek en Wimmie in die Noord-Kaap groot geword het, wou ons bitterlik graag in en rondom Kimberley trou.  Van die eerste dag wat ons by Bella Cardi in gery het was daar iets spesiaals aan die venue.  Ek het net onmiddellik geweet dat dit presies hier is waar ek gaan trou!!  Eg Noord-Kaaps met sonsondergange wat jou na jou asem laat snak.  Die hele span was van dag een af net ‘n plesier om mee te werk.  Hulle vriendelikheid, energie en opwinding is aansteeklik!  Hulle laat voel ‘n mens letterlik soos die enigste bruid op aarde en niks was ooit te veel moeite vir hulle nie! Alles van ons dag was presies soos ons dit wou gehad het.

Ek hou van ‘n klassieke voorkoms en het op wit, silwer en glas vir my troue besluit, met baie liggies en kerse.  Ek het ook met beligting gespeel vir ‘n romantiese atmosfeer.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Bruid:

  • Gee jouself genoeg tyd om jou troue te reël, sodat jy jou eerste keuse verskaffers kan kry vir jou troue en om stres van jouself af te haal.
  • Proef jou hare en grimering totdat jy tevrede is.  Jy mag oor niks spyt wees daardie dag nie, en daar gaan nie tyd wees om dit oor te doen nie.
  • Pas alle style trourokke aan.  Jy mag dalk die een kies wat jy glad nie gedink het by jou sal pas nie.
  • Gee jou energie uit op die dinge wat jy kan beheer en verander.  Die weer op jou troudag is nie een van hulle nie.
  • Koop bruidstydskrifte en woon trou expo’s by vir idees.  Jy sal verbaas wees waarop jy kan afkom.

Bruidegom:

  • Moenie te veel inmeng nie, jy maak jou lewe vir jouself baie makliker as jy haar los om die besluite en keuses te maak.
  • Daar is so baie dinge wat nie voor die laaste week gedoen kan word nie.  Vat die laaste week voor die troue af en wees beskikbaar om takies te doen.  Glo my, daar is baie!

Vertel ons meer oor jul eerste dans


Ek en Wimmie het die dansvloer oop gemaak op Same Parts, Same Hearts van Matthew Mole.  Direk daarna het ons en die strooijionkers en strooimeisies op “Summer of 69” gedans.  Dit was die liedjie waarop ek en Wimmie vir die eerste keer gedans het op Wimmie se 18de verjaarsdag in 2008.  Ons het nie regtig geoefen voor die tyd nie.  Na 10 jaar sou ek sê is ons redelik ingeoefen en ons het klein dans roetines wat ons altyd doen as ons dans.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?


Ons begroting was R400 000.  Ons het 220 gaste op ons troue gehad.  Omdat dit ‘n groot troue was, was goeie beplanning aan die orde van die dag om in die begroting te bly.  Maar ons het dit 100% reggekry, danksy die “hands-on” bruid wat in volle beheer was van dag een af!

Vertel ons meer van jul Wittebrood.


Ons het na Le Victoria toe gegaan in Mauritius!  Dit was ‘n absolute fees!  Ons het baie lekker weer gehad en kon ure op die pragtige wit strande spandeer.  Die hotel bied ‘n verskeidenheid aktiwiteite aan en het fantastiese restaurante waar ons gesmul het aan eksotiese disse, gekyk het na asemrowende sonsondergange en elke dag ‘n ander skemerkelkies op die menu probeer het.  Die beste 7 dae van ons lewens!

Diensverskaffers: