Jason & Chanté se elegante troudag

Ons by Mooi Troues se asems was weggeslaan met die foto’s van Jason en Chanté se Wintertroue dat ons nou erg opgewonde is om die foto’s geneem deur Nicolene Meyer met ons lesers te kan deel.  Daar is nie woorde wat genoeg krediet kan gee aan die asemrowende mooi foto’s nie en as ons kyk na Nicolene Meyer se kwaliteit van werk kan ons verstaan hoekom Chanté dadelik verlief was toe sy na Nicolene se werk die eerste keer gekyk het.

Jason & Chanté het self vir hul troue betaal en deel waardevolle advies met Mooi Troues se lesers om kostes te bespaar waar moontlik, so lees aandagtig hul advies en onthou om dit met vriende en familie die mooi troue te deel.


Troudatum en ouderdom van paartjie op troudag:


Ons het op 25 Augustus 2018 getrou.  Ek was 23 en Jason was 26.

Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou.


Ek en Jason was in dieselfde hoërskool, maar ons het mekaar nooit amptelik ontmoet nie.  Ons is eers in my matriekjaar aan mekaar voorgestel.  Hierdie was snaaks genoeg by my ex- kêrel, A-Jay, se 18de verjaardagpartytjie.  Ek en A-Jay het regdeur ons hoërskoolloopbaan goeie vriende gebly, hy en Jason was ook goeie vriende.  A-Jay het ons aan mekaar voorgestel met sekerheid dat ons mal oor mekaar sal wees.  Hy was heeltemal reg, toe ek by die partytjie instap het ons mekaar dadelik raakgesien en ons albei het gevoel dat ons mekaar beter wil leer ken.  Ons het vir drie jaar uitgegaan en werklik beste vriende geword.  Jason het my in Stellenbosch gevra het om met hom te trou en ons was toe vir nog twee jaar verloof voordat ons getrou het.

Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke rok gekies het:


My rok was die heel eerste rok wat ek aangepas het.  Ek het altyd gedink dat ek ‘n baie eenvoudige rok sal kies en sou nooit iets voorstel soos die rok wat ek gekies het nie.  Die rok het baie meer detail gehad as die soort rok wat ek in gedagte gehad het, maar toe ek by die bruidswinkel instap, was dit die eerste rok wat my oog gevang het.  Ek het hom eerste aangepas en na hom nog drie, maar nie een van die ander kon my laat voel soos my rok my laat voel het nie.  Dit was definitief die rug en neklyn wat my oortuig het.

Vertel ons meer oor die ringe:


My ringe is vir my besonders kosbaar.  Ek en Jason het my oorspronklike ring saam gaan uitkies en hy was net wat ek wou hê: klein, fyn en elegant.  ‘n Rukkie na ons verlowing, is my ouma aan kanker oorlede.  Ek en sy was baie na aan mekaar en ek het ‘n groot geskenk ontvang en haar ring geërf.  Ons het besluit om haar ring met myne te kombineer.  Haar diamantjies is rondom my diamant in die vorm van ‘n blom rangskik.  My oupa het die jaar voor ons troue vir my sy trouring gegee, met die wens dat die oorblywende diamantjies van my ouma se ring daarmee gekombineer word om my troupant te vorm.

 

Vertel ons meer oor jul fotograaf en videograaf:


Ons het spesifiek gesoek na ‘n fotograaf met ‘n sagte styl, wie werklik die oomblikke en emosies kon vasvang.  Toe ons Nicolene Meyer se webwerf sien, was ons dadelik verlief op haar werk.  Dit was een van die beste besluite wat ons geneem het.  Sy het vir ons ‘n pragtige verlowingsessie gedoen en ons verwagtinge oortref met ons troufoto’s.  Nicolene is briljant in dit wat sy doen, sy het ons so gemaklik voor die kamera laat voel en ek het ten alle tye my volle vertroue in haar gehad.  Nicolene is ‘n absolute perfeksionis en lewer werk van hoogstaande kwalitiet. Sy het ons spesiale oomblikke so mooi vasgevang.

‘n Videograaf was nie oorspronklik deel van ons begroting nie.  Quake Portfolios Wedding Films het vriende van ons se video gedoen en dit was asemrowend, ons het so gewens dat ons hulle ook kon gebruik.  Toe ons nader aan die troue ‘n bietjie ekstra geldjies oor gehad het, was ons eerste gedagte dat ons nou ‘n video kan doen.  Natasha en Gabriel is fenomenale mense, hulle diens en kwaliteit is uitstaande, ons is nie vir ‘n oomblik spyt nie.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?


Die dag het so mooi verloop, ons albei was rustig en het toegelaat dat alles net gebeur soos dit moes.  Al wat belangrik was, was dat ons ons beloftes aan mekaar kon maak.  Die hoogtepunt van die dag was natuurlik daardie eerste kyke toe ek in die kerk stap, op pad na my droom man.  Albei het kinderlike vreugde ervaar na ons ons geloftes aan mekaar gemaak het.  Ons het probeer om elke oomblik in te neem en nie te stres oor onnodighede nie, ons het die dag net laat wees wat dit is.  Ons het elke oomblik saam met ons familie en vriende van naby en ver geniet.

Jul se advies aan paartjies wat besig is om hul troue te beplan


Bruid se advies:

Geniet elke oomblik. Moenie oor die klein dinge stres nie, geniet eerder die dag en neem elke oomblik in, die dag gaan so vinnig verby.  Kies verskaffers wat absoluut bekwaam is, dit maak die dag baie makliker as jy weet dat jy jou verskaffers kan vertrou.

Bruidegom se advies:

Moenie oorboord gaan bloot om ander te beïndruk nie, doen absoluut wat julle gelukkig gaan maak.  Die volgende het ons werklik geleer: “Minder is meer”.

Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ons het na ‘n hele paar venues gaan kyk, maar Trés Jolie het ons harte gewen die oomblik toe ons in hul kapel ingestap het.  Daar was net dadelik ‘n gevoel van rustigheid oor ons en ons het geweet dat dit die venue vir ons is.  Die venue was eenvoudig en klassiek en het presies gebied wat ons wou hê.  Ons het so lekker saam met die personeel gewerk en op ons dag het ek nie vir ‘n oomblik gestres nie, want ek kon met ‘n geruste hart als in hul bekwame hande laat.  Ons was benoud oor ons datum in Augustus, maar wat ‘n mooi dag was dit nie.  Die voëltjies het vrolik langs die fonteintjie getjirp, die reuk van kraakvars Lente-bloeisels het in die lug gehang en die plante was lowergroen.  Trés Jolie is werklik iets besonders.

Trés Jolie het ons verwagtinge oortref met die dekor.  Ons wou niks oorbodig hê nie en wou graag iets eenvoudig maar stylvol hê.  Die Groen blare en Wit blomme was minimalisties, maar absoluut elegant en stylvol, dit was prentjiemooi.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?


Ons het twee jaar vir ons troue gespaar en het ‘n begroting van R120 000 gehad.  Dit was vir ons ‘n uitdaging om as jong paartjie self vir ons troue te betaal …  Ons het nie altyd verstaan hoe dinge net so mooi in plek geval het nie, maar ons weet dat ons absoluut geseënd was.  Daar was ‘n aantal faktore wat ons gehelp het om kostes te sny.  Ons het ons venue reeds in 2016 bespreek … Wat ons toegelaat het om 2016 pryse te betaal, eerder as 2018 pryse.

Ons het ook ‘n datum in Augustus gekies, wat ons toegelaat het om Winterpryse te betaal.  Daar was wel seker gemaak dat dit die laaste moontlike Saterdag van die Winterdatums was, aangesien ons eintlik ‘n Lentetroue wou hê.  Ons was egter so geseënd met die weer, bloeisels en Groen plante dat ons wense vir ‘n Lentetroue waar geword het.

Ek het ook uitverkopings op trourokke fyn dopgehou en het goeie afslag op myne gekry.  My grimeerkunstenaar is ook twee jaar voor ons troue bespreek om 2016 pryse vas te maak.  Die feit dat my beste vriendin ‘n haarkapster is, het ook baie gehelp, want sy het almal se hare gedoen.  Verder het ons werklik goed navorsing gedoen en met elke element gesoek na die beste pryse, maar steeds goeie kwaliteit.  Ons het net ons naaste vriende en familielede genooi en het toe 95 gaste onthaal.

Vertel ons meer oor jul eerste dans


Ons eerste dans was op Ed Sheeran en Beyoncé se weergawe van Perfect.  Ons wou nie ‘n vreeslike ingewikkelde dans hê nie, maar het wel vir klasse gegaan om ‘n eenvoudige dansie te leer.  Dit was perfek, want dit het ons die geleentheid gegee om werklik die oomblik te geniet en in te neem, eerder as om oor komplekse bewegings te stres.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Ons was in Kampsbaai vir ons wittebrood.  Ons het in ‘n pragtige gastehuis, Auberge du Cap, gewoon.  Hierdie gastehuis het prentjiemooi uitsigte van die see en die berge gehad.  Ons het die Kaap verken, wat vir my baie lekker was aangesien dit maar my tweede keer daar was.  Ons het natuurlik ook weer na die presiese plekkie gegaan waar Jason my gevra het om met hom te trou.

Diensverskaffers: