Johan & Amy se snoesige Wintertroue

Ons sien al hoe meer paartjies wat verkies om in die Winter te trou en by Mooi Troues is ons groot aanhangers van Wintertroues.  Vir ons lyk Wintertroues altyd so snoesig en die bruide se rokke is ook vreeslik mooi, soos Amy se rok met ‘n Kant bo-stuk wat altyd elegant en tydloos is.  Die Winterweer bied ook ekstra drama by die foto’s en paartjies hoef nie te stres oor harde sonlig of om vreeslik warm te kry gedurende hul fotosessie nie.  Dit is ook altyd goed om die venue mooi te maak met items met warm kleurskema en baie kerse of ligte om die snoesige atmosfeer perfek af te rond.

Beplan jy jul dalk om in die Winter te trou?  Dan sal jul dié troue van Johan en Amy baie inspirerend vind, so rol af en geniet hul pragtige foto’s.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag?


09 Junie 2018, Johan was 25 jaar oud en Amy 26 jaar oud.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Johan het skoolgegaan by Hoër Seunskool Paarl en Amy by Hoër Meisieskool Paarl.  Johan was ‘n jaar jonger as Amy en sy suster (Lizelle) was so oud soos Amy- ook in Hoër Meisieskool Paarl. Amy het een naweek by Lizelle gaan kuier en so vir Johan vir die eerste keer ontmoet.  Soos hulle sê- “Die res is geskiedenis.”  Ons het op Mxit (Ja, Mxit was toe nog die metode van kommunikasie) begin gesels en op 02 August 2008 het Johan vir Amy uitgevra.  Ons het getrou net voor die 10 jaar mylpaal op 02 Augustus 2018.

Hoe het julle verloof geraak?


Johan het die dag van 16 Junie 2017 mooi beplan.  Ons was op pad Struisbaai toe vir die langnaweek, maar het besluit ons wil gaan zipline in Caledon.  Ons wou dit nog altyd doen en albei van ons is buitelug mense.  Op die heel laaste platform het Johan op sy knie gegaan en die groot vraag gevra.  Amy het dit glad nie verwag nie maar dit was ‘n definitiewe Ja.  Johan het selfs gereël dat die een gids die hele gebeurtenis afneem.

Vertel ons meer van jul ringe.


Amy se verloofring is gemaak deur Viljoen Juweliers.  Haar ring is Roosgoud met ‘n ronde diamant.  Die fyn ring het perfek gepas by Amy.  Haar troupand is van Uwe Koeter juweliers en is ‘n Roosgoud band met klein steentjies in.  Johan se ring is ‘n Witgoud band van Browns.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Lindie Meyer was ons fotograaf, sy het al voorheen foto’s geneem vir my suster en dis hoe ons van haar geweet het.  Sy is so ‘n lieflike mens, baie talentvol en laat jou gemaklik voel en vang elke spontane oomblik vas.

Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?


Dis so moeilik om een oomblik te kies.  Die hele aand was ‘n hoogtepunt vir ons.  Die toesprake was baie spesiaal gewees en is definitief iets wat ons sal koester.  Dis net ‘n absolute voorreg om so ‘n groot gebeurtenis met spesiale vriende en familie te deel- die mense wat vir jou omgee en saam met jou opgewonde is.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Daar is absoluut niks wat ons sou verander nie.  Ons koester net al die herinneringe, want die tyd gaan so gou verby.

Hoe het julle die venue gekies?


Twee van Amy se niggies het by Eensgezind getrou en het net goeie terugvoer gehad oor die venue.  Amy en haar ma het een dag daar gestop en gesien hoe mooi dit is.  Ananda van Eensgezind is so behulpsaam en vriendelik dat Amy dadelik besluit het: “Dis waar ek wil trou!”.  Ek wou ook in die Winter trou en die venue is goed ingerig vir koue en reën.  Die dansvloer is groot, die kroeg is binne en die stoep kan toegemaak word.  Een van ons vereistes was ook dat die venue so veel as moontlik moet doen.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


‘n Troue is julle spesiale dag.  Dit is die een geleentheid waar julle julself eerste kan stel.  Nooi die gaste wat julle daar wil hê en beplan ‘n troue wat vir julle lekker gaan wees.  ‘n Verdere wenk is om rustig te bly en nie gespanne te wees nie.  Ons was albei baie rustig gewees met die beplanning en ook op die troudag.  Neem ook ‘n paar oomblikke op julle troudag om net alles in te neem.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Ons was vir ons wittebrood Thailand toe gewees.  Dit was ons albei se eerste keer oorsee en het die wittebrood net meer opwindend gemaak.  Ons het ‘n paar aktiwiteite gedoen maar ook lekker gelê langs die swembad met drankies en ‘n boek.

Diensverskaffers: