Danie & Nicole se besonderse troue

Ons by Mooi Troues se asems is behoorlik weg geslaan deur Danie en Nicole se troue, veral die paartjie se paartjie fotosessie in ‘n verlate groenhuis met vetplante en Turksvy bome wat bo oor hul uitreik.  Ons het nog nooit so iets gesien nie en dit lyk of dit nie eens in Suid-Afrika kan wees nie, tog is dit êrens reg hier in die Vrystaat!  Ons moedig ons lesers aan om sommer gou af te rol en ook jul sig sintuig te bederf met dié pragtige ligging.  Onthou om jul vriende en familie ook te vertel van die besonderse troue.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag?


18 November 2017 en Danie 31 jaar / Nicole 30 jaar

Hoe het julle mekaar ontmoet en hoe het julle verloof geraak?


Ons het lank gelede saam gewerk, en was van toe af vriende.  Eendag het ons oë uiteindelik oopgegaan en die res is Geskiedenis!

Ek het altyd gevoel dit is nie net die meisie wat verloof raak nie, maar die man ook.  Dus was dit vir my belangrik om die geleentheid vir hom net so spesiaal te maak as hy vir my.  Ons het besluit om vir die naweek weg te gaan na Zulu Waters Game Reserve waar ons die naweek spandeer deur goed te doen wat ons altwee geniet (perdry, kuns vlieg hengel, wilds ritte).  Al wat ek nie geweet het nie, is wanneer hy my sou vra om verloof te raak, so dit was nog ‘n groot verassing vir my gewees!

Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?


Ek is ‘n jeans & T-Hemp tipe meisie, en is glad nie lief om ‘n rok te dra nie.  Dit beteken nie dat ek nie ‘n pragtige rok waardeer nie … So ek wou iets hê wat gemaklik, maar romanties is en oor Bloemfontein baie warm is in November, wou ek iets hê wat lig en koel ook sou wees.  Ek het die ontwerp op The Cottage Designs se Facebook blad gesien en het toe na hul verteenwoordiger in Johannesburg gegaan (Blissfully Bridal) om met die proses te begin.

Vertel ons meer van jul ringe.


Ek het vir Browns gewerk, en het geweet dit is waar ek eendag my ring wou kry.  Hulle Halo ontwerp het my hart gesteel, en ek en my man het saam gegaan om hom uit te kies.  Danie dra nie juwele nie en gemak was vir hom die grootse invloed toe ons sy ring kies.  Hy het eendag ‘n Titanium ring gesien wat sy oog dadelik gevang het.

Vertel ons meer oor die fotograaf


Ons fotograaf (Maryke Venter) is fenomenaal!  Ek is gemakliker agter die kamera, en my man is self nie lief om voor die kamera te wees nie.  Sy het ons so op ons gemak gehad, ons het soms vergeet sy was daar!  Sy het geweet ons soek iets buite die norm vir ons fotos (die feit dat ons trou kar ‘n Landrover Defender met die naam van Slomo is sê als!) en sy het die perfekte plek gevind. Dit is ‘n verlate vetplant kwekery, wat vreeslik “rustiek” lyk, met massiewe Turksvy bosse en kaktusse wat oor mens uit toring!

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?


Nicole: “Vir my was dit om vir Danie te sien staan voor in die kerk, met rooi ogies vol trane terwyl ek instap op The Book Of Love deur Peter Gabriel!  Toe ons oë mekaar vind, het ek geweet hierdie is die beste besluit wat ek nog ooit gemaak het, en dit was asof dit net ons twee in die kerk was.”

Danie: “Toe Nicole instap, toe weet ek dat elke besluit wat ek nog in my lewe gemaak het, my tot op hierdie volmaakte oomblik gebring het.”

Ons wens ons het geweet hoe om tyd te stop, want die dag het te vinnig verby gegaan!

Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ons was mal oor die foto’s wat ons al van Pepper Tree gesien het.  Toe ons na die plek gaan kyk het, was ons verlief!  Ons is albei ook baie lief vir die plaas en Pepper Tree het vir ons daardie gevoel gegee.  Die feit dat hulle basies alles oorneem, en al die stres van jou wegvat, was ongelooflik!  Die dag het soos klokslag verloop, en alles was perfek en professioneel!

Ek en Danie is albei lief vir simplisties (geen ophef), maar stylvol en bekostigbaar.  Ons het die blomme (met die hulp van familie) self gedoen die dag voor die tyd.  En ons dekor het ons simplistiese, natuurlike styl uitgebeeld.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?


Ons het begroot vir so R50 000, maar met al die klein onbeplande items het dit vermeerder.  Ons het darem wonderlike ouers, familie en vriende wat ons baie uitgehelp het deur goed te selfdoen en so geld te kon spaar.  Daar was 80 mense (insluitend die Platejoggie en fotograaf)

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Dit is julle troue!  Goeie kos (dit is wat gaste onthou), goeie fotograaf (dit as al wat julle gaan hê om na terug te kyk eendag) en goeie Platejoggie (met goeie musiek)!

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Ons het besluit om eers onsself te vestig voor ons wittebrood hou.  Ons is besig om te spaar om 2019 Mauritius toe te gaan.  My wonderlike maatskappy, The Holiday Factory, help om ‘n pakket bymekaar te sit vir ons. Gaan kyk gerus na die webblad!

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: