Abré & Marechelle mooi klassieke troudag

In die foto’s hieronder kan ons sien dat die pragtige paartjie, Abré en Marechelle, ‘n dag vol asemrowende herinneringe het.  Die oomblik toe Marechalle se strooimeisies haar die eerste keer aan haar trourok sien is kosbaar.  Ons by Mooi Troues hou baie van die idee waar die Abré en Marechelle vir ‘n oomblik voor die seremonie om ‘n hoek handevas gehou het en vinnig met mekaar gesels het.  Hul troue se dekor is ook klassiek met Groen en Wit en die kant tafellopers gee dit so ‘n spesiale effek.  Rol af en geniet hul troue.

Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?


Ons troudatum 14 Oktober 2017.   Ouderdom op troudag:  Marechelle 22 en Abré 27 jaar oud.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons albei se ouers woon in Witbank.  Abré het al vir ‘n geruime tyd ‘n ogie op Marechelle gehad, en het dit vir een van sy vriende genoem dat hy graag ‘n ‘afspraak’ wou hê.  Gemeenskaplike vriende het ons, tydens ‘n kuiertjie by Ocean Basket, aan mekaar voorgestel.  Abré het toe nie gras onder sy voete laat groei nie, en het seker gemaak dat hierdie een nie wegkom nie.

Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?


My trourok het my net absoluut soos ‘n handskoen gepas.  Wat meer kan ek sê?  Ek het net geweet hierdie is my rok.

Vertel ons meer van jul ringe.


Ons verloofring is Browns se platinum Halo ring, wat kom met ‘n boodskap van liefde.  Dis ‘n konstante simbool wat die bruid met haar saamdra, om haar te herinner dat iemand baie spesiaal haar liefhet. ‘n Eenvoudige platinum troupand, vir ewige trou, voltooi die bruid se prentjie.

Die bruidegom het ‘n Titanium troupand, vir ewige trou, gekies vir gemak en wat hy elke dag kan dra.

Hoe het julle verloof geraak?


Abré se opdrag aan Marechelle was:  “Marechelle trek warm aan, ek kom tel jou môreoggend 5uur op en jy mag geen vrae vra nie.”

So is ons toe vroeg die oggend van die 9de April 2017 na Bill Harrop’s Balloon Safaris by Hartbeespoortdam.  Die ja-woord is in die lugballon gevra.  Dit is opgevolg met ‘n heel toepaslike sjampanje ontbyt.  Dit was presies 6 maande voor ons troudatum, so ons het toe sommer daardie selfde middag beide ouerpare vir middagete by ons trou venue ontmoet.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Johann Bekker Photography was by Wedding Expo 2017.  Dis by dieselfde Wedding Expo waar Marechelle ‘n tentatiewe datum met die venue, Cradle Valley Muldersdrift, vasgemaak het vir 14 Oktober 2017.   Hierdie was die enigste datum wat Cradle Valley nog beskikbaar gehad het vir 2017.  Toe dit blyk dat Johann nog nie uit geboek was vir 14 Oktober nie, en dat hy nog op daardie spesifieke dag beskikbaar was, het ons net geweet hierdie fotograaf is ‘bedoel om te wees’ vir ons groot dag.

Johann se diens is puik, en ons het van die begin af heel gemaklik saam met hom gekuier.  Inderdaad ‘n fotograaf van formaat wat ons verseker kan aanbeveel.

Het julle ‘n videograaf gehad?


Darren Ellis van Johann Bekker Photography was ons videograaf op ons groot dag gewees.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?


Wat vir ons merkwaardig was van ons dag, is ons erfenis van huweliksjare.  Nie net ons onderskeie ouerpare nie, maar ook ons groot-ouerpare.  In totaal 165 huweliksjare, inderdaad ‘n paar sakke sout om op trots te wees.

As ons iets kon verander, sou dit wees om elke perfekte oomblik van ons perfekte dag, weer te kon herleef.

Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?


Dis by Wedding Expo waar Marechelle eers ‘n tentatiewe datum met die venue, Cradle Valley Muldersdrift, vasgemaak het vir 14 Oktober 2017.  Cradle Valley se uitstalling by die Expo het Marechelle se hart gesteel, want dit was presies wat sy in gedagte gehad het vir haar groot dag.  Klassieke Wit en Groen dekor met baie glas en kristal en ‘feetjie liggies’.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?


Ons het ongeveer 80 gaste onthaal.  Ons het nie werklik ‘n akkurate begroting gehad nie, aangesien hierdie vir albei van ons ‘n eerste was.  Op die drie primêre kostes nl. die rok, venue en fotograaf wou ons nie afskeep nie.  Ons het geweet wat ons wou hê en het met dit in gedagte met die res van die begroting gewerk.  Hierdie was immers ons groot dag wat ons vir die res van ons lewens sal onthou.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Trou is beslis nie perde koop nie.  Kommunikasie bly maar altyd die goue wagwoord.  Nie net tussen die voornemende bruidspaar nie, maar ook die twee betrokke families.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Ons is albei nog studente, ekself (Marechelle) studeer voltyds en Abré deeltyds.  Ons het besef dat ons troudatum moontlik tussen ons eksamendatums sou val, maar het besluit om dit te vat soos dit kom.  Abré het die Maandag, 16 Oktober 2017, Rekeningkunde geskryf en ekself (Marechelle) het die week na ons troue met ‘n toetsweek begin.  Ons kon eers in Desember bietjie wegbreek. Ons is toe vir 3 weke Jeffreysbaai toe, waar ons die feestyd saam met familie en vriende deurgebring het.

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]