Kershoff & Beanca se oulike verlowing fotosessie

In die foto’s onder kan ons sien dat Kershoff en Beanca sommer hals-oor-kop verlief en gelukkig is.  Elke liewe foto vertel sy eie storie en met die perfekte agtergrond van Jouberstdal Country Estate lyk die foto’s asemrowend mooi.  Ons by Mooi Troues weet sommer dat die paartjie vir geslaagde wat volg die foto’s gaan wys en dan nogsteeds so verlief op mekaar wees soos op die dag toe die fotosessie gehou was.

Vertel ons hoe het julle ontmoet en watter eienskappe jul na mekaar aantrek?

Ons het ontmoet in ons tweede jaar van universiteit toe ons kringleiers was by NG Kerk Stellenbosch (Kruiskerk) se eerstejaarskamp, maar eers werklik begin gesels terug op kampus.  Ons was aanvanklik te skaam om mekaar te nader, maar ons het soos die dae verloop onsself meer in mekaar se geselskap gevind.

Kershoff vertel: “Beanca is vir my beeldskoon, maar die deurslaggewende faktor is dat sy baie dieselfde waardes en denkwyse met my deel.”

Beanca vertel: “Die aanvanklike aantrekking was na Kershoff se blou oë, maar ek het gou besef hy is selfs mooier van binne as buite.”

Vertel ons hoe het julle verloof geraak?


Dit was harde werk om vir Beanca te verras aangesien ons reeds maande van tevore ouers gevra het en sy om elke hoek en draai ‘n ring verwag het.  Ek moes een van haar vriende intrek om te help verhoed dat sy snuf in die neus kry.  Ek het gereël dat hulle die oggend na Route 44 gaan en daarna na Jordan Wine Estate waar ek haar ingewag het met ‘n piekniek, sjampanje, blomme en natuurlik – die ring. Sy was uit die veld geslaan.  Die piekniek was intiem en afgesonder met ‘n mooi uitsig oor die Stellenbosch berge.

Wat was die inspirasie vir die verlowing fotosessie


Ons fotograaf (Elana van Zyl – hoogs aanbeveel!) het ‘n plaas net buite Swellendam aanbeveel vir die fotosessie.  Dit het gesorg vir die perfekte agtergrond.  Ons het nie ‘n spesifieke idee of tema gehad nie.  Ons wou bloot die kleure natuurlik en aards hou sodat dit by die troue sou pas. ‘n Romantiese sonsondergang en ‘n bekwame fotograaf is die geheime bestanddele vir enige toekomstige egpaar se verlowings foto’s.

Vertel ons oor jul droom troue


‘n Gesellige en intieme troue met die mense wat ons lief het, waar elke gas deel voel en saam God se krag en liefde in oorvloed vier.

Diensverskaffers