Waldo & Minet se plaastroue

As die paartjie vir jou effens bekend lyk, is jy beslis ‘n getroue Mooi Troues leser!  Waldo en Minet het so ‘n paar maande vantevore ook hier verskyn met hul verlowings fotosessie en kan nou uiteindelik ook hulle troudag met ons deel.  Die paartjie het ‘n ontspanne atmosfeer op hul troudag gehad wat gaste welkom laat voel het, sonder om die begroting te breuk of afstand te doen van die ideale troudag waarvan beide gedroom het. Die paartjie het met 120 gaste op die dag al hul vriende en familie daar gehad.  Hulle sê ook dat hulle nou elke klein deeltjie van die dag oor en oor kan herleef te danke aan ‘n videograaf!

Lees beslis onder wat hulle mening is oor videograwe as jy nog nie seker is om een te kry by jou troudag nie.   Die paartjie het beeldskoon gelyk en gefokus op die dinge wat saak maak tydens die dag soos lekker kos, musiek en geselskap.  Hulle het die dekor eenvoudig en mooi gehou.  Wees verseker om hul pragtige skryfbehoeftes op te let wat deur een van ons bydraers, Something Gold Design studio, ontwerp is.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons ontmoeting is eintlik ‘n lang storie, maar alles het begin op Mosselbaai se strand in 2006. Hy was ‘n Paarl Boys High seun en ek was ‘n Bloemfonteinse Eunice meisie, wat deur vriende ontmoet het en Desember vakansies saam gekuier het. In 2010 het ons paaie weer gekruis as studente op Kovsies, maar dit was eers nog twee jaar later wat ons werklik mekaar vir die eerste keer raak gesien het. In 2012 het vriende van ons begin uitgaan en dis deur hulle wat ons meer tyd saam met mekaar spandeer het. Ons het nie een werklik geweet hoe ons oor mekaar voel nie, maar toe Waldo in die hospitaal beland met ‘n rugby besering en skelm my hand vasgehou het, het ek dadelik geweet dat hy wel dieselfde oor my voel soos ek oor hom.

Vir my, was dit Waldo se opregtheid, spontaniteit, aansteeklike lag en liefdevolle hart wat ek net nie genoeg van kon kry nie en my aangetrek het tot hom. Waldo sê weer vir hom was dit Minet se omgee hart, liefde vir kinders (haar beroep) en die feit dat sy ‘n groot bok vir sports is, wat my hart vinniger en stadiger, op dieselfde tyd laat klop het.

Wat was die styl van jul troue?


Ek sou sê die styl van ons troue was rustiek met ‘n paar moderne elemente. Ons wou net ‘n baie gemaklike en warm gevoel skep sodat dit nie ‘n stywe atmosfeer was nie. Baie van ons inspirasie het maar gekom van Mooi Troues en Pinterest publikasies wat ons bymekaar gesit het en ons eie weergawe daarvan gemaak het.

plaastroue

Was julle met wittebrood?


Ons was wel bevoorreg om op wittebrood te kon gaan. Dit was alles ‘n verassing vir Minet, sy het eers uitgevind waarheen ons gaan toe ons op die lughawe aanmeld vir ons vlug na Phuket, Thailand. Dit was verseker ‘n onvergeetlike vakansie saam. In Phuket het ons die een dag op ‘n Vespa die hele plek plat gery en ons het ook ‘n ander paartjie daar ontmoet wat toevallig op dieselfde dag as ons hier in S.A. getrou het en ons het lekker vriende geraak. Daarna was ons paar nagte na die Phi Phi Eilande toe en het ook drie dae in Bangkok deurgebring. Ons kan nie wag om weer terug te gaan nie!

Hoekom het julle die venue gekies?


Ons het besluit op Pepermossie omdat dit so prentjie mooi is en presies die gevoel en voorkoms het waarvoor ons gesoek het. Wat wel ‘n baie groot rol gespeel het is dat ons nie in Bloemfontein self bly nie, daarom was dit verseker ‘n bonus dat hulle alles vir jou hanteer. Van die dekor en blomme tot kos en drinkgoed, hulle het ook ons troukoek gemaak. So vir my wat so bietjie van ‘n perfeksionis is, was dit net baie lekker om te weet dat ek nie met 20 verskillende mense reëlings moet tref nie.

plaastroue plaastroue Something Gold design Studio Something Gold design Studio

Wat is julle advies aan ander paartjies wat hul troue nou beplan?


Die konflik wat dit veroorsaak was vir ons moeilik… Probeer om nie te erg te fokus op klein goedjies nie, op die ou einde is dit regtig nie die baklei en hartseer werd nie. Dis ook nood belangrik om ‘n deeglike tydskedule op te stel van die begin van die troue af en hou daarby!

plaastroue

Wat was jul begroting en hoeveel gaste het julle genooi?


Ons begroting was R150 000 en ons troue het toe op die ou einde R140 060 gekos. Ons het ook 120 gaste gehad by ons troue.

Something Gold design Studio Something Gold design Studio Something Gold design Studio Something Gold design Studio

Het julle ‘n Videograaf gehad?


Ja ons het ‘n videograaf gehad, dit is ‘n definitiewe moet. Daar is so baie wat ons op die video gesien of gehoor het wat ons daai dag net glad nie na opgelet het of ingeneem het nie.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: