Daniel & Madeleine se Seinheuwel verlowing fotosessie

Daniel en Madeleine se hegte vriendskap het die fondasie gebou vir ‘n pragtige verhouding.  Onder vertel Madeleine hoe sy geweet het dat Daniel die man is met wie sy haar lewe wou deel en beskryf in die mooiste woorde hoe Daniel haar soos ‘n prinses laat voel – een van die vele redes waarom sy verewig by hom wil wees.  Die paartjie het hul fotosessie gehou op Seinheuwel wat toevallig ook is waar hulle eerste afspraak geëindig het.  Madeleine se Marsala rooi rok het pragtig gelyk teen die kleure van die natuur wat hulle omring het en is ook so gekies omdat die kleur in hul kleurskema vir hul troudag gebruik gaan word.  Kyk onder oom meer te sien van hierdie pragtig paartjie se fotos en lees ook hul mooi storie.

Hoe het julle ontmoet?


Ek en Daniel het by die werk ontmoet. Ons het na ‘n tyd begin gesels en vriende geraak. Na twee maande van saam werk kon ons letterlik oor alles gesels. Ek het deur ‘n slegte opbreek van ‘n verhouding gegaan en as vriende het Daniel my vasgehou wanneer die dae vir my baie donker was, hy het die stukkende dele stukkie vir stukkie opgetel en my heel gemaak, my laat glo in liefde – onvoorwaardelike liefde sonder om enige iets terug te verwag.

Watter eienskappe trek julle aan tot mekaar?


Sy sagte hart en geaardheid (iets wat ek glad nie geken het nie) en sy groot arms (en hy het groot arms) het my laat veilig voel en ek het geweet dit is hoe ek die res van my lewe wil voel. Hy het baie omgee en waardering vir my getoon. Hy het my soos ‘n prinses laat voel as hy net na my gekyk het. Sy respek, breë skouers, sterk arms, mooi boudjies en oë was vir my meer as genoeg om my voete onder my uit te slaan. Hy sê weer wat my nader aan hom getrek het was my volwassenheid, selfstandigheid, liefde, my sagte hart en omgee vir ander en diere.

Hoe julle verloof geraak?


Ek moes half agt die oggend reg wees met gemaklike mooi klere. Ons het vertrek na die 12 Apostels Hotel vir ‘n ‘buffet’ ontbyt. Na ontbyt het hy my spa toe gestuur vir ‘n manikuur. Daniel het daarna senuagtig vir my gesê daar is iets wat hy my wil wys. Hy het my toe ‘n asemrowende uitsig gaan wys. Ek was besig om die uitsig te bewonder toe hy begin vertel hoe baie ek vir hom beteken en dat hy die res van sy lewe saam met my wil spandeer. Hy sak toe af op een knie en vra my om sy vrou te wees. Ek het huilend ja gesê.

Wat was die inspirasie vir die verlowings fotosessie?


Nelani het Seinheuwel aanbeveel en dat ons dit met die sonsondergang moet doen. Ons het blywend ingestem omdat een van ons eerste afsprake op Seinheuwel afgesluit het. Hy wou my die mooi uitsig van daar bo gaan wys het omdat hy weet ek is versot op mooi uitsigte. Die kleurskema vir my rok was gekies omdat ons troue se kleurskema Marsala rooi, olyf groen en skakerings van goud is. Die natuur en sonsondergang het ook baie mooi in ons skakerings ingeval en omdat ons ook gebruik gaan maak van natuurlike elemente het dit goed gepas.

Hoe lyk jul droom troue?


Ons droomtroue is ‘n troue waar ons lekker kan eet, lekker kan kuier saam met ons familie en vriende wat vir ons saak maak en wat ons baie selektief gekies het terwyl ons mooi lyk. Dit moet ‘n dag wees wat ek en Daniel nooit sal vergeet nie. Ons troue hoef nie die beste van alles te hê nie, want vir ons is die belangrikste om mekaar s’n te wees.  Mekaar s’n as man en vrou. Dit is wat vir ons belangrik is. Die res is ‘n bysaak.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: