Danny & Melissa se ontspanne buitelug troue

Die oomblik toe Melissa vir Danny sien het sy geweet dat daar iets spesiaal is aan hierdie man.  Haar intuïsie kon nie meer reg gewees het nie!  Die eksentrieke paartjie se troue is ‘n mengsel van al hul gunsteling dinge wat saamgegooi is om die perfekte dag te vorm. Interessante elemente steek oral kop uit, van die waatlemoen-patroon pajamas tot die kos-trokkie met straat-kos.  Ons hier by Mooi Troues is mal oor hoe Danny en Melissa dit reggekry het om ‘n troue modern en anders te maak al het dit steeds tradisionele elemente.  As jy na hierdie troue kyk, kan jy nie anders as om agter te kom die paartjie se persoonlikheid is 100% uitgebeeld op hul troudag nie!

Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ek was genooi om na ‘n band te gaan kyk saam ‘n vriendin.  Ons het die aand by die plek ingeloop en ‘n drankie by die bar gaan kry.  Net toe ek by die tafel gaan sit het ek iemand in die vertrek voel inloop.  Toe ek omkyk het hy, Danny, daar gestaan met sy geskeerde denim en blink swart skoene en dit was die mooiste man wat ek al in my lewe gesien het.  Hy het toe op die verhoog geklim en kitaar gespeel en daarna was ek nog meer gefassineer.  Ek het na die tyd vir hom ‘n drankie aangebied wat hy weggewys het.  Die hele aand was ‘n kat en muis situasie waar ons heeltyd vir mekaar gekyk het.

Twee weke later het hy my vriendin ge-SMS en gevra sy moet my saam bring na ‘n optrede waar hy daardie aand speel.  Ek het opgedaag en ons het saam gekuier. Hy het my daardie aand gesoen en ons was net van dag een af saam. Die feit dat sy mooi is, het eerste my oog gevang. Dan kon mens natuurlik nie haar rooi lippe en uitbundige, spontane persoonlikheid miskyk nie Danny het ‘n teenwoordigheid, as hy in ‘n vertrek inloop weet mense hy is daar, nog voor hy ‘n woord gesê het. Ek het gehou van hoe hy aantrek en dat hy soveel selfvertroue het. En vandag nog is sy glimlag vir my een van sy mooiste trekke.

Wat was die inspirasie vir die styl van die troue?


Ons het nie ‘n spesifieke styl gehad nie. Ons wou net alles waarvan ons hou op ons troudag hê – simplisties, mooi, baie liggies en ons wou hê die gaste moet van die intrap slag af gemaklik voel. Die oord behoort aan ‘n baie goeie vriend van ons en ons was nog altyd mal oor die bosveld. Hy het vandat ons ontmoet het gesê ons moet daar trou en die venue het perfek gepas by hoe ons die troue wou hê.

Was julle met wittebrood?


Ons was na Mosambiek, wat ons gunsteling vakansie plek is, in Bilene vir vier dae. Melissa het net met ‘n nuwe werk begin voor die troue en het die verlof gehad nie, dus kon ons nie te lank bly nie.

Advies aan paartjies wat besig is om hul troue te beplan


Onthou dat ‘n troue ‘n feesviering is van jul liefde vir mekaar wat julle met vriende en familie wil deel en dat jou troudag een van jou mooiste herinneringe ooit sal wees. Doen wat julle wil hê en waarvan julle hou. Dit gaan immers oor julle en nie die mense om julle nie. Hoe minder tierlantyntjies, hoe minder dinge is daar wat kan skeef loop en onthou om dit in te neem en te geniet.

Wat was julle trou begroting?


Ons wou dit so bekostigbaar as moontlik hou, ons het begroot op R60 000 maar daar was goed wat ons nie in berekening gebring het nie, en ons het toe op die ou einde so R100 000 spandeer.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: