Waar Liefde en drome saamsmelt.
Waar Vandag & Môre vir altyd raak.
Oor verre oseane het die liefde van haar lewe soos ‘n magneet terug getrek na St Helena baai aan die Weskus. Dit neem egter ‘n tydjie nadat sy Ernie, ‘n partytjie dier, se ernstige en liefdevolle kant leer ken. Hy gebruik verskonings om pakkies te gaan afgee naby haar huis sodat hy die meisie van sy drome kan sien. Dit neem nie lank voordat die 2 onafskeidbaar raak en besef dat hulle al die tyd vir mekaar bedoel was nie.
Ernie mors nie veel tyd toe hy een aand tydens nuwejaar vir Anerike vra om sy vrou te word nie. Met die bruisende see van St Helenabaai op die agtergrond kom Anerike aangestap oor die sand om haar bruidegom te ontmoet op hul troudag. Hulle geniet elke oomblik van hul troudag saam met hul gaste. Dis virseker dat die bruidspaar nog baie spore op die lang, wit strand van hul huwelik saam sal stap.
Hoe het julle die eerste keer ontmoet?
Na 10 jaar in Australië het ek met elke sel in my liggaam gevoel dat ek wou terug keer huistoe. Ek het as kind na Australië immigreer maar nooit regtig aangepas nie. Op daardie stadium het ek nie geweet wat dit was wat my so terug geroep het na die Weskus nie. Dit het my 3 jaar en baie vakansies terug by die huis geneem om permanent terug te keer na St Helena Baai.
Dit was met so vakansie wat ek Ernie Tredoux ontmoet het. Hy was ‘n gemaklike plat op die aarde mens wat altyd gretig was om saam met vriende te kuier. Op daardie stadium het ek nie besef hoe wonderlike sterk en sorgsame mens hy eintlik was nie. Ons het altyd in dieselfde groep gekuier maar nooit regtig die kans gekry om mekaar beter te leerken nie. As ons nou terugkyk na daardie tyd, besef ons dat ons albei in daardie stadium nie reg was vir ‘n permanente verhouding nie. Ten spyte daarvan het ons goeie vriende geraak en was daar elektrisiteit tussen ons. My onseker toekoms het egter ons albei terug gehou om die verhouding ‘n stap verder te neem.
Alles het verander in Februarie 2013 toe ek finaal besluit het om permanent terug te keer na St. Helena Baai. Om te sê dat hy my voete onder my uitgeslaan het, is te min! Ek onthou hoe hy middae ‘n verskoning sou maak om iets by iemand af te gee wat naby my gebly het, net sodat hy kon oorkom vir koffie of ete. Ons vriende het ook gehelp deur seker te maak dat ons op dieselfde plek kuier. Binne twee weke het ons begin vas uitgaan en die vonk tussen ons het in ‘n diep liefde ontwikkel. Saam het ons honderde flieks gekyk, gaan kamp, in die see geswem en alles gedoen wat ‘n paartjie veronderstel was om saam te doen. Ons het albei besef dat ons verhouding besig was om in iets permanents te groei. Hy was die eerste persoon wat ek ooit so lief gekry het.
Hoe het julle verloof geraak?
Weereens soos Ernie is wat nie tyd mors nie, vra hy my om te trou tydens sonsondergang op ‘n lieflike strandjie op Nuwejaar aand. Dit ook ook toe dat ek besef het waarom ek huistoe gekom het. Hy was al die tyd die rede waarom ek moes terug keer na St Helena Baai. Dit was bedoel om so te wees.
Ons was 2 jaar verloof toe ons tydens ‘n wonderlike seremonie getrou en elke oomblik ten volle geniet het. Hy is die man van my drome en ons sien baie uit daarna om die res van ons lewens saam te spandeer, oud te raak, in ons liefde te groei en ons eie gesin te bou.
Hoe lank was julle saam voor jul getrou het?
Ons was amper 3 jaar saam voordat ons getrou het.
Advies wat julle aan ander paartjies kan gee?
Moet nie ‘n ophef maak van klein probleempies nie. Geniet elke oomblik en koester liefde en respek. As jy dit doen sal jy enige probleem kan uitsorteer.
Diensverskaffers:
Akkomodasie: Sea Trader
Venue: Sea Trader
Trourok: House of Silk Bridal Studio
Fotograaf: Kusjka du Plessis Photography
Bloemis: Anlo van Zyl
Dekor: Bruid en ma self
Gerimering & Hare: Salon Nusha
Koek: The Vintage Whisk
Musiek: DJ Snake – Chris Koch
Skryfbehoeftes: Bruid en ma self
Koördineerder: Bruid en ma self