Bernard en Margot se sjiek, romantiese verlowing fotosessie in die stad is propvol oulike idees vir paartjies wat hul eie sessie beplan.
Sodra die ligging en gevoel van die fotosessie vasgestel is, is die keuse van uitrustings ’n belangrike volgende stap. Margot het uitgestaan in ’n kort, wit, skouerlose rokkie met unieke, deursigtige pofferige moue. Haar hartjie-vormige sonbril het haar voorkoms op ’n speelse manier afgerond. Bernard het ewe stylvol gelyk in ’n netjiese knoophemp en beige chino.
Die fotosessie bevat verskeie elemente wat ander paartjies kan inspireer. Die “Save the Date”-koerantjies is weer eens ’n oulike toevoeging waarmee paartjies hul liefdesverhaal en troudatum op ’n kreatiewe manier met hul gaste kan deel.
’n Verlowing fotosessie bied ook die kans vir paartjies om gemaklik te raak voor die kamera en met hul fotograaf. Dit kan aanvanklik ongemaklik voel wanneer die fotograaf baie naby is tydens soentjies en drukkies, maar Bernard en Margot se posering was romanties en speels. Hulle het hand-aan-hand deur die strate van Sandton gestap met die moderne argitektuur wat ’n treffende agtergrond gevorm het. Margot se handruiker was ’n pragtige kombinasie van pienk rose en rooi Anthuriums, wat ’n helder plof van kleur tot die toneel bygevoeg het.
Só ’n stylvolle verlowing fotosessie is net moontlik met die hulp van ’n professionele fotograaf. Kies ’n fotograaf wat julle storie op unieke wyse kan vasvang, gaan loer gerus op Mooi Troues se trougids.
Rol af en geniet Bernard en Margot se romantiese verlowing fotosessie met die dinamiese Sandton Stad as agtergrond.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons het eerste ontmoet op Universiteit by TUKS in ons tweede jaar. Ons was vir 4 jaar in ‘n verhouding voordat ons besluit het om verloof te raak!

Die groot vraag:
My beste vriendin trou ook die jaar (2025) en sy wou ‘n cute plekkie kry om haar strooimeisies te vra. Sy het toe vir my gevra of ek asseblief saam haar sal gaan om die plekkie “uit te check”. Ek het eers gedink dit is bietjie vreemd, want ek is ook een van haar strooimeisies, so as ek saam gaan dan sou daardie element van suprise weg gegee word wanneer sy my sou vra. Maar ek het toe saam gestem om saam haar te gaan.
Toe ek by die plekkie (Kleinkaap Hotel) opdaag toe was my vriendin natuurlik laat. Ek het haar probeer bel, maar sy het aanhou die oproep dood druk en toe ek weer omdraai om solank in te gaan by die restaurant, toe staan Bernard daar! Ek het onmiddellik geweet wat aan gaan en was kinderlik opgewonde!
Kleinkaap Hotel het sulke memories, want een van my en Bernard se gunsteling TV programme (“Hotel”) was by Kleinkaap geskiet! Bernard het ‘n hele romantiese piekniek gereël vir ons waar hy toe vir my gevra het om te trou.

Hoekom ons mekaar liefhet:
Vir my is dit Bernard se sin van humor en menswees.
Vir Bernard dis dit my lag en sagte hart.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons trou die jaar, die 23ste Augustus 2025, en het in November 2024 verloof geraak. Ons beplan om 10 maande verloof te wees voor die groot dag!

Die verloofring:
Ek wou nog altyd ‘n “out of the ordinary” verloof ring gehad het en het ‘n idee gehad van hoe dit moet lyk en die kleur wat ek sou wou hê. Ek het vir Bernard my inspirasie gewys en van daar af het hy die ring gaan maak skelm sonder dat ek geweet het!

Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons het nog nooit ‘n fotosessie saam gedoen in ons 4 jaar van uitgaan nie, en toe ons verloof geraak het was dit een van die eerste goedjies wat ek vir ons gereël het! Ons gebruik ook natuurlik die fotos vir ons trou uitnodigings en -webwerf.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
My inspirasie was beslis ’n moderne, kommersiële stadsgevoel en natuurlik hope Pinterest foto’s!

Visie vir droomtroue:
Ons droom troue is definitief ‘n troue met ons naaste vriende en familie. Ons trou by Bell & Blossom en die kleur skema vir ons troue is wit, swart verskillende skakerings van pienk! Baie van ons dekor is swart en ons gaste dra ook swart. Dit sal verseker dat ons verskillende skakerings van pienk kleur skema uit staan op ons groot dag! My strooimeisies dra ook pienk en Bell & Blossom se interieur is ook baie swart, wit en donker bruin.


