Carl & Dalenza se Elegante Troue in Bloemfontein

Carl en Dalenza se elegante troue in Bloemfontein was die perfekte balans tussen klassieke, moderne en elegante elemente.

Dalenza het asemrowend gelyk op haar troudag in ’n rok wat haar soos ’n handskoen gepas en vol elegansie uitgestraal het. Elke detail op haar rok – van die fyn pêrel detail tot die unieke een-skouer mou met volstruisvere – het perfek by die troue se styl ingepas. Haar strooimeisies in stylvolle swart rokke het haar voorkoms pragtig gekomplementeer. Carl en sy strooijonkers het ewe netjies en elegant voorgekom in hul klassieke swart pakke.

Die fotosessie tussen die gedroogte grasse en uitgestrekte oop vlaktes was besonders mooi. Om ’n tikkie ekstra elegansie en speelsheid by te voeg, het die paartjie in ’n pragtige ou Porsche rondgery – wat vir asemrowende foto’s gesorg het.

Die trouvenue is versier met ’n stylvolle mengsel van moderne en klassieke elemente. Lang wit tafels met Tiffany-stoele is gekombineer met sagte neutrale tafellopers en groenigheid as dekor. Kandelare, feetjieliggies wat van die dak af hang, en kerse op die tafels het ’n romantiese, gesellige atmosfeer geskep. Die tafeldekor was eenvoudig en modern, met fyn detail soos blom ontwerpe op takke wat oor die tafels gehang het.

Met ’n span professionele en betroubare diensverskaffers is enigiets moontlik. Mooi Troues se Trougids is ’n waardevolle bron van talentvolle diensverskaffers wat paartjies help om hul droomdag werklikheid te maak.

Rol af om meer te lees oor Dalenza en Carl se elegante troue én hul unieke liefdesreis.

Trourok:


Van die begin af het ek geweet ek wil iets anders hê , iets wat ek nog op geen bruid van tevore gesien het nie. Ek hou van stylvol en elegant.

Die profiel het gepas by Stanley Baptiste se werk wat ek al lank dophou, en ek het geweet dat hy die een is wat my rok gaan maak. Die eerste konsultasie met Stanley het verbasend goed afgeloop. Hy het ʼn paar rokke in sy ateljee gehad, en hy wou kyk watter styl die beste by my figuur sou pas. Hy het toevallig ʼn trourok gehad wat ʼn fishtail cut dress was. Toe ek die rok aantrek het die rok my soos ʼn handskoen gepas, en die styl het my figuur baie goed gekomplimenteer. Die rok is ʼn eenvoudige strapless straight across neckline bustier bodice en die lap van die rok het volledige kralewerk met ʼn pêrel-aksent.

My gunsteling deel van die rok is natuurlik die afneembare een-skouer volstruisveer boa wat definitief gesorg het vir ekstra sagtheid en elegansie. My rok was in my oë, perfek. Ek was so gelukkig om so vinnig ʼn rok te kry.

Paartjie se Verlowing:


Ons verlowing was baie spesiaal. Carl het my na die blomplaas, Talflorals geneem, net buite Bloemfontein, om blomme te gaan pluk die Saterdagoggend van 10 Februarie 2024. Ek het al lankal vir hom gesê dat ons dit een oggend moet gaan doen as ons ʼn af naweek het.

Hy het my die oggend daarheen geneem en ook ons albei se sussies saamgenooi, want dis mos eintlik ʼn “vroue ding”. Dit was die lekkerste sonskyn dag en ons het heerlik tussen al die mooi blomme van soveel variante en kleure gestap en natuurlik die mooistes gepluk.

Soos ons nader aan die einde van die oggend gekom het met groot emmers vol van die mooiste blomme, het ek nog so gestaan en een of twee laaste stele gepluk, toe Carl onverwags, tussen die blomme, op sy knie neersak en my vra om te trou. Ek het dadelik die skêr in my hand laat val, hom omhels, en die antwoord was defnitief JA! Trane van blydskap het gevloei, en dit was regtig vir my ongelooflik spesiaal.

Verloof- en Trouringe:


Ek was nog altyd gaande oor ʼn ovaal steen en wou ʼn baie elegante maar eenvoudige ring hê . Carl het presies geweet waarvan ek hou. My ring is laat maak deur ELRI diamante, wat ook goeie vriende van ons is. Die ring is perfek, ʼn ovaal diamant van 0.91 karaat, kleur I, VVS2, geset in 9ct geelgoud met ʼn hidden halo.

My troupant is ook 9ct geelgoud, selfde dikte as my trouring, maar vol baie klein diamantjies. Die kombinasie is perfek, ek kon nie vir beter vra nie.

 

Trou Dekor en Styl:


Die kleurskema van ons troue was bruin, wit, room, olyfgroen, sage en swart. Ek en Carl hou albei van netjies en eenvoudig, maar tog stylvol en elegant.

My ouers is boere, en ons het ʼn brand op die plaas gehad so paar maande voor die troue en ma het die idee gekry om die swart gebrande boomtakke te gebruik om in die dak te hang. Ulrich, ons troubeplanner, wat ook al ons dekor behartig het, het voorgestel dat ons groen blare/ takke en blomme dan aan die swart takke vasmaak. Al ons blomme was in die dak, en uit die takke en groenigheid het die mooiste wit rose gehang. Ons tafels en stoele was wit.

Ons tafels was eenvoudig gedek met glas onderborde, swart lapservette en goue eetgerei. In die middel van die tafel was ʼn wit loper met groenigheid en swart kersblakers, ons kerse op die tafels was wit en room. Vir my was ons swart en wit dansvloer ʼn gunsteling, en dit het al ons dekor en idee so mooi saamgevat. Ons dak was vol feetjieliggies of die sprokie idee te skep.

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het hul droomtroue beplan oor ’n tydperk van sewe maande, met die hulp van ’n professionele troubeplanner wat elke detail met sorg gekoördineer het. Die spesiale dag is saam met ongeveer 170 gaste gevier, wat die liefde en vreugde van die geleentheid op ’n besonderse manier gedeel het.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: