Sam en Mary se stad troue met pragtige uitsigte oor Kaapstad se middestad was werklik besonders mooi. ’n Stad troue het altyd vir ons iets spesiaals. Die rustigheid van die dak trou venue bied ’n rustige kontras teen die stad se besige gewoel in die strate hieronder.
Met die majestueuse Tafelberg as agtergrond vir die paartjie se seremonie op die dak van die moderne venue. Omring deur hul vriende, was die seremonie eenvoudig perfek!
Mary en Sam se onthaal het vir ons uitgestaan as stylvol, modern en elegant. Ons is mal oor die wit-en-swart tema van hul troudekor. Hierdie kombinasie van dié kleure skep ’n baie deftige en gesofistikeerde voorkoms.
Die swart eetgerei en deurskynende onderborde met breë swart rande bring daardie moderne element na vore. Die wit Tiffany-stoele voeg weer ’n klassieke gevoel by die moderne onthaal ruimte. Selfs die dansvloer was opvallend, met sy groot wit-en-swart blokkiespatroon.
Elke element van Mary en Sam se troue was pragtig. Die elegante dekor en die Vonkelwyn-toring (altyd ’n wenner), tot die pragtige wit troukoek versier met pêrels.
Mary het op haar troudag beeldskoon gelyk in haar simplistiese trourok met oop skouers – perfek gepas vir ’n deftige stadstroue. ’n Wit handruiker het haar voorkoms mooi afgerond. Sam het ewe elegant voorgekom in ’n heeltemal swart pak.
Hul fotosessie was net so besonders. Hulle het op verskeie plekke in die stad foto’s geneem. Die middestad se pragtige ou geboue en argitektuur as agtergrond tot by Seinheuwel, wat die perfekte, romantiese agtergrond vir hul liefdes foto’s gebied het.
Rol af om meer te lees oor Sam en Mary se intieme troue in die Kaapstad-middestad.
Trourok:
My trourok was ’n ware arbeid van liefde. Samuel se peetma, wat al meer as 40 jaar lank trourokke in Spanje ontwerp, het die rok as geskenk vir my gemaak. Dit was ’n baie spesiale proses, gevul met liefde en aandag aan elke klein detail.
Ek het van die begin af geweet dat ek iets tydloos en elegant wou hê – ek wou nie oor 50 jaar terugkyk en voel dat my rok vasgevang was in ’n tydelike modegier nie.
Ons het na baie idees gekyk en verskeie van haar ou ateljees besoek. Hoewel ons soms verskillende smake gehad het – soos die Spaanse styl met blinkers en sequins, terwyl ek ’n meer subtiele styl verkies – het ons uiteindelik saamgestem oor die finale ontwerp.
Die volgende stap, en my gunsteling, was om die materiaal te kies. Aanvanklik het ek gedink aan ’n spierwit rok, maar met die hulp van die materiaal verkoper het ons van plan verander.
Die rok het eenvoudig en verfynd uitgekom: ’n sagte roomwit syrok met ’n elegante A-lyn silhoeët, ’n V-hals en ’n minimale sleep. Ek het egter vergeet hoe koud dit in die Kaap in September kan wees, so ek het nogal koud gekry met net twee dun bandjies oor my skouers.
Die eindresultaat was ’n tydlose rok wat my persoonlikheid perfek weerspieël en wat ek met trots kon dra. Hierdie ontwerp, minimalisties en elegant, het presies die tydlose styl vergestalt waarna ek gesoek het. Danksy haar liefde en vakmanskap het ek ’n rok wat vir altyd vir my kosbaar sal wees.
Die sluier:
My sluier het ek ook self gemaak. Ek het 3 meter materiaal en pêrels gekoop en het weke spandeer om al 700 pêrels een vir een aan te werk. Ek is mal oor DIY-projekte, en aangesien ons troue so ver weg was, was daar nie baie dinge wat ek self kon doen nie. Maar ek het met groot selfvertroue en opwinding aan my sluier gewerk. Dit was ’n wonderlike manier om my persoonlikheid en liefde in die troue in te bring. Die sluier het perfek by my rok gepas en het ook die dekor mooi saamgebind.
Verloof- en Trouringe:
Dit was vir Samuel ongelooflik belangrik dat ek my eie verloofring kon kies en ontwerp. Soos hy altyd skertsend sê, wil hy hê ek moet daarvan hou sodat ek dit vir die res van my lewe sal dra!
Dit het ons nogal lank geneem om die regte studio te vind, omdat dit vir ons baie belangrik was om ‘n plek te kies wat hul diamante eties verkry en heeltemal deursigtig met ons oor die proses kon wees.
Na 2 maande later het ons na ‘n ontwerp studio in Barcelona gegaan, waar ek elke detail van my droom ring kon bevestig. Dit was só lekker om verskillende style, diamant vorms en metaalmengsels te vergelyk. Uiteindelik het ek besluit op ‘n pragtige Ovaal geslypte diamant in witgoud, met ‘n 2mm geelgoud band – die perfekte kombinasie.
Ons was so beïndruk met hierdie studio dat ons ‘n paar maande later teruggegaan het om ons trouringe te ontwerp. Sam het dit baie geniet om met die verskillende style, vorms en teksture vir mans ringe te eksperimenteer. Hy het amper langer geneem as ek om sy keuse te maak! Hy het uiteindelik besluit op ‘n 5mm geelgoud ring in ‘n D-vorm met ‘n gepoleerde afwerking – baie stylvol en elegant.
Ek wou graag ‘n bietjie meer glans hê om by my verloofring te pas, maar ook iets wat ek alleen kan dra en goed sal meng met ander juwele. Ek het besluit op ‘n 2.5mm Pavé plat band met kleiner diamante, alles in geelgoud geset. Die ring is perfek vir my styl en elegant genoeg om alleen te dra.
Paartjie se Verlowing:
Ons liefdesverhaal het begin in die lewendige strate van Barcelona, waar Samuel, ’n sjarmante Spanjaard, en ek, ’n trotse Suid-Afrikaner, mekaar vir die eerste keer ontmoet het. Dit is daar waar ons verlief geraak het, verloof geraak het, en uiteindelik begin het om ’n troue oor twee kontinente te beplan.
Ons verlowings verhaal was perfek – eenvoudig, maar ongelooflik betekenisvol. Ons het saam die ring gekies en ontwerp, so ek het geweet die groot vraag is op pad. Maar hoe en wanneer Sam dit sou doen, het steeds ‘n raaisel gebly.
Een Maandagaand, op ’n koue Oktober-aand, het Sam vreemd opgetree. Hy het op die bank by die huis vir my gewag, met ons foto-album op die koffietafel voor hom. Hy het gesê hy het ’n paar van ons onlangse foto’s laat druk en wou hê ek moet kyk of ek van sy keuses hou.
Met ’n mengsel van nuuskierigheid en opwinding het ek deur die bladsye begin blaai. Maar toe ek by die laaste bladsy kom, het my hart gaan staan! Daar was ’n foto van woorde in die sand geskryf: “Sal jy met my trou?” Sam het dit “geGoogle” om uit te vind hoe om dit in Afrikaans te skryf. Ek het onmiddellik begin huil, oorweldig deur die emosie van dié oomblik. Ek kan nie al die woorde wat hy gesê het, onthou nie, maar ek onthou wel hoe hy op een knie van die bank af gegaan het, en die res is geskiedenis.
Dit was só ’n lieflike, intieme gebaar – net ons twee, sonder enige groot skare of spoggerigheid. Die verlowing was verewig in ons foto-album, asof dit simbolies was van ons storie wat aangaan. Dit was die perfekte weerspieëling van ons: eenvoudig, opreg, en gevul met liefde.
Trou Dekor en Styl:
Van die begin af het ons geweet dat Kaapstad, met sy asemrowende landskappe, die perfekte plek sou wees om te trou. Trou beplanning van ver af het egter talle ure se navorsing geverg. Ons het deur aanlyn portefeuljes geblaai, en danksy die verskaffers se indrukwekkende aanlyn teenwoordigheid het ons met selfvertroue die regte mense gekies om ons visie tot lewe te bring, al was ons twee kontinente ver van mekaar.
Ek het my volledig in die DIY-gees ingedompel en alles van ons trou webwerf tot die spyskaarte self gemaak, terwyl ek sorgvuldig seker gemaak het dat alles in ons tasse sou pas vir die vlug na Suid-Afrika.
Trou Venue:
Toe dit by die keuse van ’n venue kom, het ons geweet ons wou iets uniek hê – iets wat na die land verwys waar ek grootgeword het, maar met ’n moderne kinkel. Rooftop on Bree was perfek. Omring deur die Kaapstadse skyline, met Tafelberg wat majestueus in die agtergrond uittroon, het dit die ideale balans geskep tussen die natuurlike skoonheid van die stad en ’n stylvolle stedelike atmosfeer.
Trou Dekor:
Vir die dekor het ek ’n elegante swart-en-wit tema in gedagte gehad wat modern en klassiek gevoel het. Ons het later saam met ons dekor span gewerk om ’n voorkoms te skep wat minimalisties maar steeds opvallend was. Kerse en feetjie ligte het ’n warm atmosfeer geskep, terwyl swart strikke en wit pêrels tekstuur en sofistikasie bygevoeg het. Sam se enigste versoek was ’n pragtige dansvloer, en die res het ek met liefde hanteer.
Die algehele styl van ons troue het ons as paartjie weerspieël. Dit was ’n viering van elegansie, eenvoud, en die skoonheid van die plek wat ons so na aan die hart lê.
Een van die hoogtepunte van die aand was ons intrede – volgens Spaanse tradisie het ons gaste, saam met Samuel se familie en vriende, hul servette in die lug gewaai terwyl ons ingekom het op ’n lewendige Spaanse party liedjie. Dit was die perfekte mengsel van ons twee kulture, met Suid-Afrikaanse gees en Spaanse passie wat deur elke aspek van ons dag gevloei het.
Trou Begroting en Beplanning:
Ons het ‘n pragtige selfdoentroue beplan met 40 gaste, wat oor ‘n tydperk van 10 maande noukeurig uitgedink is. Ons het ‘n begroting van R150 000 gehad, wat ons in staat gestel het om die troue presies soos ons dit wou hê, met persoonlike detail en liefdevolle aandag, te organiseer.
- Fotograaf: The Noah’s | Kontak
- Venue: Rooftop on Bree | Kontak
- Bruidegom-pak: Pal Zileri
- Dekor: Deja Reve| Kontak
- Grimering: Clarita Smit Hair, Make-up and Lash extensions| Kontak
- Hare: Clarita Smit Hair, Make-up and Lash extensions| Kontak
- Koördineerder: Deja Reve Events| Kontak
- Skoene: Martinelli
- Skryfbehoeftes: Selfdoen
- Spyseniering: Velvet Effect| Kontak
- Trourok: Amparo Godoy
- Bruid se Trouring: Novita Diamonds
- Bruidegom se Trouring: Novita Diamonds
- Troukoek: Florentines| Kontak
- Vervoer: SOHO VIP| Kontak
- Videograaf: The Noah’s| Kontak
- Wittebrood Bestemming: Zanzibar – Kilindi Luxury Resort
- Wittebrood Plek: Kilindi Resort