Juan en Oriane se kleurryke troue in Wellington was ʼn ware fees van kleur en styl – ʼn geleentheid wat julle nie wil misloop nie! Hierdie pragtige troue het die perfekte balans getref tussen ʼn minimalistiese, moderne atmosfeer en ʼn hartlike, verwelkomende gevoel, met kleurvolle blom ontwerpe wat regdeur gesien kon word. As blomme jou hart vinniger laat klop by troues, behoort hierdie een bo-aan jou lys te wees!
Ons is heeltemal verlief op Oriane se elegante, simplistiese trourok. Die stylvolle ontwerp met ʼn groot strik aan die agterkant en ʼn subtiele gedrapeerde neklyn het haar rok ʼn uitsonderlike elegansie gegee. Juan het net so elegant gelyk in sy swart pak en strikdas, wat perfek by die deftige voorkoms van die troue gepas het.
Monique, die uiters talentvolle bloemis en eienaar van Tilted Tulip, het al die asemrowende blom ontwerpe geskep en gestileer. Van die bruid en haar strooimeisies se ruikers tot die seremonie se skouspelagtige blomme, elke detail was perfek uitgevoer.
Die buitelug seremonie langs die dam was ʼn ware hoogtepunt. ʼn Pragtige, kleurvolle blom struktuur het die paartjie omraam en ʼn betowerende atmosfeer geskep. Selfs hul troukoek is buite gesny, omring deur helder, kleurvolle blomme. Ons is totaal oorweldig deur die kreatiewe blom ontwerpe wat hierdie dag so spesiaal gemaak het.
Die onthaal in die glaskas lokaal was net so indrukwekkend. Kleurvolle blomversierings was oral te sien, en die lang tafels met hul ligte, neutrale kleurskema en moderne, deurskynende stoele het perfek in die spasie gepas. Tilted Tulip het ook die pragtige installasies bokant die dansvloer gedoen, asook die blomme op die tafels. Die bruid self het gesorg vir die pilaar kerse, wat ʼn warm atmosfeer geskep het vir die aandete.
Rol gerus verder af om meer te lees oor Juan en Oriane se kleurryke troue in Wellington.
Paartjie se Liefdesreis:
Juan en ek kom albei van ʼn klein dorpie in Limpopo, Phalaborwa, waar ons grootgeword het. Ons het mekaar geken maar het nie regtig dieselfde vriende gehad nie. ʼn Paar jaar na hoërskool het Juan Kaap toe getrek, terwyl ek in Potchefstroom gaan studeer het. Tydens ʼn koshuis-toer in Stellenbosch het ek en Juan mekaar weer ontmoet en het hy my uitgevra. Ons het vir ete na Thirsty Scarecrow op die R44 toe gegaan en daarna ʼn McFlurry gekry en op die pragtige strand gaan stap. Ons het die beste tyd gehad, heerlik gesels en van daardie dag af gesels ons nog elke dag en ons vriendskap het in liefde verander. Hy het my hart gesteel en ek syne. Nadat ek my studies voltooi het, het ek Kaap toe getrek en dis waar ons reis as ʼn paartjie begin het.
Op 29 Januarie 2022, ʼn mooi somersdag het Juan my verras met ʼn piekniek by die pragtige Boschendal. Ons het die heerlike piekniek onder die bome geniet en toe ek weer sien, was Juan op sy knieë met die breedste glimlag en met ʼn krapperige keel van die senuwees het hy die vraag gevra “SAL JY MET MY TROU?” Als om ons was pragtig, die groen gras, die son wat helder skyn en die pragtige verloof ring wat blink op my vinger. Die dag was vol liefde met al ons naaste familie wat ons omring het en ʼn fotograaf wat elke oomblik op kamera kon vasvang.
Trourok:
Nog voordat ek en Juan verloof was, het ek my droom rok op die internet gesien en dadelik verlief geraak op die Milla Nova Suzette-ontwerp. My trou rok is van die bekende Milla Nova-handelsmerk, en die naam van die rok is Suzette. Dit is ʼn pragtige, eenvoudige en elegante wit rok met ʼn unieke styl. My gunsteling kenmerke is die strik aan die agterkant en die elegant gedrapeerde neklyn. Die rok het ook ʼn pragtige verlengde trein. Ek het my trou rok met ʼn skitterende sluier gepas, wat die hele voorkoms perfek afgerond het.
Veloof- en Trouringe:
My verloofring het Juan en ek saam laat maak deur die talentvolle Terusa Anne Jewellery. Ek het vir haar my idees gewys, en sy het vir my die mooiste roosgoud ring met ʼn ovaal moissaniet steen ontwerp, beklemtoon deur ʼn versteekte diamant-halo. My trouring is ʼn fyn diamant band met roosgoud wat perfek by my pragtige verloofring pas.
Juan se trouring is ʼn swart Titanium band. Die ring is eenvoudig en pas perfek by Juan se styl. Dit gee ʼn moderne en elegante voorkoms. Die eenvoud van die ring weerspieël sy smaak vir minimalistiese en tydlose ontwerpe.
Meer oor Tilted Tulip:
Monique Gouws is die eienaar en hoof bloemis van Tilted Tulip, ʼn blomontwerp-besigheid gebaseer in Somerset-Wes wat wyd-en-syd oor die streek bedryf word. Tilted Tulip spesialiseer in blommerangskikkings vir troues en ander geleenthede. Monique het van kleins af ʼn diep liefde vir blomme ontwikkel en streef daarna om elke bruid en kliënt se blomme drome te verwesenlik. Tilted Tulip verskaf al die blom-elemente wat nodig is vir troues en funksies en verseker dat slegs blomme van die hoogste gehalte gebruik word. Hulle stel ook graag unieke blomsoorte voor wat kliënte dalk nog nie gesien het nie.
Benewens blomme, bied Tilted Tulip ook kerse en kershouers aan, aangesien Monique glo dat kerse ʼn integrale deel van die dekor prentjie is. Hulle voorsien soms ook ekstra dekor items soos servette en onderborde.
Monique beskryf haarself as “hopeless romantic” en haar styl as tuin-geïnspireerd, wat perfek aansluit by haar werk in die trou industrie. Haar passie vir romanse versterk haar liefde vir hierdie spesifieke mark.
Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:
Ons gunsteling herinneringe van ons troudag was verseker die kosbare tyd wat ons saam mekaar gedeel het deur die loop van die dag. Hoe lekker dit was om al ons naaste mense bymekaar te hê in een plek, familie en vriende van oral af. Die oomblik toe ek en Juan mekaar vir die eerste keer by die kansel sien, was onvergeetlik. Ons eerste dans as Mnr. en Mev. Buitendach. Alles was perfek en die dag het so mooi verloop. Ons liefde en herinneringe van ons troudag sal ons altyd koester.
Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:
Onthou, jou troudag is ʼn eenmalige viering, nooi die regte mense en probeer soveel as moontlik inneem, almal sê dit, maar die dag is regtig in ʼn oogwink verby. Vertrou julle eie oordeel, neem jou tyd met verskaffers en moenie tevrede wees met enigiets minder as perfeksie nie.
Trou Venue:
Au’d Hex, is geleë in die hartjie van Wellington. Die eerste ding wat my vasgevang het van dié venue was die pragtige en kleurvolle roostuine wat die glas onthaal area omring. Juan het verlief geraak op die hout dek wat oor die dam strek met die skilderagtige berge in die agtergrond. Die gaste huis, met die gevoel van ʼn historiese Manor House, het ons altwee se asem weggeslaan. Ons was beïndruk hoe naby als aan die gaste huis was en ons gaste het nie nodig gehad om rond te ry of ver te loop om by die onthaal of seremonie uit te kom nie.
Trou Dekor en Styl:
As ʼn bloemis wou ek helder en vrolike kleure in ons trou-dekor inkorporeer terwyl ons die algehele voorkoms natuurlik en moeiteloos hou, met kandelare wat ʼn romantiese atmosfeer skep en disko balle vir ons prettige vieringe.
Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:
Danelle Stofberg en Liandri Photo and Film het die vreugde en liefde van ons spesiale dag pragtig op kamera en video vasgevang. Hulle het elke oomblik met soveel sorg en talent gedokumenteer, wat ons herinneringe vir altyd lewendig sal hou.
Tilted Tulip het ons troudag omskep in ʼn pragtige, kleurvolle kunswerk met die mooiste blomme. Sy het elke detail met sorg en kreatiwiteit hanteer, wat ons dag regtig spesiaal gemaak het. Die blommerangskikkings was asemrowend en het die mooiste atmosfeer geskep wat ons en ons gaste betower het.
DJ Pepe het ʼn onvergeetlike en vermaaklike tyd geskep. Hy het die dansvloer lewendig gehou en ons gaste van vreugde laat straal!
Taste Ateljee het heerlike kos bedien, en al ons gaste kon nie ophou praat oor hoe lekker hulle geëet het nie.
Eerste Dans:
“Growing Old With You” – Restless Road
Trou Begroting en Beplanning:
Die troue het 76 gaste gehad, met ʼn begroting van R4 600 per gas. Hulle het 1 jaar en 9 maande aan die beplanning van die troue spandeer. Dit was ʼn selfdoen-troue, wat beteken dat die paartjie alles self georganiseer het.
- Fotograaf: Danelle Stofberg Photography | Kontak
- Venue: Au d’ Hex Estate | Kontak
- Blomme: Tilted Tulip | Kontak
- Dekor: XL Events| Kontak
- Grimering: Visual Artistry| Kontak
- Hare: Ameskinmuah| Kontak
- Huurdienste: Baie Goeters| Kontak
- Huweliksbevestiger: Crosspoint Family Consultants| Kontak
- Juweliersware: Terusa Anne| Kontak
- Platejoggie: DJ Pepe SA| Kontak
- Paartjie se verblyf: Au d’ Hex Estate| Kontak
- Strooijonkers bykomstighede: Keiths Suite Hire| Kontak
- Skryfbehoeftes: Creative Albums| Kontak
- Spyseniering: Taste Ateljee| Kontak
- Strooimeisie-rokke: Pure Bridal Studio| Kontak
- Trourok: Milla Nova, Vonve Bridal Couture| Kontak
- Bruid se Trouring: Terusa Anne| Kontak
- Troukoek: Blos Bakery| Kontak
- Videograaf: Liandri Photo and Film| Kontak
- Wittebrood Bestemming: South Africa – Knysna
- Wittebrood Plek: Pezula Golf Estate| Kontak