Hannes & Leigh-Anne se Verlowing Fotosessie in Gordonsbaai se Hawe

In dié inskrywing deel ons Hannes en Leigh-Anne se verlowing fotosessie in Gordonsbaai se hawe met Mooi Troue se lesers.  Hierdie is só ʼn pragtige fotosessie en bied tonne inspirasie vir paartjies wat idees soek vir hulle eie verlowing fotosessie.

Leigh-Anne en Hannes wou graag ʼn verlowing fotosessie doen vir herinneringe om terug te kyk na in die toekoms.  Hulle fotosessie was só mooi gewees.  Met die sagte sonlig in die agtergrond en die bootjies wat in die hawe is met en die weerkaatsing in die water.  Dan is die strand foto’s net só mooi met die pragtige berge in die agtergrond en die sagte sonsak lig.

Ons kan aan soveel redes dink waarom ʼn verlowing fotosessie belangrik is.  Eerstens is dit om die spesiale tydperk vaste vang in pragtige foto’s wat julle kan terug kyk na.  ʼn Verlowing fotosessie is soveel pret en hoef nie ʼn stresvolle ervaring te wees nie.  Bespreek julle trou fotograaf nou om jou verlowing fotosessie te bespreek.

As julle nie so gemaklik is voor die kamera nie, is dit ook die perfekte tyd om meer gemaklik te raak.  Dit is ʼn oefenlopie vir julle fotosessie op die dag van julle troue.  Gedurende julle verlowing fotosessie sal julle jul trou fotograaf beter leer ken en so ook sommer baie meer gemaklik wees voor die kamera.

Hierdie oulike paartjie het onlangs in Robertson getrou.

Rol af om meer te sien van Leigh-Anne en Hannes se verlowing fotosessie in Gordonsbaai se hawe.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Hannes het by dieselfde maatskappy as ek begin werk.  Ons het bevriend geword deur boodskappe vir mekaar op sticky notes te skryf en op Hannes se kantoor venster te plak.  Hannes was veral lief daarvoor om ʼn Spongebob prentjie te druk en vir my te los.

Ons het meer gereeld buite werk begin saam kuier en so het die liefde begin blom.  Ons het omtrent een jaar en sewe maande uitgegaan voordat ons besluit het om verloof te raak.

Die groot vraag:


Wat ʼn storie!  Ons het ʼn rukkie voor die verlowing gefantaseer oor hoe die vraag gevra kan word.  Ons het soms na verloofringe gekyk wanneer ons in die winkelsentrums was.

Tydens 2022 Desember vakansie het ons Bloemfontein toe gegaan om Kersfees saam met Hannes se familie te spandeer.  Terwyl ons in Bloemfontein was het ons onsself weer in hierdie situasie bevind.  Ons ʼn ring gesien wat volgens ons albei perfek was en dis toe Hannes vir my se; “Take a leap”, met ʼn skelm laggie en rooi wange.  Hy het toe dus die ring gekoop, maar het vir my laat dink hy het dit nie gekoop nie.

Na Kersdag het Hannes aangedring dat ons Bloemfontein se botaniese tuine moet gaan besoek.  Aangesien ons gekys het in Kirstenbosch se tuine, wou ek baie graag Bloemfontein sʼn saam met Hannes gaan bewonder.  Ons het die plante en strukture bewonder en gesels oor hoe lekker die vakansie is en hoe baie ons mekaar waardeer.

Tipies Hannes met sy skelm lag, toe ons by die uitkyk stop het hy vir my gesê om presies 25 minute daar te wag en dan die paadjie terug te stap soos wat ons gekom het.  Ek was baie bewonderd, maar stem toe in.  Ek het rustig na die voëls op die dam gekyk en gewag vir die tyd om verby te gaan.  Natuurlik begin ʼn mens se kop dwaal en ek het gewonder wat Hannes aanvang (die man is baie lief daarvoor om my te verras met allerhande dinge). Elk geval, toe die tyd verby is, het ek die paadjie terug begin stap soos wat Hannes my gevra het.

Die groot vraag

Nie ver van waar ek af gekom het nie, het Hannes ʼn hele paadjie versier met foto’s van ons tye saam en dit verbind met ʼn lint wat na hom toe gelei het.  Elke foto het ʼn kort boodskappie gehad wat ek eers moes lees, my hart het natuurlik in my keel gespring van opgewondenheid soos wat ek die boodskappies begin lees het en ook besef wat gebeur.  Toe ek uiteindelik by Hannes uitkom het hy vir my vertel hoe lief hy my het en hoe graag hy sy “happily ever after”, ons “happily ever after” wil maak.  Na ʼn bietjie aanmoediging (Hannes was baie senuweeagtig, so daar was drukkies en soentjies tussen-in) het Hannes op een knie gegaan en my die gelukkigste meisie op aarde gemaak.  Hannes het die ring aan my vinger gesit en ons het ʼn paar foto’s geneem om die oomblik vir altyd te kan onthou.

Na die tyd het ons ietsie gaan eet by Hannes se gunsteling Bloemfontein restaurant en sommer dadelik trouplanne begin maak.  Nog voordat ons die sjampanje kon oopmaak, het ons op ʼn datum besluit.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Hannes:

“Ek hou baie van Leigh-Ann se glimlag en dit is vir my so lekker wanneer sy iets snaaks vind en uit haar maag uit lag.  Ek is baie gemaklik in Leigh-Ann se geselskap en sy laat my in myself glo wanneer ek myself betwyfel.  Ons belangstellings is baie dieselfde, dit maak my opgewonde oor die lewe om te weet dat ek elke oomblik saam met haar gaan spandeer.  Sy is my beste vriend en die lewe is baie lekkerder saam met haar.  Sodra ek dink sy kan my nie meer verras nie, dan doen sy dit alweer.  Sy maak ook die lekkerste Jimmy’s sous hoenderborsies.”

Leigh-Ann:

“Van dag een af het Hannes net ʼn vertrek opgehelder met sy vriendelike persoonlikheid.  Ek dink as behulpsaamheid en onselfsugtigheid ʼn mens moes wees, was dit Hannes.  Hy wil altyd vriende en familie help waar ookal hy kan en dis baie min dat hy vir iets nee sal sê, veral as dit ander mense se lewens kan verbeter.  Hannes is ook baie avontuurlustig, so ons sal gereeld op die strand gaan stap of “stand-up paddle board” of gaan piekniek in Kirstenbosch se tuine.  Hannes is ʼn groot rots in my lewe en moedig my aan om my drome en doelwitte na te streef en nie in myself te twyfel nie.  Vandat hy in my lewe is, is selfs die bitter oomblikke van die lewe ʼn positiewe ervaring.”


Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Glad nie lank nie!  Ons het al klaar ons venue en datum bevestig en gaan 8 Julie 2023 op Atila Trust Farm in Robertson die tou knoop.

Die verloofring:


Die ring was ʼn gesamentlike besluit gewees.  Ons het omtrent ʼn maand of twee voor die verlowing rondgekyk vir idees.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons wou graag die verlowings tydperk vasvang om vir jare daarna dit nog met vriende en familie te kan deel. (En om ook eendag dit vir ons kinders te kan wys.)

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Leigh-Ann is al jare lank ʼn bewonderaar van die fotograaf se werk en het met haar hoofstrooimeise die kleurskema gekies.  Ons wou ook baie graag die Mustang in ons foto’s hê a.g.v. ʼn “inside joke” tussen die twee van ons.  Hannes kom van Bloemfontein af en is baie lief vir die strand, die see en alles wat dit behels en Leigh-Ann is oorspronklik van die Weskus af, so die strand en hawe van Gordonsbaai het dit vir ons bymekaar gebring.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons het nie veel vrese vir die tydperk nie, behalwe net die lank wag vir die troudag om te kom (en Hannes wat nog nie vir ʼn pak begin soek het nie).  Ons wil graag net die tyd so veel as moontlik geniet aangesien dit só kort is.

MAAR ons is ook bietjie bekommerd oor die Kombuis tee en Ram partytjie.  Ons het geen idee wat die strooijonkers en strooimeisies beplan nie.  Ons hanteer elke naweek asof dit die partytjie naweek gaan wees.

Visie vir droomtroue:


Ons wil graag ons beste vriende en familie daar hê om die groot mylpaal in ons lewens saam met hulle te deel.  Ons het ook besluit om die troue klein en intiem te hou.  Leigh-Ann het ʼn groot liefde vir perde en wil dit baie graag inwerk by die trou skema en Atila Trust Farm gee vir ons daardie goue geleentheid.

Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: