Markus & Lee-Vano se Elegante Troue

Met baie opgewondenheid deel ons Markus en Lee-Vano se elegante troue met julle op Mooi Troues.  Markus, ʼn bekwame trou koördineerder by een van ons land se mees gevierde trou beplanner maatskappy, het self hulle troue gereël.

Markus en Lee-Vano het by Laurent op die Lourensford Wynlandgoed getrou in Somerset Wes.  Die perfekte trou venue vir ʼn elegante, tydlose troue en die trou venue bekend vir luukse troues.  Die paartjie het ‘n buite seremonie in die versorgde tuine,  met die Helderberg-bergreeks as agtergrond vir hul troue. Laurent is ʼn simplistiese wit onthaal lokaal waar paartjies hulle eie trou styl kan implementeer.  Ons is totaal en al verlief op dié paartjie se trou dekor, alles is perfek.  Die swart en wit elemente gee die troue ʼn elegante en tydlose gevoel. Vonkelwyn drankies het teen ʼn swart muur gehang waar gaste elkeen ʼn heerlike glasie as welkom drankie kon geniet.  Die tafel dekor was eenvoudig met swart materiaal servette. Deurskynende en ook swart wyn glase, korter wit kerse en lang dun swart kerse het die tafels versier.

Julle sal ook oplet dat daar nie blomme op die tafels self was nie.  Blom ontwerpe is op strategiese plekke geplaas, om die spasies waar blomme benodig is te beklemtoon.  Die swart troukoek met verskillende lae teksture het almal se aandag getrek.

Lee-Vano en Markus het albei baie dapper gelyk in hulle swart en wit trou uitrustings.  Die wit baadjies bo oor die swart onderbaadjie en swart broek werk só mooi met hulle meer formele tema.  Hul trou uitrustings is afgerond deur groot strikdasse wat onmiddellik die oog vang.

Rol af om meer te lees oor Markus & Lee-Vano se Elegante Troue en hul liefdesreis as paartjie.

Paartjie se Liefdesreis:


Sosiale Media is ʼn wonderlike ding.  My beste vriend het een aand by die huis aangekom en my met ʼn kinderlike opgewondenheid vertel van ʼn ou wat hy raak geloop het in ons kompleks.  Dat hy regtig dink dit is die tipe ou waarvan ek sal hou.  Min wetend was dit Lee-Vano waarvan hy gepraat het – die man van my drome.  Dié man wat ek al ʼn paar keer in ons kompleks raakgeloop het en sonder wete eendag mee sou trou.

ʼn Week na die gesprek met my vriend, het ek Lee-Vano raak geloop by sy kantoor.  Ek moes net weet wie die man met die mooi glimlag is.  Soos ek die verhaal begin verduidelik het, het ek op sosiale media gegaan en begin soek na die man wat my hart so bietjie-vir-bietjie begin steel het.

Na ʼn lang soektog het ek vir Lee-Vano op Instagram gevind en myself voorgestel.  Ons het vir ure aaneen gesels en het besluit om vir ʼn koffie te gaan. Die afspraak was ʼn sukses en ek het net daar besef Lee-Vano is dié EEN waarmee ek wil trou.  Dit was liefde met die eerste oogopslag!  Na twee weke van flankeer en vlinders het Lee-Vano my verras met ʼn wonderlike piekniek en my gevra om sy kêrel te wees.

Na twee jaar:

Twee jaar later het ons net meer verlief geraak.  Ons besef dat ons werklik vir mekaar bedoel is en het saam ons toekoms begin beplan. Ons het begin praat oor trou en ringe, maar ek het die “TROU” gesprek begin kort knip en later van tyd die koue skouer begin gee.  Wetend hoe ek reeds die verloop van ons verlowing op die 17de April 2021 by Hidden Valley Wynlandgoed sou sien uitspeel.  Dit was een van die lekkerste dae en een van die GROOTSTE verrassings vir Lee-Vano.

Lee-Vano se ring was nog nie eers aan sy vinger toe hy met alle mag ons ouers wou laat weet; min het hy geweet dat al ons kosbare vriende en familie reg staan om ons te verwelkom met ʼn asemrowende verlowings partytjie te Hidden Valley Wynlandgoed.

Die Verlowing Tydperk:


Ons verlowings tydperk was vanaf die 17de April 2021 tot en met die 25ste Junie 2022.

Met ons verlowing het KOVID-19 nog ʼn GROOT rol in ons land gespeel.  Dit was ons hartsbegeerte om in ʼn jaar se tydperk vanaf ons verlowing te trou.  Ek (Markus) is self ʼn trou/funksie koördineerder en dus het as paartjie besluit om sommer ons eie troue te reël, maar met die doel dat ons twee derde-jaar studente van die Aleit Academy die geleentheid sal gee om die dag van ons troue te koördineer.

Elke stap van ons troue was haarfyn beplan, juis oor die feit dat ek en Lee-Vano baie puntenerig is oor detail, netheid en klas.  Ons het ʼn wonderlike konsep opgestel van presies wat ons wou hê, van elke dekor element tot hoe ons gaan lyk vir die groot dag.

Merkwaardigste Oomblikke:


Daar is ONGELOOFLIKE baie mooi oomblikke!  Ons het as paartjie besluit ons gaan dinge bietjie anders doen, dus het alles van ons troue ons elkeen se persoonlikhede weerspieël.

Trou uitnodigings:

Ons het as paartjie besluit op ʼn baie elegante heeltemal swart formele “Black Tie” troue.  Al ons trou gaste het ʼn tradisionele uitgedrukte kaartjie in die formaat van ʼn paspoort gegee met al die besonderhede van ons troue daarin.  ʼn Uitleg van die voorgestelde kleredrag, sowel as ʼn paar feite en geite van ons as paartjie.  Die uitnodiging was afgesluit met ʼn pragtige gedig van Ludwig van Beethoven.

Die dag voor ons troue:

Dae voor die groot dag was alles van ons troue alreeds mooi uiteen gesit in ʼn finale trou program.  Ek, Lee-Vano en ons gevolg hoef dus niks van ons troue die dag voor die geleentheid te hanteer het nie.  Alles was in die hande van die twee fantastiese koördineerders van die Aleit Academy.  Hulle het ons só spesiaal laat voel en het alles mooi ge koördineer volgens al ons wense; van ons akkommodasie tot ons trou lokaal se opstel.

Ons het besluit om teen 15:00 die dag voor ons troue ʼn trou oefening te doen saam met ons gevolg, ouers en dominee net om alles mooi deur te gaan en om seker te maak almal verstaan presies hoe en wat waar gebeur.  Dit was een van die mooiste oomblikke in ons lewe om te besef alles wat ons so haarfyn beplan het, nou tot ʼn werklikheid kon kom.  Almal van ons was in trane, trane van blydskap want uiteindelik gaan ons ons liefde in 24 uur vier.

Ons Gaste:

Dit was vir my en Lee-Vano belangrik dat ons gaste moes verstaan wat ʼn heel swart formele “black-tie” troue behels.  Dit was nie ʼn skemerkelkie tipe troue nie, maar eerder ʼn pragtige formele aandrok troue.  Al ons gaste het so baie moeite gedoen om swart rokke en Tuxedo te soek.  Almal het dit vreeslik geniet om fabelagtig te kon aantrek.  Dit was vir my en Lee-Vano spesiaal om te sien hoe mooi ons gaste gelyk het en die moeite wat elkeen gedoen het vir ons spesiale dag.

Ons Seremonie:

Om 14:30 het al ons gaste in elegante swart aandrokke en swart Tuxedo’s by ons trou lokaal, Laurent by Lourensford Wynlandgoed, opgedaag.  Kelners in swart geklee, het hul verwelkom met ʼn botteltjie water terwyl ʼn statige tjellis in die agtergrond ons gaste vermaak met ʼn luukse gevoel van “WOW”.

Om 15:00 het ons inleiers ons gaste gelei na hulle sitplekke waarby hulle vir my en Lee-Vano met opgewondenheid gewag het.  Ons gevolg het eerste ingestap van twee verskillende pole van die lokaal tot voor.  Daarna het ek (saam met my suster) en Lee-Vano (saam met sy ouers) in wit en swart geklee ook vanaf dieselfde verskillende pole tot in die middel van die trappe gestap.  Ons gaste het dit nie verwag nie en was dus verras met die unieke aankoms.  Saam het ons as paartjie tot by die kansel gestap waar Ds. Monty Sahd ons in die eg verbind het.

Ons Onthaal:

Alles was perfek mooi in swart en goud met ʼn titseltjie wit, super elegant en baie modern.  Ons laaste verrassings element wat geen siel van geweet het was die fopdosser, “Princess Pop” wat ons gaste vermaak het terwyl hulle geëet het.  Dit het die atmosfeer dadelik verander na ʼn aand van feesviering!

Trou Begroting:


Ek en Lee-Vano het kort na ons verlowing ʼn begroting opgestel.  Ons het elke maand ʼn element van ons troue begin betaal.  Van strooimeisies se oorbelle tot skoene, ensovoorts.  Om klein elemente soos dit te begin betaal van dag een en te beplan, help ʼn paartjie baie om nie jou sak so erg te ruk nie.  Na elke aankoop het ek en Lee-Vano ons gedetailleerde kontantvloeistaat opdateer.  So het ons daagliks op hoogte gebly van wat ons alreeds betaal het en wat ons nog moet aankoop.  Die feit dat ek en Lee-Vano dit so gedoen het was wonderlik, want op die manier kon ons sien hoe ons hele troue mooi bymekaar kom.  Dit help ook baie dat Lee-Vano ʼn rekenmeester is, dus was syfers nie ʼn probleem.

As paartjie, was ons baie geseënd deur die feit dat baie van ons diensverskaffers vir ons billike pryse aangebied het.  Juis oor die feit dat ek ʼn goeie verhouding met hulle het oor die talle funksies wat ek, as deel van my beroep, al saam met hul gedoen het.  Elke kwotasie het ons haarfyn deur gegaan om seker te maak ons kan en gaan in ons begroting bly; dit was wel nie heeltemal die geval nie, aangesien ons wel oor ons begroting gegaan het om alles wat ons droomdag behels het, ʼn werklikheid te kon maak.

Ons was in totaal 98 gaste en het besluit dat ons net familie en vriende gaan nooi wat werklik ʼn rol in ons persoonlike lewens speel.  Dit help nie jy nooi gaste by so spesiale dag wat geen inspraak in jou lewe bring nie.  Om ʼn troue te betaal behels dat ʼn mens per kop moet begroot; hoe meer gaste ʼn paartjie nooi hoe groter gaan ʼn paartjie se begroting moet wees.

Die Besluitnemingsproses:


Ek en Lee-Vano het saam besluite gemaak, omdat ek die trou industrie baie goed ken het ek baie van die voorstelle gemaak.  Ek en Lee-Vano moes 100% saam stem oor alles voordat ons op iets finaal besluit het.

Ons ouers en vriende het ons gerespekteer in al ons keuses en het ons keuses aanvaar.  Omdat ons nie ʼn doodgewone troue gehad het, maar ʼn elegante troue was beide ons ouers en vriende baie opgewonde om mooi te kon aantrek.

Ons gevolg; wat beide my en Lee-Vano se beste vriende is, moes belangrik en spesiaal voel omdat hulle so deel van ons lewe is.  Elke besluit rakende hulle rokke en Tuxedo het ons in ag geneem om seker te maak hulle voel gemaklik maar fantasties.

Paartjie se styl:


Ek en Lee-Vano het ʼn baie unieke, elegante maar moderne styl.

Soos genoem was ons troue ʼn “all black, black-tie” troue.  Ons het ʼn versoek aan al ons gaste verrig om in elegante swart geklee te wees.

Ek en Lee-Vano het besluit om in ʼn tuxedos van swart en wit geklee te wees om as paartjie uit te staan van die res.  Dit het ons as paartjie ook baie spesiaal laat voel om ʼn net ʼn bietjie wit in ons troue in te bring.

Ons troupante en bykomstighede was vir albei van ons belangrik en uniek.  Lee-Vano se troupand is roosgoud met bypassende Daniel Wellington tyd-stuk asook manchetknope en als van my was in geel goud.  Ons wou dieselfde maar tog ook verskillend lyk op ons groot dag.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons diensverskaffers was fantasties elke verskaffer het my en Lee-Vano se droom tot ʼn werklikheid gebring.  Hulle was vriendelik, bedagsaam en het ons te gemoed gekom as ons iets ekstra wou hê.  Ons lys van diensverskaffers sal ons vir enige paartjie voorstel, juis oor die wonderlike diens wat ons ontvang het.

Spesiale Tradisies:


Aand voor ons troue:

Ek en Lee-Vano het ʼn redelike getal gaste genooi wat van vêr was.  Ons het besluit om ʼn ete te hou vir al ons familie en vriende wat van vêr kom,  Sodat ons meer tyd saam met net hulle te kon spandeer.  Die gees van die aand was lig en ons kon die opwinding van almal voel.

Op die dag van ons troue:

Die dag van ons troue het ek vir Lee-Vano ʼn lied van my geloftes aan hom gespeel met die naam “Love Like This” deur Ben Rector.  Saam met dit het ek en Lee-Vano ook nagmaal geneem as ʼn gelofte aan ons Hemelse Vader.

Venue & Dekor:


Ek werk op die Lourensford Wynlandgoed en toe ek vir die eerste keer in die onthaal lokaal sowat ses jaar terug gestap het, was dit die plek waar ek gedroom het ek wou trou.  Sonder wete het Lee-Vano ʼn werksfunksie in 2013 in dieselfde lokaal gehad en hy het dieselfde droom gedroom.  Ons het by die asemrowende Laurent getrou, die lokaal is klassiek romanties met ʼn moderne styl; als wat ek en Lee-Vano oor gedroom het.

Ons dekor kleure was swart met ʼn titseltjie goud en wit.  Die dekor was modern en elegant en het ons as paartjie 100% weerspieël.  Ons hoof eienskap van ons troue was die swart “fringe” ligte wat uit die dak gespan was met ’n klassieke swart ABS dansvloer.  Ons het behandelde hout tafels gehad, versier met swart tafellopers en slegs kerse van verkillende breedtes en lengtes; geposisioneer op graniet blaaie.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Daar is geen element wat ek en Lee-Vano sal wou verander, alles was 100% perfek.  Ons wens net ons het nie onsself so bekommer oor klein goed wat glad nie eers saak gemaak het nie.

Advies aan toekomstige paartjies wat trou:


ʼn Mens se troudag is een van die mees spesiale dae in enige paartjie se lewe.  ʼn Dag wat net eenkeer gaan gebeur.

  • Maak besluite as paartjie saam en neem mekaar in ag oor enige opinies.
  • Verseker julle bevestig die trou lokaal, fotograaf en videograaf eerste.
  • Doen julle navorsing oor al julle diensverskaffers en lees resensies, dit maak en/of breek ʼn troue.
  • As julle kan, probeer om ʼn “op die dag Koördineerder” te kry om al die bekommernis van julle groot dag te hanteer.

Vermaak:


Met die aankoms van ons gaste het Dorette Roos, ʼn tjellis ons gaste vermaak het met ʼn klassieke gevoel van elegansie.  Na ons seremonie het ons skemerkelkies saam met ʼn oestafel met heerlike koue vleise, patees en brood bedien.  Die legendaries Dani Ville het ons gaste vermaak het met haar asemrowende stem.

Terwyl al ons gaste heerlik gesmul het aan hulle maaltyd, het ons, ons gaste vermaak met ʼn ware LGBTQ+ vertoning van die fopdosser, Princess Pop.  Dit het die gaste klaar die gevoel gegee dat ons troue in ʼn heerlike partytjie sou ontaard.

Na ons ons dansvloer geopen het het ons platejoggie, DJ Joe, ons vermaak met die beste musiek om ons gaste van oud tot jonk op die dansvloer te bring.

Eerste Dans:


Ons eerste dans was ʼn dans van die wolke wat ons trou lokaal in ʼn strokiesverhaal verander het.  Ek en Lee-Vano het geen danslesse vooraf geneem nie, maar het definitief op die lied Imagine, geskryf deur Ben Platt, elke stap geoefen in die ruimte van ons sitkamer.  Elke woord van die lied het ons, as ʼn gelofte aan mekaar gemaak, as deel van ons groot dag.

Wittebrood:


Ons kon ongelukkig nie direk na ons troue op wittebrood gegaan het nie.  Maar ons het wel een ongelooflike wittebrood na Thailand beplan vir Desember 2022.  Ons het besluit op Thailand. Dit sal ons eerste eiland vakansie as getroude paartjie wees.  ʼn Droom wat ons albei begeer.


Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: