Jacques & Winnice se selfdoen buite bruilof

Jacques en Winnice het hulle selfdoen buite bruilof gehad by hul tuisdorp waar hul albei groot geword het.  Met die gekose minimalistiese, boheems geïnspireerde tema, was hulle troudag perfek en meer as waarvan hulle kon droom.

Die KOVID-19 pandemie ry baie paartjies te trou drome in die wiele.  Jacques en Winnice het van trou venue verander en hulle gastelys aangepas om binne die grendeltydperk se regulasies te pas.  Tog het het hierdie aanpassings toegelaat dat hulle wel binne hul begroting gepas het en alles het volgens hulle visie uitgedraai.

ʼn Groot dekor element wat bygedra het tot die minimalisties boheemse tema, was die blomme.  Sophia van Heerden van Sophia’s Roses het Winnice se visie ingesien vir die trou dekor en blomme en het al haar verwagtinge oortref.  Winnice beskryf Sophia as “ʼn Vrou wie se hande vir niks verkeerd staan nie.”.

Rol nou af en herleef Jacques en Winnice se troudag deur hul liefdesverhaal en foto’s.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek en Jacques ken mekaar al van kleins af , ons het groot geraak in die selfde dorp, Murraysburg en ons was ook saam op Hoërskool.  Ek was derde jaar op Stellenbosch Universiteit en Jacques het al geboer, toe ons mekaar weer raak loop.

Jacques het my gevra om te trou, dit was maar moeilik vir hom om te beplan, want ek is so nuuskierig en vind op ʼn manier altyd alles uit, maar dit was die eenkeer wat ek van niks geweet het nie.
Ons het op hulle plaas gaan stap, soos wat ons baie Saterdae doen, en toe ek om die draai kom sien ek ʼn mooi gedekte tafel met blomme en vonkelwyn en Jacques op sy knie met die mooiste ring.  Ons het daarna huis toe gegaan en met al ons naaste vriende en familie die verlowing gevier.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was om en by 7 maande verloof.  Ons het besluit om nie ʼn troubeplanner te kry nie, en ek is baie bly daaroor.  Dit was ʼn uitdaging om ʼn troue te beplan terwyl ek voltyds gewerk het, maar dit was so lekker vir ons om alles self te beplan.

Finansiële Aspekte:


Ons was baie bevoorreg dat beide ons ouers ʼn groot finansiële bydra gemaak het tot ons grootdag.  Ek en Jacques het aan die begin van ons beplanning besluit op die belangrikste aspekte van die dag en dit ons eerste fokus punte gemaak.  Ons het goed by ons begroting gehou en selfs nog geld oorgehad.

Ons troue sou aanvanklik 180 gaste gehad het, weens die onsekerhede van KOVID-19 het ons ʼn baie moeilike besluit geneem en ons troue kleiner gemaak tot 70 mense.

As ek enige raad kan gee oor die kostes van ʼn troue is dit dat jy werklik jou droomtroue kan kry indien jy die belangrikste aspekte van die dag prioritiseer.  Spandeer aan die goed wat ʼn verskil gaan maak by jou troue en betaal minder vir die dinge wat meeste mense nie eers gaan agterkom nie.

Merkwaardigste Oomblikke:


Die merkwaardigste deel van die dag was vir my toe ek by die deure instap, en Jacques staan voor by die kansel.

Vir Jacques was dit die 10minute wat ons gehad het voor ons in die onthaal sou instap.  Daar het alles ingesink en dit was ʼn wonderlike gevoel om te weet dat ek met my beste maat getrou het.

Die Besluitnemingsproses:


Ek en Jacques het aan die begin van ons beplannings proses gaan sit en ʼn begroting uitgewerk.  Baie van die trou tydskrifte het ʼn uiteensetting van wat seker goed kos by ʼn troue.  Dit het ons gehelp om ʼn goeie haalbare begroting op te stel.

Ek het meeste van die troue gereël, maar ek en Jacques het saam gesit en mekaar se opinies gevra voordat ons ʼn besluit geneem het.  Ek het vreeslik baie staat gemaak op vriende en familie vir raad, maar ek en Jacques het die finale besluite geneem.

Paartjie se styl:


Ons het gegaan vir ʼn minimalisties boheemse styl vir die dag.

Ek het verskeie rokke aangepas en besluit op ʼn noupassende satyn trourok met gaasbedekking en die bokant het ʼn pragtige blom- en blaarmotief wat op geborduur is.  Die trourok was van Elbeth Gillis.

Jacques wou nie die cliché swart of donkerblou troupak dra nie.  Hy het toe besluit op ʼn ligte grys pak van Woolworths met leer bykomstighede.

Jacques het my bederf met ʼn ovaal diamant.  Ek wou my verloof en trouring so eenvoudig en tydloos as moontlik hou.  Ons het toe besluit om ʼn eenvoudige dun goue pand te kry wat onder my verloofring inpas , asook ʼn “eternity” band.

Jacques het besluit om ʼn dun goue pand vir sy trouring.

Gunsteling Diensverskaffers:


Dit is ʼn baie moeilik want ek het so lekker gewerk met elke diensverskaffer en ek kan werklik hulle almal aanbeveel, maar ons 3 grootste verskaffers was net wonderlik!

Spyseniering en Troukoek: Hestie vD Mech van Polka Cafe/Bakery/Deli.  Sy het dit reg gekry om in die middel van die karoo op ʼn plaas ʼn 5 ster maaltyd voor te sit . Haar kos is smelt in die mond lekker.

Fotograaf en Videograaf: Paula Adams Photography en haar man Big Day Symphony Wedding Films. Neem die mooiste fotos en self Jacques wat glad nie van fotos hou nie , was gemaklik tydens ons fotosessie.

Dekor en Blomme: Sophia v Heerden – Sophia’s Roses. ʼn Vrou wie se hande vir niks verkeerd staan nie. Sy het my vissie vir die troue gesien en dit na ʼn volgende vlak geneem.

Ons is werklik bevoorreg om sulke wonderlike mense te gehad het wat ons spesiale dag moontlik gemaak het.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Dit voel vir my daar is maar altyd dinge wat verkeerd loop by die troue, en daar het so paar dinge skeef geloop, maar ons sal daardie dag vir niks verruil nie.  Ons glo alles gebeur vir ʼn rede. Ons troue was wonderlik en ons het elke oomblik geniet.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Vir die Bruide:

Geniet die beplannings proses en maak seker dat alles vooraf klaar gereël is.  Moenie jouself bekommer oor die klein dinge nie, meeste van die tyd mis jy dit nie en kom die gaste dit nie eers agter nie.  Geniet die dag saam met jou geliefdes want dit gaan vreeslik vinnig verby.

Vir die Bruidegomme:

Onthou om te vra waar jy kan help, maak seker jy lewer jou insette – jou toekomstige vrou wil dit hê.  Goeie platejoggie en ʼn bekostigbare kroeg, verseker ʼn suksesvolle troue.

Vermaak:


Ons het ʼn platejoggie gehad vir seremonie, verwelkomingsdrankies en die onthaal.

Eerste Dans:


Ons het 1 keer ons eerste dans geoefen en dit was oorgenoeg.  Dit was vir ons belangrik om ʼn eerste dans liedjie te kies met mooi en gepaste woorde.  Ons het besluit op By jou – Theuns Jordaan.

Venue & Dekor:


Ons sou aanvanklik by ʼn venue in Cradock trou.  Die gastelys het ons verminder en dit het net nie meer sin gemaak om nogsteeds by ʼn groot venue te trou nie.  Ons het toe besluit om ons troue na ons tuis dorp te skuif – Murraysburg.  Die plaas waar ons getrou het is nie ʼn venue nie, maar hulle hou jaarliks ʼn Stilfees, so hulle het geriewe vir ʼn troue.  Dit was vir ons vreeslik spesiaal om in ons albei se tuis dorp te trou.  Die plaas het ʼn vreeslike mooi populierbos en toe ons dit sien was ons oortuig dat dit ons droom trouvenue is.

Ek is mal oor die boheemse “chic” troustyl met neutrale kleure en gedroogte blomme.  Die plaasvenue het op die ou einde my styl baie meer komplimenteer as die trouvenue waar ons aanvanklik sou trou.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Ek en Jacques het besluit dat ons nie ons datum wil skuif of ons troue kanselleer nie.  Ons het wel van venues verander en ook ons gastelys kleiner gemaak.

Wittebrood:


Met KOVID-19 en al die regulasies wat daarmee gepaard gaan het ons besluit om die Wildekus te besoek.  Beide van ons was nog nooit daardie kant van ons land nie, en dit was pragtig!  Ons het op verskeie plekke besoek, maar ons gunsteling bestemming – Umngazi hotel and spa naby Port St Johns, Oos-Kaap.  Ons kan werklik Umngazi aanraai vir enige ander paartjie.  Dit is ʼn besonderse wittebrood bestemming.

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: