Christo & Drey-Andra se verlowing onder ‘n ou Maroelaboom

Ons is vreeslik opgewonde om met ons lesers die besonderse verlowing van Christo en Drey-Andra te kan deel.  Ons is absoluut versot op die ou Maroelaboom en die twee pragtige Swart perde wat deel gevorm het van die verlowing fotosessie.  Die fotosessie is regtig prentjie mooi en asof dit op ‘n poskaart hoort.  Ons dink regtig die foto’s sal baie mooi wees sou die paartjie die inkorporeer by hul trou uitnodigings.

Paartjies wat vir ‘n plaas styl verlowing fotosessie wil gaan sal Christo en Drey-Andra se verlowing fotosessie onder ‘n ou Maroelaboom bitter baie geniet.  Nie net is die foto’s mooi nie, is die paartjie se storie baie oulik.

Rol af en word weg geneem deur die oulike paartjie se verlowing fotosessie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Lank geweet van mekaar, maar eers werklik ontmoet 2011 tydens ʼn Hentiesbaai Desember vakansie. Albei was op skool in Suid-Afrika (alhoewel ons Namibiërs is).  Ons het kontak behou na ons ontmoeting, wat eventueel gelei het tot ʼn tradisie tyd saam te spandeer. Dit was eers 2014, drie jaar (en baie vakansie romanse later) waar die alles vlam gevat het.  Ek was toe al ʼn student op die Puk in Potchefstroom en Christo ʼn rugbyspeler by WP in die Kaap.  Kyk, lang afstand verhoudings is nie vir sussies nie.  Dit het baie vlugte, verlange en vertroue geverg, maar ten spyte van die “up’s & downs” was daar ook baie onvergeetlike lekker tye, wat al die trane die moeite werd gemaak het.  Hoe sê die Engelse “and the rest was history” … 7 jaar later verloof en meer verlief as ooit.

Die groot vraag:


Ons het ʼn plaas naweek gereël saam vriende en familie.  Een van ons vriende paartjies is ook fotograwe en het ons gevra of hulle dalk tydens die naweek dalk ʼn fotosessie van my en Christo kan doen vir bemarking-doeleindes vir hulle fotografie besigheid.  Ek was natuurlik gewillig, maar om vir Christo te moes oortuig om jag-tyd af te staan was nie maklik nie (goeie akteur as jy my vra, want hy het alles gereël).

Ons het die Saterdag oggend met sonsopkoms begin foto’s neem in die veld terwyl die res van die familie en vriende nog geslaap het.

Aan die einde van die foto-sessie het die fotograwe gese ons moet onder die Maroelaboom ʼn laaste paar fotos neem – en dis toe daar waar Christo die groot vraag gevra het – en ek my beste JA gegee het.  Toe ons terug by die huis kom het ons familie en vriende ons in gewag.  ʼn Volle dag van feesvier was daarna beplan en nog familie het ons kom verras.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Drey-Andra se gunsteling eienskap van Christo is sy liefdevolle en vriendelike persoonlikheid.  Sy mooi omgee hart.  En sy passie waarmee hy alles in die lewe aanpak.

Christo se gunsteling eienskap van Drey-Andra is haar onafhanklikheid , en haar vermoë om alles waarop sy haar kop sit ʼn sukses van te maak en haar avontuurlustige persoonlikheid.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons wou eintlik nie langer as 1 jaar verloof wees nie, ideaal sou dit 9 maande maksimum wees.  Ongelukkig a.g.v. KOVID-19 het al ons vriende se troues aangeskuif en is 2021 vol geboek tot en met Julie maand.  Ons wil graag op die plaas trou, onder die Maroelaboom waar ons verloof geword het.  Met ʼn plaastroue moet mens baie faktore in ag neem, winter, droogte, wind en reën is van hulle en daarom het ons toe besluit die mooiste en beste tyd sal 10 Desember 2021 wees.

Die verloofring:


Christo het in die 7 jaar geleer wat my styl is, ek het ook vir hom ʼn paar idees en voorbeelde in die verlede al gewys, verder het hy sy eie diskresie en kreatiwiteit gebruik en besluit hoe die finale produk gaan lyk.  Ek is mal daaroor, dit is presies my styl.  Fyn en uniek.  Hy’t ʼn goeie ‘job’ gedoen.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Dit was deel van verlowings verassing fotosessie.  Christo het met ons vriende (Irvine Media) wat saam op die plaas naweek kom kuier het, vooraf die fotosessie gereël. Gemaak asof hy nie vreeslik belangstel in ʼn foto-sessie as hy kon gaan jag het nie (my verniet laat smeek).  Met ons verlowing onder my gunsteling boom op ons plaas het ons twee werkers net na Christo my gevra het, met ons twee swart perde en sjampanje aangestap gekom.  Wat bitter spesiaal vir my was en sprokies mooi.

Ons beplan om wel nog ʼn verlowing foto-sessie volgende jaar nader aan die troue te doen vir trou uitnodigings ens.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Aanvanklik ʼn lekker gemaklike fotosessie.  Ons klere styl was gemaklik, maar ook modern vir ‘n plaas fotosessie.  Omdat die fotograwe ʼn video geneem het, sal ek sê dit het soos ʼn regte “country” musiek video gevoel wat op die plaas in die veld geskied is.  Blou oop lig bo ons, groot veld om ons en onder die ou Maroelaboom.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Verwagtinge:

Dat ons elke oomblik van die verloof seisoen ten volle gaan inneem en geniet ten spyte van al die lekker en sleg wat met trou reëlings gepaard gaan.  Almal se insette en hulp waardeer word, maar op die ou end van die dag dit die Bruidspaar se besluit is oor “hoe, wat en waar”.

Vrese:

Dat die wag te lank gaan voel tot en met ons troudag 10 Desember 2021.  Dat ons nie gaan toelaat dat die beplanning en stres ons geluk steel of ons voorbereiding vir die huwelik beïnvloed nie.

Visie vir droomtroue:


Ons wil ʼn lekker gemaklike en onvergeetlike plaas troue hê – sommer ʼn naweek lank.

En al is dit op die plaas beteken dit nie die versiering hoef “plaas” te lyk nie.  Ons gaan steeds die dag so sprokiesmooi as moontlik laat lyk met ʼn “boheemse” gevoel wat deurtrek.

Die Saterdag na die troue gaan ʼn lekker dag vol pret en plesier wees om vir ou laas saam al die gaste te kuier wat ver moes ry tot op die plaas.  Ons almal weet die bruidspaar kom nie altyd by almal uit op hulle troudag nie.

KOVID 19 se uitwerking op jul trou reëlings:


KOVID-19 het nie noodwendig direk ʼn impak op ons trou dag gehad nie.  Dit het veroorsaak dat baie van ons vriende wat in 2020 moes trou hulle troues geskuif het na 2021.  Die datums het gou vol geraak en veroorsaak dat ons datum nou eers einde 2021 is omdat meerderheid van die troues tot voor die winter in Junie ingedruk is.

 

Klik hier vir diensverskaffers

  • Fotograaf: Irvine Media
  • Fotosessie Venue: Ons plaas Osmoor, in Grootfontein Namibië
  • Verloofring: Windhoek Jewellers Namibië