Juan & Stephanie se woud verlowing fotosessie

outdoor engagement photo ideas

By Mooi Troues is ons opgewonde om met ons lesers die oulike woud verlowing fotosessie van Juan en Stephanie met julle te kan deel.  Die fotosessie is romanties en propvol oulike idees vir ʼn verlowing fotosessie.  Ons kan in die foto’s sien dat Juan en Stephanie smoorverlief is en net oë het vir mekaar.

Die weer het ook perfek saam gewerk met ʼn mis reën en die eindresultaat was ongelooflik mooi.  Juan vertel ook dat een van sy mooiste herinneringe is waar Stephanie in die reën sit en poseer.

Werklik ʼn pragtige paartjie en dié verlowing fotosessie moet met soveel mense moontlik gedeel word.  Nou toe, nou kan Mooi Troues se lesers ook Juan en Stephanie se verlowing fotosessie in ʼn woud hier onder geniet.

Vertel ons van jul ontmoeting en die eienskappe wat julle na mekaar aangetrek het?


Juan was ʼn finale jaar in sy meesters in Argitektuur en ek ʼn eerste jaar.  Ons was albei oorwerk en gestres, maar tog het ons oulikste kant uitgekom as ons mekaar sien.  Ons verhouding het begin deur mekaar te help met projekte, koffie en vetplante te deel.

Juan: Haar eerste glimlag aan my is tot vandag toe nog duidelik in my gedagtes.  Ek kon goedheid, gelukkigheid en net ʼn besonderse lekker toekoms in haar oë sien.

Stephanie: Ek het Juan ontmoet en dadelik tuis gevoel by hom.  Wat werklik uitgestaan het en baie aantreklik is, is hoe hy mense help en hanteer.

Vertel ons wie het wie gevra om te trou?


Op ʼn Kaap Vakansie het ek haar oortuig dat ʼn vriend hulp nodig het met ʼn projek, dié het vereis dat ons n fotosessie reg oor Kaapstad moet doen met oulike boodskappies op swartborde geskryf.  Daar was baie moeite gedoen om Stephanie van spoor af te gooi.  Van Kirstenbosh na Waterfront na die binnestad, was dit een van ons beste dae, vol pret, vreugde, foto’s en lekker eet.  Ons het die dag afgeëindig vir ʼn laaste foto bo-op Tafelberg.  Teen die tyd was Stephanie al heel moeg, nuuskierig en wou graag nou net iewers sit en haar springmielies eet terwyl Juan die beste uitsig uitsoek.  Op ʼn stil rots met ʼn mooi uitsig oor die stad het Juan n bordjie voor my gehou wat vra of ek met hom sal trou, natuurlik het ek ja gesê!

Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?


Stephanie het groot geword in die Laeveld, so ons gaan graag op avonture soontoe.  Een plekkie wat besonders mooi vir ons is, is Kaapschehoop.  Ons is baie goeie vriende met ons fotograaf, Margaux en haar man, so toe maak ons ʼn wegbreek van die verlowingsessie en deel ons liefde vir die Laeveld met hulle.  Die woud en natuur is deel van wie ons is en ons wou graag hê die fotos moet dit weerspieël.  Op die dag was daar n baie ligte misreën wat die foto’s sprokies mooi gemaak het.

Wat het jul laat besluit oor die verlowing fotosessie?


Ons het ʼn foto-pakket gekies wat ʼn verlowing sessie ingesluit het.  So dit was ʼn perfekte geleentheid om foto’s vir ʼn elektroniese webblad van ons troue te kan maak, wat ons ook as uitnodiging gebruik het.  Nie in ons wildste drome het ons gedink dat ons die fotosessie só baie sou geniet nie.

Juan: Dit was definitief die plasing ook, veral vir Stephie, die natuur daar is so onvoorspelbaar.  Om haar in die reën te kon soen is een van my gunsteling herinneringe.

Vertel ons meer wat het jul ingedagte vir jul droom troue?


As Argitekte wil ons albei net graag ʼn ruimte hê waar ons ons familie en vriende kan sien saam kuier, gesels en lag.  Ons wil nie die voor prentjie wees nie, die gebou, natuur, plasing, dekor en die versnaperings moes die dag steel.  Ons is alledaagse altyd in ʼn gejaag, die plekkie moet die natuur uitspoel en mense maak stil staan vir ʼn bietjie.


    Artikel Diensverskaffers:

    • Tik Adverteerder Hier

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: