Jaco & Jana se Karoo troue

Die troue van Jaco en Jana is propvol inspirasie vir paartjies wat beplan om in die Karoo hul groot dag te vier.  Ons weet Mooi Troues se lesers sal dié troue geniet soos ons het, maar laat ons jul nog bietjie meer vertel waarom ons van die toue hou.

Jana het absoluut asemrowend gelyk in haar trourok.  Soos die foto’s onder vertel het sy Jaco omtrent na sy asem laat snak toe sy by die trou-paadjie afgestap kom!  Die Gin- en Kos stasie onder die Granaatbome is iets besonders. Die kosse lyk omtrent lip-lek-lekker!  Ons weet sommer die gaste het hul self geniet aan die vingerhappies.  In die fotosessie was die Karoo elemente van Skape en Turksvye stylvol gebruik om by te dra tot prentjie mooi foto’s.  Die onthaal saal was net so stylvol versier met skoon, vars en minimalistiese dekor.  Die Groenigheid het ongelooflik mooi teen die Karoo agtergrond afgespeel.

Ons weet ons het ons lesers nou baie nuuskierig gemaak, so ons sal jul nou toelaat om op jul tyd dié pragtige troue deur te kyk. Maak iemand se dag wat ‘n Karoo troue beplan deur dit te deel.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag?


31 Maart 2018 –  Jaco 28 jaar en Jana 27 jaar

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons het alreeds in 2010 as grootoog eerstejaar studente aan die Universiteit van Stellenbosch ontmoet toe die mans-koshuis, Hippokrates, en die dameskoshuis, Heemstede, saam ge”jool” (karnaval) het.  Ons was toe net vriende en het mekaar eers weer ‘n hele paar jaar later op ‘n romantiese manier leer ken.  Goeie dinge vat tyd…

Hoe het julle verloof geraak?


Ons het op 27 April 2017 verloof geraak tydens ‘n wegbreek naweek saam met ‘n groep vriende, in Wildernis.  Jaco het skelm gereël dat die dames eers vir ‘n manikuur gaan by Views Boutique Hotel & Spa terwyl die mans kamstig gaan gholf speel het, maar hulle het in der waarheid die plek waar ons later die aand verloof geraak het, Serendipity, met hordes “feetjie liggies” gaan versier.  Serendipity het ‘n fynproewer restaurant wat uitkyk oor die pragtige Wildernis strandmeer.  Jaco het my voor nagereg na buite gelok en toe onder die “feetjie liggies” op sy knie gegaan!

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Ons fotograaf, Sulet Fourie, is ekstra spesiaal aangesien sy ook ons skoonsuster is, maar al was sy nie familie nie, sou ons haar nogsteeds genader het aangesien haar werk so stylvol en kunstig is.  Sulet het die vermoë om die fynste detail en emosie van ‘n gebeurtenis kreatief vas te vang en daarby het sy ook ‘n borrelende persoonlikheid wat jou op jou gemak laat voel.

Ons videograaf was Ismael dos Ramos van Filmish.  Ons het ‘n hele paar videograwe nagevors en het toe besluit op Filmish aangesien die video’s baie kreatief en modern verfilm word.

Vertel ons meer van jul ringe.


My (Jana) se verloofring is deur Jaco se tannie, Elsabe Visagie, wat ‘n juwelier is, gemaak.  Dit was ‘n verrassing vir my en Jaco het presies vir haar gesê hoe dit moet lyk: ‘n dun goue pant met ‘n Solitaire diamant, klassiek en elegant. My troupant is ‘n dun goue pant met fyn diamantjies.  Jaco se trouring is deur Dear Rae ontwerp en is ‘n dun goue pant (“matt” afwerking) aangesien hy nie van bonkige ringe hou nie en ook baie met sy hande werk aangesien hy ‘n fisioterapeut is.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag?


Daar is nie ‘n definitiewe oomblik wat uitstaan nie, maar die stille besef dat die hele dag jou verwagtinge oortref en om te sien hoe almal wat van heinde en verre af gekom het, hulself geniet tot ver na ounag toe, was baie spesiaal. Daar het ‘n absolute gevoel van samesyn, liefde, warmte en feesviering geheers.

Hoe het julle die venue gekies?


Aangesien ek, Jana, in Oudtshoorn gebore en getoë is en my ouers steeds daar woonagtig is, het my Pa genoem dat dit vir hom baie spesiaal sal wees as ons in Oudtshoorn trou.  Ons het toe vir ‘n naweek deurgery van Hermanus af en na ‘n paar venues daar gaan kyk en het dadelik op De Opstal besluit vanweë die pragtige omgewing en tuin asook die eienaar, Matilda de Bod, se entoesiastiese persoonlikheid.

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


Ons hou van simplisties, maar stylvolle en tydlose dekor.  Rou hout elemente, wit, baie groenigheid en ‘n tikkie dowwe goud was dus die perfekte pasmaats vir ons dekor.  Die hele groenigheid tema was ook hoogmode toe ons verloof geraak het en het perfek teen die Karoo agtergrond afgespeel.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Dit was ‘n onverbeterlike dag en daar is niks wat ons sou wou verander nie. Die dag het net te vinnig verbygegaan!

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons was so bevoorreg dat ons ouers die troue geborg het en hulle het ‘n bedrag van sowat R250 000 genoem.  Excel “sigblaaie” was te alle tye byderhand om tred te hou met die kostes.  Ons het vooraf besluit wat vir ons belangrike elemente is en daarop spandeer eerder as om enigiets op ‘n afgewaterde manier aan te bied.  Ons het bv. nie vir elke gas ‘n spyskaart gedruk of vir ons gaste presentjies gegee nie, maar ons het Barista’s gehad en goue eetgerei in gehuur.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Geniet elke oomblik van die beplanningsproses, want jy kry net een keer in jou lewe kans om só spesiale partytjie te beplan.  Besluit wat vir julle belangrik is en moenie mense probeer beïndruk of julself met ander vergelyk nie.  Wees eie aan julself.

Vertel ons meer van jul Wittebrood.


Ons was by Victoria Beachcomber Hotel & Spa in Mauritius op aanbeveling van ‘n reisagent.  Ons kan nou verstaan waarom Mauritius so ‘n gewilde wittebrood bestemming is!  Dit was die lekkerste vakansie ooit (en die vlug is ook baie kort)!  Die mense was baie vriendelik en hulpvaardig, daar was kos en drank in oorvloed en daar is ook soveel aktiwiteite (as jy regtig iets anders wil doen as om skemerkelkies te drink en in die son te lê terwyl jy oor die see uitkyk).  Ons sal wel aanbeveel om die “alles ingesluit” pakkette te vat anders kan dit nogal duur raak.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: