Julian & Jacqueline se straat styl tema verlowing

Julian en Jacqueline wou ‘n onkonvensionele fotosessie gehad het wat die teenoorgestelde van hul formele troue sou wees.  Daarom het hulle besluit op hierdie straat styl geïnspireerde fotosessie by 012Central.  Die foto’s lyk vars, jonk en wys dat jy nie die gewone tema’s altyd hoef te gebruik nie.  Die grimering was pragtig gedoen om te pas by hierdie styl deur Styled Productions.  Hul gelukkkige oomblikke is perfek vasgevang deur The Girl With The Camera.

Lees onder hoe hierdie paartjie gelukkig genoeg was om die fotosessie te wen asook hul mooi verlowings storie en al die moeite wat Julian gedoen het om Jacqueline te verras.

Hoe het julle ontmoet en watter eienskappe trek jul aan tot mekaar?


Julian was van skooltyd af vriende met my tweeling boetie. Ek het daarom altyd vir Julian gesien by partytjies en so aan, maar hy was mos maar my boetie sê pel….so ek het nie veel van die idee van lang, blas aantreklike outjie gemaak wanneer ek hom gesien het nie. Na baie jare van saam kuier het ons padjies op die ou einde gekruis. Om meer spesifiek te wees het ons op ‘n dag net bietjie meer vir mekaar geglimlag, ekstra langer gesels, eintlik vir ure aan een…. Die begin van baie lang ure se gesels en drome deel!

Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?


Die idee en inspirasie agter ons absolute koel fotosessie saam met Marissa was ‘n straat styl geïnspireerde tema.  Ons troue is formeel, iets wat ons nog altyd wou hê en daarom wou ons die teenoorgestelde gevoel skep met die fotosessie.   Ek het ingeskryf vir ‘n Facebook kompetisie.  So waar as wragtig is ons so geseënd om die droom-prys gewen!  012Central is asemrowende venue met soveel karakter en geskiedenis en daarom het ons die tema gekies om te pas by 012Central.  Dit was die lekkerste dag en so ongelooflik kosbaar om ons liefde op so spesiale manier in ons albei se geboortestad vas te lê!

Vertel ons meer van julle verlowing?


Ons het op ons vyf jaar herdenking verloof geraak.  Dit was absoluut perfek. Ons was eintlik op pad saam met vriende, of dit is wat ek gedink het.  Na ‘n klomp draaie het ons uiteindelik by die Voortrekker Monument aangekom.  Ons het rond gery en op die ‘n stadium by ‘n perdestalle stilgehou om na die perde te kyk.  Die vroutjie (wat blykbaar deel was van die hele plan) het gesê dat as ons wil, ons maar kan perdry.  Omdat ek baie lief vir perdry is het ons dadelik ja gesê!  So is ons op teen die koppie en kyk uit oor die hele stad tot waar die oog kan sien.  Met ons aankom bo-op Fort Skanskop maak ons toe die perde vas en gaan verken.  Toe ek in die hartjie van die fort kom, is daar n bloedrooi tafeldoek op die pragtig klipmuur met vonkelwyn, blomme en lekkernye.  Volgens my is dit toe nog alles deel van die vyf jaar herdenking-verrassing.  Ons begin toe lekker gesels.

Die gesprek maak toe ‘n draai na ‘n meer ernstige gesprek.  Julian het alles genoem wat vir hom spesiaal is en ‘n hele lang praatjie gehad wat my totaal uit die veld geslaan het.  Hy het alles genoem wat ek nie eers besef het hy kan nog onthou nie!  Die volgende oomblik toe sak hy op sy knieg en vra vir my of ek asseblief met hom sal trou.  Ek was totaal en al stomgeslaan oor alles wat sopas gebeur het.  Die klein besonderhede, die beplanning en die ongelooflike woorde.  Dit was die beste beste en grootste oomblik in my lewe.  Die kersie op die koek – hy het die hele storie laat afneem ook!

Vertel ons wat is jul droom troue?


Ons droomtroue is op ons familieplaas saam met geliefdes op ‘n pragtig somersaand. Baie baie liggies, pragtige blomme, lekker kos en n warm samesyn.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: