Jaco & Suzanne se boere troue

Jaco en Suzanne het baie hard gewerk om hul fotograaf, Love of Light het die end resultaat en herinneringe vas gevang op kamera.  Ons by Mooi Troues het al vele selfdoen plaas troues gedeel, maar wat die troue besonders maak is dat Jaco en Suzanne se troue tussen die rou rotse gehou was en die fotos van die mooi Aalwyn bome waarby die paartjie in hul fotosessie staan.  Ons glo nie jy kan meer Suid-Afrikaanse boere troue as die kry nie.  Geniet die foto’s.


Vertel ons van jul eerste ontmoeting?

Ons het deur ‘n familie-vriend ontmoet en sal hom beslis ewig dankbaar wees dat hy ons aan mekaar voorgestel het! Jaco was dadelik verlief, maar ek was net bekommerd oor wat my familie van die man op die motorfiets met sy lang hare sal dink! (Toe was sy hare nog baie lank.) Tog het hy nie moed opgegee nie! Op 17 Maart 2012 het hy my uitgevra en op 17 Februarie 2015 het ons in Mauritius verloof geraak! Teen die tyd wou ek geen ander man aan my sy hê nie! Antjie Krog het dit perfek opgesom:

“En as ek die dag my hand in joune sit,

sal ek my padkaarte bêre met die wete:

my reise opsoek na jou is nou verby”

Ons altwee het geweet ons het ons sielsgenoot gevind waarmee ons die res van ons lewe saam wil spandeer.
Jaco se mooi dimpels het my beslis na hom aangetrek, maar min het ek geweet van die mooi man wat agter daardie dimpels skuil. Hy is ‘n goedhartige, liefdevolle man en sal nooit iets lelik van sy medemens sê nie. Hy het ‘n opgewekte geaardheid wat sommer gou jou dag kan beter maak. Hy is ook hardwerkend met baie ambisie.

My eienskappe wat my na Suzanne aangetrek het is haar goeie waardes en rustigheid. Sy was ook die eerste meisie wat waarlik vir my net so baie omgegee het soos ek vir haar. Sy het ook ‘n baie mooi persoonlikheid en is ‘n nederige mens.



Wat was die inspirasie vir die styl van die troue?

Ek kom van ‘n skaapplaas in die Namakwaland en wou vandat ek ‘n dogtertjie was graag daar trou.  Die prentjie in my kop was ‘n wit rok met net die droë (dit reën min daar) landskappe en kokerbome rondom my.  Dit is ook presies hoe ons troue was en dit was perfek.  Dit was ‘n mengsel van ‘n vintage, rustieke styl met ‘n tikkie modern.  Ons logo op al die detail was ‘n kokerboom en skapie wat eie aan daardie wêreld is.  Die tafel-name was verskillende kampe van ons plaas.



Was julle met wittebrood?

Ons wittebrood was ‘n een keer ‘n lewe ondervinding en iets wat mens vir niemand kan beskryf nie.  Ek en Jaco is lief vir scuba, daarom het ons besluit ons wil na die Maldives vir ons wittebrood gegaan.  Dit was een van die lekkerste ondervindinge van my lewe. ‘n Wittebrood dadelik na die troue is definitief ‘n moet, want mens het die ruskans nodig, veral as jy jou troue self gedoen het.  Dit was ook een van ons beste duik-ervarings.  Die eiland waar ons gebly het se naam was Veligandu Island.  Dit het werklik gevoel of ek en Jaco op ‘n ander planeet was!



Wat sou julle verander het as julle kon?

Ons het alles self by ons troue gedoen en hard gewerk, maar op die einde was alles perfek soos ons dit wou gehad het.



Advies wat julle aan ander paartjies kan gee?

Ons raad aan ander paartjies is om eers ‘n rusdag na die troue te neem en nie dadelik op wittebrood te gaan nie, veral as jy moet ver vlieg.


Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

  • Seremonie Venue: Brakkie se Veldkombuis
  • Onthaal Venue: Stoor op familielid se plaas
  • Fotograwe:  Love of Light
  • Ontwerp + drukwerk: Zane Woudtberg
  • Blomme: Bunches for Africa 
  • Decor: Classy Hire (Paarl) en Dine Decor (Worcester)
  • Bruid se trourok: Elizabeth Stockenstrom
  • Bruid se skoene: Lilly Blue Shoes
  • Bruid se grimering: Chantelle Matthee (familielid)
  • Troukoek: Christine du Plessis