Petrus en Francois se interaktiewe troue in die Durbanville wynlande was ’n pragtige bewys in hoe verwagte norme met speelse moderniteit herskryf kan word. Die paartjie het hul groot dag tussen die wingerde gevier met ’n duidelike visie van warmte, intimiteit en ’n tikkie verrassing wat alles verweef was in die ryk, aardse skakerings van winter en herfs.
Tussen die wingerde het die venue die perfekte agtergrond gebied vir hul unieke styl. Die dekor was ’n fyn gebalanseerde samestelling van kerse en blomme, doelbewus gekies om ’n gesellige, kuier atmosfeer te skep. Die seremonie self was besonder interaktief met gaste wat geloftes aan die paartjie afgelê het. Ook is die ringe onder sitplekke weggesteek wat beteken het dat enige gelukkige gas skielik as “ringdraer” kon optree.
Wat hul uitrustings betref, het Petrus en Francois hul gaste uitgedaag met die tema “Out-do The Grooms”, terwyl hulle self pakke in Sage Green en Stone skakerings gedra het.
Petrus en Francois se troue was meer as net ’n seremonie, dit was ’n opregte samesyn van vriende en familie. Elke detail, van die wisselende hoogtes van die kerse tot die speelse, interaktiewe oomblikke, het hul reis saam én hul nuwe begin gevier.
Beplan jy jou eie droomtroue? Besoek Mooi Troues se aanlyn trougids vir die beste diensverskaffers en venues om jou visie werklik tot lewe te bring.
Rol af om meer van Petrus en Francois se interaktiewe troue in die Durbanville wynlande te sien.

Paartjie se Uitrustings:
Ons seremonie pakke het ons gehuur en was in Sage Green en Stone. Die tema vir die troue was “Out-do The Grooms”. Om seker te maak ons word nie te veel out-do nie, het ons besluit om net ná ons eerste dans ’n suit change te doen. Die pakke was skakerings van blou en is gemaak deur The Tailorman in Groen Punt. Dit het perfek saam gepas het met die tema en die kleure van die troue.
Die idee van die suit change het nie net bygedra tot die visuele styl van die dag nie, maar het ook ’n bietjie speelsheid en energie by die onthaal ingebring. Dit het ons toegelaat om beide gemaklik en elegant te voel en terselfdertyd ’n herinnering te skep dat ons dag vol verrassings en persoonlike aanslag sou wees.

Paartjie se Liefdesreis:
Dit was stresvol! Ons het gepraat oor trou en verloof raak, maar Francois het dit baie duidelik gemaak dat dit my keuse moes wees waar en wanneer. Ons moes ook eers ʼn jaar saam wees en ten minste ses maande saambly om seker te maak dat ons mekaar nie sou malmaak nie.
Ek het toe besluit op die 19de Oktober. Ons het saam met vriende daardie dag op die trein na die Elgin-mark gegaan. Nodeloos om te sê, daar was soveel goed wat verkeerd gegaan het. Die grootste probleem was seker die een ná die ander met die trein. Die rit wat veronderstel was om twee ure te neem, het uiteindelik vier ure geneem, wat ons tyd by die mark beperk het.
Gelukkig was ons vriende in op die plan. Twee van hulle het geskarrel om blomme te kry, wat Francois gesê het lyk soos onkruid, en twee ander het na ʼn romantiese plekkie gaan soek. Die romantiese plekkie was toe tussen die appel-oorde.
Ek het toe, met die hulp van Carl Wastie, die wol ook oor Francois se oë getrek. Ek het vir hom gesê dat hy, as deel van ʼn contentplan vir die show, na ʼn video moes kyk oor wat ons mede-helftes vir ons beteken. Die video was vol van sy gunsteling sangers, akteurs en natuurlik sy ouers en sussie. Dit het geëindig met Tarryn Lamb wat vir hom gesê het dat sy weet sy sing van Vier Woorde, maar dat ek vyf woorde gehad het wat ek hom wou vra.
Nog voordat ek ordentlik vir hom kon vra om te trou, het hy “ja” gesê. Ek moet sê, ek is tradisioneel, so ek het sy pa, ma en sussie eers gevra vir toestemming voordat ek hom gevra het om te trou.

Verloof- en Trouringe:
Ons het snaaks genoeg, toe ons begin praat oor trou, een aand saam in die bed gelê en na ringe gekyk. Elkeen van ons het ons eie unieke styl en ons het toe saam op ons ringe besluit. Beide ringe het hout in, wat vir ons die saamwees as paartjie simboliseer en ons herinner dat ons mekaar se anker is en mekaar regop en sterk hou, net soos die wortels van ’n boom.
Met die troupante het ons geweet dat ons ook wou hê dat dit ons saamwees as paartjie moes simboliseer. Francois wou graag iets uniek hê en het toe besluit op die goue pant met die kenmerkende “hammered look”. Om die eenheid en saamwees van ons te behou, het ek toe ’n pant gekies wat swart en goud was. So het ons getrou gebly aan wie ons is as individue, maar ook as ’n paartjie. Die gravering in die ringe was ook persoonlik.
Francois het in myne gesit: “My Anchor, My Poops” – vir die anker wat ek in sy lewe is en die ander is sy bynaam/liefdesnaam vir my.
Myne in Francois se ring was: “Under The Same Sky” – dit was die tema van ons verhouding. Francois het in Gansbaai onderwys gegee en as die verlange te erg geword het, kon ons altyd na die sterre kyk en weet dat ons onder dieselfde hemelruim was.

Trou Dekor en Styl:
Venue Keuse:
Ons het na verskeie venues gekyk, maar op die ou end van die dag was Goedgeleven die perfekte alles-in-een oplossing vir ons. Van dekor en blomme tot kos, DJ, kroeg en selfs akkommodasie (Alo Akkommodasie) reg langsaan. Die venue was prentjie mooi en met die intrapslag het Charmaine, die eienaar, ons onmiddellik tuis laat voel. Sy het ons hande vasgehou deur elke stap van die beplanning en uitvoering van ons spesiale dag.
Kleurskema en tafeldekor:
Die kleurskema was geïnspireer deur die ryk, sagte skakerings van winter en herfs. Ons wou hê dit moes die gevoel van warmte en liefde weerspieël, amper soos die seisoene wat van een na die ander ’n nuwe begin bring. Dit is presies wat ons op daardie dag ervaar het. Ek en Francois het geweet wat ons wou hê en was baie spesifiek oor die “look and feel” van die tafels. Na verskeie sessies van mix en match het ons uiteindelik besluit op die skakerings en uitleg wat die tafels op ons groot dag versier het, perfek in lyn met die atmosfeer wat ons wou skep.
Fyn besonderhede:
Die klein, fyn besonderhede – die hoogte van die kerse, die hoeveelheid lig, selfs die hoogte van die blomrangskikkings – is sorgvuldig beplan om ’n gevoel van intimiteit te skep sonder om die samehorigheid van die gaste te belemmer. Jy moes voel jy is by ’n troue, maar terselfdertyd by ’n gemaklike, liefdevolle kuier saam jou beste vriende.
Interaktiewe seremonie:
Ons het ook besluit op ’n interaktiewe seremonie, sodat almal betrokke kon wees. Onder andere het ons gaste die geleentheid gegee om geloftes aan ons af te lê. Ons troupante was ook slim weggesteek onder sitplekke in die kapel. Omdat ons nie ’n streng volgorde wou hê nie en nie iemand wou uitsluit nie, het dit beteken dat enige van ons gaste die rol van “ringbearer” kon vervul. Dit het ’n speelse en liefdevolle energie aan die seremonie gegee.

Trou Begroting en Beplanning:
Petrus en Francois het hul troue oor nege maande beplan vir 70 gaste, met ’n totale begroting van R160 000.

- Fotograaf: Bow & Tie Photos | Kontak
- Venue: Goedgeleven | Kontak
- Blomme: Goedgeleven | Kontak
- Paartjie se Uitrustings: Smart Men Suit Hire | Kontak
- Dekor: Goedgeleven| Kontak
- Gaste Geskenke: Martinus van Tee Illustration| Kontak
- Huwelik kontrak: Adriaans Attorneys| Kontak
- Huweliksbevestiger: Carl Wastie
- Kroegdiens: Goedgeleven| Kontak
- Musiek: Goedgeleven| Kontak
- Platejoggie: Wilco van Wyk| Kontak
- Paartjie se verblyf: Goedgeleven| Kontak
- Trouringe: Orbit Rings| Kontak
- Skoene: Veldskoen Shoes| Kontak
- Skryfbehoeftes: KissnBliss| Kontak
- Spyseniering: Goedgeleven| Kontak
- Troukoek: Firdaus’s Frosty Bites| Kontak
- Gaste Koekies: Candypants Bakes| Kontak
- Druk van menus, welkom bord en tafel uitleg: Canvas & More| Kontak
- Klank Gasteboek: Chatterbox| Kontak
- Onthaal Pakke: The Tailorman| Kontak
- Wittebrood Plek: Old Mac Daddy| Kontak

