Jaco en Elisna se verrassing verlowing op die Knysna-meer vertel die pragtige storie van ’n eenvoudige “blind date” pizza-aand wat ontvou het in ’n diep en standvastige liefde. Ná maande se geheime beplanning het Jaco uiteindelik die groot oomblik laat afspeel op die water. Omring deur die asemrowende natuurskoon van die Tuinroete, het hy die groot vraag gevra terwyl die son agter die ikoniese Knysna-koppe gesak het.
Die verlowing was soos ’n toneel uit ’n romantiese fliek. Elisna, heeltemal onbewus daarvan dat sy haar eie verrassing verlowing help beplan het, was totaal oorweldig toe die oomblik op die boot ontvou. Die ring is ’n unieke simbool van hul verhouding met ’n fyn roosgoud-ontwerp wat Jaco in die geheim saam met ’n juweliersontwerper en Elisna se sussie beplan het. Die kontras tussen die delikate detail en die stewige steen weerspieël perfek die balans wat hulle in mekaar vind.
Jaco en Elisna beplan om op Valentynsnaweek 2027 te trou. Die maand het besondere betekenis vir hulle, aangesien dit juis in Februarie was toe Jaco besef het hy is smoorverlief.
Beplan jy jou eie droom verlowing? Besoek Mooi Troues se aanlyn trougids vir die beste fotograwe en juweliers om jou eie sprokie vas te vang.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Jaco:
Ek het ’n woonstel gehuur by ’n dame wat onwetend aan my, ’n familie vriend van Elisna se gesin is.
Op ’n tyd in 2023 het ek eendag ’n draai gemaak by die praktyk waar sy werk om gou op te vang. Tydens die catch-up het sy my vertel van ’n pragtige, plat op die aarde rooikop nooi aan wie sy my wil voorstel. ’n Week later het die familie vriendin van Elisna my genooi vir ’n pizza aand saam haar en haar man.
Toe ek by hulle huis arriveer vir die “pizza-aand” het Elisna terselfdertyd langs my parkeer. Dit draai toe uit dat dit nie eintlik ’n “pizza-aand” was nie, maar meer van ’n blind date wat die oorsprong van ons journey saam sou wees. Ons het mekaar leer ken oor die volgende jaar en ek het haar 26 Julie 2024 my nooi gemaak. Ná ʼn jaar en ʼn half saam het ons geweet ons kan nie sonder mekaar wees nie. So het ek vir 10 maande beplan aan die dag wat ek gehoop het vir Elisna spesiaal sou wees. 22 September 2025 het ek haar gevra om my vrou te word.

Die groot vraag:
Jaco:
Ons was vir ’n langnaweek saam met my gesin Knysna toe waar hulle aan die Karoo to Coast fietswedren deelgeneem het. Ek en Elisna dit meer in ’n verkentog van die mooie Tuinroete verander het vir onsself.
Paar maande voor die Knysna wegbreek het ek ’n idee van ’n romantiese bootrit op die Knysna meer voorgestel en die pap so bietjie dikker aangemaak deur ’n fotosessie vir Elisna aan te raai. Dit het nie baie oortuig werk gevat nie. Elisna het toe eintlik minwetend my help beplan deur die fotograaf in die Tuinroete vir ons te reël. Ek wou dit graag stylvol en intiem hou. My ouers en haar gesin was bewus van my planne gewees. Ek moes eers my idee met haar ma deel voordat sy ingestem het dat ek haar dogter mag vra om te trou. Ek het die oom sommer maklik met lekker geelvet biltong “omgekoop”.
Die dag van die verlowing was die wêreld grys met mis en reën. Ek het heel oggend skiet gebedjies opgesê met die hoop dat die weer sal opklaar. Ons het 5uur die middag op die bootrit geklim en was die heeltyd omring deur die natuurlike skoonheid van die Tuinroete. Ons het elke oomblik van die mooie Knysna meer ingeneem. Met die sagte lig en ’n ongelooflike sonsak het ons begin foto’s neem en net elke oomblik geniet.
Tussen die berge, bos en see. In die middel van die Knysna meer met Knysna Heads agter ons en die mooiste sonsak voor ons, het ek skelm die ring uit my sak gehaal om Elisna te verras op my knieg. Die Kranse het getuige gestaan toe ek haar hart in ruil vir myne vra!
Elisna:
Ek was oorweldig en dit het gevoel soos iets uit ’n romantiese fliek. Dit was meer as wat ek ooit kon droom. Die maklikste JA nog ooit!!!

Hoekom ons mekaar liefhet:
Elisna:
Ek hou van hoe hy altyd die perfekte balans bring tussen lekker lag en laf wees en ook ernstig kan wees. Sy skerp humorsin en grappies maak elke dag net beter. Hy is intelligent, het deursettingsvermoë en is altyd homself, ongeag waar ons is. Ek is mal oor sy unieke manier van liefde wys en hoe veilig hy my laat voel. Hy is my veilige hawe, my klankbord, verstaan sonder woorde, my lekkerste lag en my staatmaker. Dan is hy natuurlik ook “tall, dark and handsome”.
Jaco:
Een van die eerste “groen vlaggies” wat ek in Elisna waargeneem het was ‘n ongelooflike sterk geloof fondasie en haar dryf om te groei as ‘n individu, met die Here as haar leiding. Sy is vir my ‘n rolmodel as dit kom by hoe ‘n mens jou verhouding met die Here moet benader.
Sy is geseënd met ambisie en dissipline wat ek al selde teëgekom het in my leeftyd. Haar woord is haar woord en integriteit is vir haar verskriklik belangrik. Jy kan haar altyd deur ‘n ring trek en ek hou van hoe sy elke dag haar uitrustings “colour code”.
Ek dink sy is ‘n bitter aantreklike vrou en dat ek gelukkig kan wees dat ons paaie gekruis het. Sy het die wêreld se geduld en huiwer nie ‘n enkele oomblik om iemand te help nie; en dan sal sy deeglik seker maak dat die persoon wel reggekom het. Daar is n vrolikheid wat opkom in mense as hulle tyd spandeer saam met Elisna en sy het hierdie manier om die storm stil te maak as die lewe begin wild raak. Ek kan werklik sê dat sy vrede in my lewe bring.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Elisna:
Ons trou Valentyns-naweek 2027 . Februarie is vir ons n spesiale maand want dit was rondom Valentynsdag toe Jaco besef hy is besig om verlief te raak. Dit gee ons ook genoeg tyd om te beplan en te spaar vir ons droomdag.

Die verloofring:
Jaco:
Elisna het ’n baie goeie begrip gehad van die ring wat sy eendag graag sou wou hê. Sy het oor die afgelope jaar ring idees met haar sussie gedeel. Min wetende dat dit eintlik op die regte tyd was, want in die tussentyd was ek besig met idees vir ’n ring . Ek het met haar sussie gekonkel en sy het my gehelp met van die voorbeelde wat Elisna al vir haar gestuur het oor die jare. Ek het toe met die ring ontwerpe gespeel en met die hulp van ’n ring ontwerper op ’n fyn en unieke Rose Gold ontwerp besluit.
Elisna:
Jaco het my wildste verwagtinge oortref met my ring. Elke keer wat ek na my ring kyk raak ek nostalgies oor die gevoel wat ek ervaar het toe ek besef dis ek en hy vir die res van ons lewe. Ek hou van die kontras tussen die fyn details en die grootte van die steen, veral as mens die simboliek daarvan deurtrek na my en Jaco. Ek is aan die kleiner en fyn kant en Jaco is nou weer die teenoorgestelde van klein en fyn. Net soos die ring, hou ons mekaar in balans.

Rede vir die verlowing fotosessie:
Jaco:
Dit was nie deel van die beplanning gewees om dit spesifiek ‘n verlowings fotosessie te maak nie. Elisna het ‘n groot voorliefde vir foto’s en die omgewing het ‘n unieke geleentheid aangebied om ‘n meer stylvolle afronding in te werk. Paar maande voor die Kynsna wegbreek het ek ’n idee van ’n romantiese bootrit op die Knysna meer voorgestel en die pap so bietjie dikker aangemaak deur ’n fotosessie vir Elisna aan te raai met die idee in my kop dat ek haar tydens die fotosessie gaan vra om te trou. Dit was vir ons belangrik om die oomblik vas te vang.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Die Knysna-meer is vir ons ’n plek waar natuur en rustigheid saamvloei. ’n Wêreld van sagte golwe, glinsterende water en ’n atmosfeer wat amper magies voel. Knysna het daardie warm lig teen sonsondergang waarvoor ons baie lief is; sag, romanties en perfek vir dromerige, natuurlike foto’s. Met die Knysna-koppe in die agtergrond en die stilte van die water rondom jou, vang die foto’s die balans tussen mens en natuur. Dit voel amper soos ’n toneel uit ’n film.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Hierdie tyd voel soos ’n kosbare geleentheid om nader aan mekaar te groei, net nog meer herinneringe te bou en saam ’n mooi toekoms te vorm. Ons wil graag die beplanning van ons groot dag geniet en nie net op die groot dag fokus nie, maar ook op die reis daarheen.

Visie vir droomtroue:
Ons droomtroue voel soos ’n liefdesverhaal wat elegant, warm en natuurlik asemhaal. Die gevoel wat ons graag wil skep is intiem, stylvol en vol hart. Elke detail vertel van wie ons is: twee mense wat hou van mooi goed, maar nog meer van mekaar.
Ons droom van ’n asemrowende seremonie onder die oop lug, omring deur natuur, sagte musiek en mense wat regtig saak maak. ‘n Viering wat gemaklik en elegant voel, waar almal kan asemhaal, lag, dans en net wees. ’n Liefde wat sentraal staan, nie net in die seremonie nie, maar in elke oomblik; van die geloftes tot die eerste dans tot die klein oomblikke tussenin wat net ons twee sien.
Ons droomtroue is nie net ’n dag nie…
Dis ’n gevoel.
’n Storie.
’n Begin van alles wat mooi is wat nog kom.

- Fotograaf: Liezel Volschenk Photography | Kontak
- Fotosessie Ligging: Knysna Meer
- Verloofring: Déonne le Roux The Designer Jeweller| Kontak

