Brendan & Chanel se Spontane Verlowing Fotosessie in die Natuur

Brendan en Chanel se spontane verlowing fotosessie in die natuur vang die essensie vas van ’n liefdesverhaal wat vier jaar gelede op ’n onverwagse aandjie begin het. Ná jare van geduld, groei en gedeelde drome het Brendan uiteindelik die groot vraag gevra in ’n oomblik wat reguit uit ’n sprokie gevoel het.

Brendan het nog altyd gesê hy sal Chanel vra om te trou wanneer dit tegelyk reën én die son skyn, ’n ware “Jakkals trou met Wolf se vrou”-oomblik. Tydens ’n Paasnaweek in Hermanus het die natuur presies dit laat gebeur. Tussen die wynvate by Creation het hy op een knie gegaan en die ja-woord gevra met ’n ring wat hy self ontwerp het.

Vir hierdie spesiale fotosessie was daar een ononderhandelbaar vereiste dat hul “honde-kinders” moes deel wees van die herinneringe. In die rustigheid van die natuur het Snippets Photography & Design die verlowingsessie afgeneem. Sasha-Lee het die paartjie se senuwees gekalmeer en hul gemaklike, spontane liefde, asook die besondere band met hul viervoeters, pragtig vasgevang.

Chanel vertel dat Brendan haar geleer het om die nou te waardeer, terwyl hy haar glimlag beskryf as die lig in sy wêreld. Die paartjie beplan nou ’n September-troue en geniet elke oomblik van hul reis na die kansel.

Beplan jy jou eie spesiale oomblik? Rol af en geniet die pragtige foto’s geneem deur Snippets Photography & Design.

Meer oor Snippets Photography & Design


Ontmoet Alex en Sasha, die man-en-vrou span agter Snippets Photography & Design. Ons vang jou kosbaarste oomblikke vas met ’n natuurlike en elegante styl, van lag en trane tot spontane liefdevolle oomblikke. Alex is jou videograaf, Sasha jou fotograaf, saam bied ons twee perspektiewe met een visie: jou storie regtig vertel. Of dit jou troudag, mylpaal of intieme oomblikke is, ons is stil, doelbewus en gereed om herinneringe te skep wat jy vir altyd sal koester.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons ontmoeting was heel onverwags. ’n Spontane aandjie uit vir cocktails het verander toe my vriendin se kêrel en sy vriende, insluitend Brendan, aangesluit het. Hy het laat opgedaag ná gholf, nog in sy gholfklere en nét daar het hy my oog gevang. Ons het dadelik gemaklik gesels en besef hoe baie ons in gemeen het. Al was ek nie reg vir ’n verhouding nie, was Brendan elke dag geduldig en teenwoordig. Ná ses maande het ek uiteindelik oopgemaak. Vier jaar later het hy my gevra om vir altyd syne te wees.

Die groot vraag:


Die verlowing was die grootste verrassing. Brendan het altyd gesê hy sal my vra wanneer dit reën én die son skyn — ’n regte “Jakkals trou met Wolf se Vrou”-oomblik. Oor Paasnaweek in Hermanus, op pad na Creation, het dit presies so begin reën met son wat deur die wolke breek. Sy oorspronklike plan in die wingerde moes verander en ons het toe ’n toer deur die wynkelder gedoen. Toe die laaste deur oopgaan, pragtig voorberei, het ek besef wat gebeur. Dit was ongelooflik spesiaal. Ná ons intieme oomblik het ons die verlowing saam met sy familie gaan vier.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Brendan het die wêreld se geduld en vul my perfek aan, want ek kan soms te vinnig beweeg en wil alles dadelik gedoen hê. Hy het my geleer om terug te staan en die “nou” te geniet. Sy groot hart vir die mense rondom hom. En sy liefde vir sy familie het my dadelik laat besef dat hy my altyd met dieselfde sorg en respek sal behandel. Hy is ook die beste danser en as ons dans en ek in sy arms is, voel ek die veiligste

Brendan is lief vir my liefde vir diere en kinders, vir die vuur in my oë wanneer ek vasbeslote is om iets gedoen te kry en bowenal vir my vreugde. Sy woorde aan my is: “Jou glimlag is die wonderlikste ding in my lewe en verhelder my wêreld elke dag.”

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons beplan om ongeveer ’n jaar en vyf maande verloof te wees voordat ons troudag aanbreek. Ons het besluit op ‘n September trou. Dit gee ons genoeg tyd om die dag rustig te beplan en elke deel van die reis saam te geniet.

Die verloofring:


Brendan ken my ongelooflik goed. Alhoewel ek vir hom ’n bietjie inspirasie gegee het, het hy die ring self saam met Poggenpoel Diamond Jewelers ontwerp. Die eindresultaat was ’n totale verrassing vir my en is nóg mooier as enigiets wat ek ooit sou kon voorstel. Elke detail voel persoonlik en perfek.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons het besluit om ’n verlowingsessie te doen om elke spesiale oomblik van ons verlowing vas te vang. Ons honde kinders was natuurlik deel van die fotosessie, want hulle is deel van ons lewe en liefde. Dit was ons eerste keer wat ons ’n fotosessie gedoen het. Ek was so senuweeagtig, maar Sasha-Lee van Snippets Photography & Design het ons so gemaklik laat voel en was wonderlik met ons honde. Die foto’s is vir ons om hierdie herinneringe te koester en ook om te gebruik vir ons trou uitnodigings.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons het geweet ons wou die foto’s in die natuur neem, op ’n plek waar ons ons honde kinders saam kon hê. Die doel was om ’n gemaklike, liefdevolle en spontane styl vas te vang wat ons verhouding en ons liefde vir ons dierbare viervoetige familie weerspieël.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: