Ben & Elné se Kalm & Natuurlike Troue in Kimberley

Ben en Elné se troue in Kimberley was ’n suiwer weerspieëling van kalmte en doelbewuste eenvoud. Daar is iets besonders aan ’n troue wat nie hoef te skree om aandag te trek nie, maar eerder elegansie sagkens fluister. Met ’n visie van skoon lyne en ’n organiese atmosfeer het dié paartjie ’n viering geskep wat die natuurlike skoonheid van hul omgewing opreg eer.

Die kleurskema was ’n huldeblyk aan die natuur, met skoon wit en vars groen as fokuspunte. Elné se visie was om ’n ruimte te skep wat vreedsaam, tydloos en onmiskenbaar hulle voel. Wit tafel linne en sagte wit kerse wat deur die aand geflikker het, het die toon vir ’n romantiese atmosfeer geskep. Agter die bruidstafel het feetjie liggies soos sterre geskitter, terwyl geweefde rottang lanterns wat van die plafon af gehang het, ’n subtiele natuurlike tekstuur bygevoeg het. In harmonie met die dekor het gaste in aardse kleure geklee gekom, wat verseker het dat die hele geselskap naatloos by die omgewing ingepas het.

Vir haar trourok het Elné iets tydloos in gedagte gehad. Ná ’n soektog sonder sukses het haar ma dié droom bewaarheid deur ’n rok te ontwerp wat delikaat en onderbeklemtoon was. Ten spyte van ’n skrikwekkende oomblik met die ritssluiter net voor die seremonie, het alles uiteindelik betyds perfek in plek geval.

Beplan jy jou eie droomtroue? Besoek Mooi Troues se aanlyn trougids vir die beste diensverskaffers en inspirasie om jou visie tot lewe te bring.

Rol af en geniet Ben en Elné se kalm en natuurlike troue in die Noord-Kaap.

 

Trourok:


Ek het myself altyd in iets eenvoudig, maar tydloos voorgestel. ’n Rok wat elegansie gefluister het eerder as om dit te skree. Ek het soveel rokke in winkels aangepas, maar niks het ooit heeltemal reg gevoel nie. Ek het geweet watter styl ek wou hê… maar “die een” het nie bestaan nie.

Deur dit alles was my ma langs my. Sy het my hand vasgehou, geduldig geluister en my aangemoedig. Toe, een aand, het sy my oorgenooi… en my verras met ’n rok wat sy self ontwerp het, net vir my. Dit was alles waarvan ek gedroom het! Delikaat, onderbeklemtoon en vol liefde. Die oomblik toe ek dit sien, het ek geweet: dit was my rok.

Natuurlik kom geen groot liefdesverhaal sonder ’n kinkel in die storielyn nie. Die middag voor die troue, toe ek die rok aantrek vir ’n laaste pas, het die ritssluiter heeltemal ingegee. Om 17:00 op ’n Vrydag het ek en my ma teruggehardloop dorp toe en deur een of ander wonderwerk ’n ontwerpswinkel oop gevind. Ons het dit net betyds reggemaak. Chaos? Ja. Maar ook ʼn oomblik wat ek nooit sal vergeet nie, ʼn herinnering dat liefde, soos die perfekte rok, soms ʼn bietjie inmekaarsteek verg.

Paartjie se Verlowing:


Ek, Elné, wou nooit ʼn groot gedoente gehad het met die verlowing nie. Ben het sy vriend gevra om ʼn tafel op die plaas, in die veld, te gaan dek met baie blomme en sjampanje. Die tafel is gedek op ʼn koppie, so as jy onder staan kan jy dit nie sien nie. Ben het my gevra dat ons die koppie moet uitklim, en die oomblik toe ons bo kom, het hy op sy knie geval en die groot vraag gevra. Die vraag het gevolg met ‘n lekker braai in die veld saam met vriende en familie. Meer perfek kon ek nie voor vra nie.

Verloof- en Trouringe:


My trouring is ʼn ovaal solitêre geset in witgoud. My troupant is ook gemaak van witgoud met fyn klein diamante tussen-in.

Ben is eenvoudig. Ek het vir hom n trouring gekry wat gemaak is van swart staal, maar hy verkies om eerder deur die dag sy groen rubber ring te dra.

Trou Dekor en Styl:


Met my kleurskema wou ek dit so natuurlik as moontlik hê. Groen en baie wit. Die gaste het ʼn versoek gehad dat hulle aardse kleure moet aanhê wat gaan inpas by die natuur. Vir die dekor het ek iets skoon, elegant en tydloos voorgestel, ʼn ruimte wat vreedsaam en vol liefde gevoel het. My hart was op alles wit gestel: wit tafellinne, wit blomme en sagte wit kerse wat saggies deur die aand geflikker het.

Agter ons tafel het feetjie liggies soos sterre geskitter en ʼn sagte gloed gewerp wat die nag in magie toegedraai het. Bo ons het geweefde lanterns van die plafon af gehang en ʼn subtiele natuurlike tekstuur gebring wat pragtig met die minimale, romantiese atmosfeer saamgesmelt het.

Dit was alles wat ek my voorgestel het, ʼn suiwer en grasieuse atmosfeer wat nie hoef te skree om opgemerk te word nie. Dit was kalm, gesofistikeerd en heeltemal ons.

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het hul troue oor ’n tydperk van een jaar beplan, met die hulp van die bruidegom se suster, Jeanine Beukes. Die viering het 140 gaste verwelkom en is met ’n begroting van R500 000 gerealiseer, wat sorgvuldig aangewend is om ’n elegante en goed deurdagte dag te skep.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: